Baklei reg sodat albei wen

 

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Mamma het 'n breuk nodig

In Mamma het ’n breek nodig maak Susan Coetzer vensters oop op ’n ma se wêreld. Op pittige wyse praat sy oor tye soos wanneer haar enigste kuiken saam met sy pêlle oorsee gaan vakansie hou en die lewenslesse wat sy by ’n vyfjarige dogtertjie kon leer.

Kliek HIER en laai hierdie e-boek GRATIS af.

lyn_3.png

Julle mag soms verskil, maar onthou, as jy elke keer die argument móét wen, gaan jy dalk later jou maat se liefde en respek verloor.

Voor die troue en as julle pasgetroud is, sien jou man dalk net jou sagte, speelse kant. Tot daardie eerste groot baklei in volle glorie tot uitbarsting kom. Dan sien hy ’n sy van jou wat hy nie voorheen geweet het bestaan nie!

Iets kleins soos die tandepastabuisie se proppie wat nie weer opgesit word nie, het al groot gevegte uitgelok. Of hy los sy klere op die badkamervloer. Jy het gewaarsku dat jy net klere sal was wat in die wasgoedmandjie is. Tot hy een oggend nie meer skoon onderklere het nie omdat hy nie jou dreigement ernstig opgeneem het nie!

Rusies is normaal en deel van ’n verhouding

Niemand hou daarvan om te baklei nie; tog is konflik nie noodwendig sleg nie. As jy jou woede oor die vuil wasgoed op die vloer opkrop, kan hierdie klein dingetjie groot skade aan julle verhouding aanrig. Kommunikasie oor iets wat jou pla, sál soms tot ’n rusie aanleiding gee. Die belangrikste is hóé jy jou sê gaan sê.

Jy hoef jou nie boeglam te skrik vir julle eerste konfrontasie en te dink dis nou ikabod met julle huwelik nie. Jy moet sommer vroeg al leer dat konflik deel van ’n verhouding is. Dis net nie realisties om te dink dat julle nooit oor enigiets sal vassit nie.

’n Traumatoloog van Johannesburg stem saam: “Jy mág sê as iets nie vir jou lekker is nie of jou seermaak. Vroue is baie geneig om die pleaser in die verhouding te wees. Daarom is die eerste baklei so ’n groot skok en voel ons alles is nou verby.”

[VIDEO] Gretha Wiid: Hoe vertrou ek weer na 'n affair?

Sien konflik as ’n kans om te groei

Konflik is wel negatief as julle elke keer ou koeie uit die sloot grawe en onophoudelik op dieselfde punt hamer. As julle mekaar se karakter en menswees begin aanval, raak dit ook afbrekend. Wees eerlik met mekaar oor wat pla, anders baklei julle oor dinge wat nie regtig die kwessie is nie en word die probleem nie opgelos nie.

Aanvaar konflik as deel van die groeiproses en raak gemaklik daarmee binne julle verhouding. Dit beteken natuurlik nie julle mag mekaar slegsê vir die geringste dingetjie nie. Daar ís gelukkig maniere om jou vrouwees en jou man se respek te behou, terwyl die probleem die aandag kry.

As elkeen ’n regverdige kans kry om sy of haar kant te stel en julle regtig na mekaar luister, kan dit selfs goed wees vir julle verhouding. So sal julle mekaar beter leer ken, wat weer kan keer dat julle vorentoe oor dieselfde dinge vassit.

As albei wen, dan wen die verhouding

Jy voel dalk jy is nie goed genoeg nie en nou probeer jy hom beheer en verander sodat jy beter kan voel oor jouself. Daarom is dit vir jou belangrik om elke argument te wen. In baie huwelike word elke konfliksituasie later ’n magstryd. Jy moet voor die tyd al aan jou eie emosionele bagasie en onsekerhede werk sodat jy jou selfbeeld kan opbou en versterk.

Dit help ook nie julle wil net die probleem oplos, maar sien nie die mens daaragter raak nie. Vra sommer reguit: “Wat is jou behoefte en hoe wil jy hê moet ek daaraan aandag gee?”

Soms is dit goed om eers af te koel voor julle ’n saak bespreek, maar moet nooit langer as ’n dag daaroor loop en tob nie. Ons oumas en oupas het nie verniet gesê ’n mens moenie kwaad gaan slaap nie.

Gelukkig bestaan die lewe nie net uit konflik nie. Ons sal waarskynlik ook minder daarmee sukkel as ons leer om die vredestye reg te gebruik. Jy hoef nie heeltyd vir hom geskenke aan te dra nie, solank jy gereeld wys hoeveel jy hom waardeer.

lyn_3.png

KOOP

Vroue Wat Glo Tydskrifboek

Finesse se Vroue Wat Glo Tydskrifboek bied jou al die inhoud om jou gees te detoks en weer op die regte dinge te leer fokus, met ’n luukse volkleurontwerp!
Eksklusief beskikbaar by uitgesoekte Pick n Pay-winkels, tot 30 Junie.
Ook beskikbaar aanlyn op Voelgoedwinkel.co.za. Kliek hier.

lyn_3.png

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.