[GELOOFSTERAPIE] Om dankbaar te wees vir wat jy het

Was dit nie vir Sy genade nie, sou jou lewe baie anders gelyk het. In plaas van kla, tel eerder jou seëninge, sê MADELEIN RUST.

Madelein RustDis amper asof ons die kuns van kla behoorlik bemeester het. Net vanoggend het ek ’n lysie klein jakkalsies vir my seun gestaan en aftel. Op my vingers.

Toe oorval ’n groot skaamte my. Sommige van die jakkalsies het die potensiaal gehad om aaklige gevolge te hê. God het egter Sy hand van bewaring oor ons gehou en ons beskerm teen enorme finansiële skade en selfs die dood.

Wat het jy wat jy nie uit genade ontvang het nie? Jou huis? Motor? Gesondheid? Die geld in jou bankrekening? Jou lewensmaat, kinders, talente, verstand, geleerdheid?

As ons ouer word, het die deursneemens gewoonlik iets om op trots te wees. Al het jy net jou kroos grootgekry tot op die punt dat hulle aangename mense is.

Maar hoeveel daarvan het jy self vermag?

Gestel God sou besluit om Hom heeltemal aan julle te onttrek – soos met Job. Wat sou van jou en julle gesin geword het?

Ek skat 99% van ons beleef tye van finansiële en emosionele swaarkry. Dis niks om oor skaam te wees nie. Inteendeel, dat ons (met genade) daardeur kon werk en heelhuids anderkant kon uitkom, is iets waarvan ons elke dag luidkeels kan getuig.

Een oggend begin ek in my swart boekie ’n lysie maak van al die probleme wat opgelos moes word.

Uiteindelik het ek maar die boekie toegemaak, diep onder die indruk van die drama waarin my lewe verval het.

Iets het egter vir my gesê om die boekie weer op te tel. Om op die agterste bladsy ’n lysie te maak van die dinge waarvoor ek dankbaar was.

In daardie stadium het ek nie werklik dankbaar oor enigiets gevoel nie. So, ek sou die takie sommer blitsvinnig afhandel. ’n Halfuur later was ek nog geesdriftig aan die skryf…

Deur daardie moeilike tye het my oggendroetine die opskryf van genadegawes in die swart boekie ingesluit.

Toe ons jare later verhuis, het ek weer op die boekie afgekom. Elke enkele probleem, selfs die “onoplosbares”, was opgelos. En in die meeste gevalle met die minimum insette van my af.

Ek het ook ’n nuwe vreugde ontdek. Om self genade uit te deel. ’n Glimlag en vriendelike woord vir ’n winkelassistent. Iets om te eet vir ’n honger mens. ’n Liefdevolle gebaar teenoor iemand wat dit nie verwag nie. Vergifnis, hoop, ’n kompliment.

Leer jou oë oophou vir al die gawes wat na jou kant toe kom.

’n Boek wat jóú lewe sal verander!

Volgende jaar jonger het my net weer laat besef 50 is die nuwe 30, maar dan wonder ek of ek weer 30 wil wees. Wat ’n passievolle geskenk gaan hierdie wees wat ek aan my familie en vriende kan gee.”
– Annette Kasselman

“Ons bly jonk in hart en siel en lyf as ons besluit om dit te doen – en die 50 uitdagings, sal nuttig te pas kom vir my, selfs in my 40’s, want dan is ek beslis (en nog meer) gereed om die lewe met nog meer woema en ‘waarde’ aan te pak.”
– Elma Postma

volgende jaar jonger Koop die boek VOLGENDE JAAR JONGER aanlyn by voelgoedboeke.co.za. R139 R199
Ook beskikbaar as ‘n e-boek R99 R139

 

[GELOOFSTERAPIE] Die dag toe Jesus sterf