Gebraaide soet brandrissiesteurgarnale

Genoeg vir 4

Bestanddele

12 tiersteurgarnale, ontaar, maar met die kop en stert behoue
50 ml soet brandrissiesous
25 ml sesamolie
25 ml sojasous
sout en peper na smaak
1 vars suurlemoen, in wiggies gesny
houtsosasiestokkies

METODE

1 Spoel die steurgarnale goed af, maar hou hulle heel.
2 Lê elke steurgarnaal plat op die werkoppervlak neer en druk ’n sosatiestokkie deur elkeen. Geur met sout en peper.
3 Meng die soet brandrissiesous, sesamolie en sojasous saam en bedruip die steurgarnale daarmee terwyl hulle oor baie warm kole of onder die oondrooster gebraai word. Moenie te lank braai nie – net tot gaar! Sit onmiddellik voor.

Wenk
Om dit makliker te maak om dié gereg te eet, kan die steurgarnale skoongemaak en met spekvleis toegedraai word voordat hulle op ’n sosatiestokkie geryg en gaargemaak word. Die kontrasterende smake van die soet brandrissie en souterige spekvleis is uitstekende pasmaats vir die garnale.

Opdienvoorstel
Sit voor saam met vars suurlemoenwiggies. Maak seker dat jy ’n bakkie louwarm water en weggooiservette het om jou hande aan af te vee nadat jy hierdie gebraaide lekkernye geniet het.

Het jy geweet?
Die benaming garnaal en steurgarnaal word dikwels omgeruil, aangesien hierdie skaaldiere baie gemeen het: Hulle het albei tien bene, kom in vars of sout water voor en leef op die bodem, of dit nou in die see of ’n rivier is. Hoewel hulle biologies verskil, kan jy enigeen van die twee gebruik – afhangende van grootte, geur en of hulle op ’n omgewingsverantwoordelike manier gevang of geteel is.

 

Website Security Test