Geestelike groei verg moeite en goeie gewoontes

271

Die ou is vies, want sy vriend het gesê as hy begin oefen, gaan hy gewig verloor, ’n six-pack kry, fris word en fiks wees.

“Dit werk nie,” sê hy toe hy die vriend weer raakloop. “Ek het nou al vyf keer gaan oefen en niks het gebeur nie.”

Dis dom om te dink dat daar resultate gaan wees na slegs ’n
paar keer. As jy regtig verandering wil sien, moet jy elke week ten
minste vyf keer oefen, vir ten minste vyf maande lank. En dis net
die begin…

Een of twee uitsonderings in ’n mens se leefstyl gaan geen impak hê nie. Maak nie saak hoeveel jy vir jouself daaroor jok nie. ’n Gewete wat gesus word, is geen teken van groei nie, inteendeel. Verandering is harde werk. As dit maklik was, sou almal dit mos doen!

Dis ook waar met betrekking tot geestelike groei. Dit het tyd gevat om te kom waar jy vandag is en geen korttermynpoginkie gaan iets daaraan verander nie.

Dit sou makliker gewees het as ons aan uitsonderings geken kon word, nie waar nie? Daardie uitsonderlike dinge wat ons al ’n keer of wat reggekry het wat ons so goed laat voel oor onsself.

Ek hoor dikwels hoe mense sê hulle het ook al ’n hawelose persoon probeer help of ’n kinderhuiskind saamgeneem op vakansie. Of dat hulle ook al op ’n uitreik was. Wie ken nie daardie tipiese “ook al”-uitsprake nie?

Dit is sekerlik nie totaal sinneloos nie, jy kon dalk iets geleer het of selfs vir iemand iets beteken het. Maar as dit bloot die uitsondering in jou lewe was, sê dit eintlik bitter min oor jou karakter en geestelike groei.

Jaco Strydom: Het mense in hierdie wêreld almal dieselfde waarde?

Jy het beter gewoontes nodig, nie beter uitsonderings nie. Die vraag is nie of ek al een of twee keer uitgereik het na iemand met ’n probleem nie. Eerder of ek geken word as iemand wat barmhartig is, iemand wat werklik omgee. Of liefde as ’n reël wen in my lewe.

Ons karakter word blootgelê deur ons gewoontes. Die dinge wat ons die meeste van die tyd doen. Al kry ons dit met uitsondering verkeerd. Dankie tog vir genade!

As ons dus wil verander, meer soos Jesus wil word, is die enigste manier om ons gewoontes te verander.

Geestelike groei gebeur wanneer ek slegte gewoontes afleer en goeie gewoontes aanleer. Wanneer die goeie dinge wat ek tot op hede met uitsondering gedoen het, die nuwe “normaal” in my lewe word.

Daar is ’n Engelse spreekwoord wat sê: “Successful people do consistently what other people do occasionally.”

Dit is soos wanneer ’n mens ’n boom plant. Dit is nie genoeg om die plantjie kompos, water en sonlig te gee nie. As jy wil hê dit moet groei en uiteindelik vrugte dra, sal jy dit vir ’n lang tyd moet doen. En dit moet aanhou doen, ook op dae wat dit nie vir jou lekker is nie.

JACO STRYDOM is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.

E-boek: Confessions oor kerkwees
“Dit sal jou uitdaag, roer en diep aan die dink sit” – Staphan Joubert
Koop aanlyn op Voelgoedboeke, kliek HIER.
R84 R119