Bly steeds “ek” binne die “ons”

Jakkie Louw

In ’n verhouding ontstaan daar dikwels ’n “paartjie-identiteit”. Ongelukkig verloor mense hulleself in die proses. Jakkie en Anel Louw vertel hoe hulle die balans behou.

 “Waarom op aarde eet ’n mens botter saam met peanut butter? Dit was een van Jakkie se vreemdhede waarmee ek te doen gehad het kort na ons troue,” vertel Anel.

“Vir my beteken die butter in peanut butter dat daar reeds botter op die brood is.”

“Dit is ook darem nou nie só vreemd nie,” meen Jakkie. “Baie mense wat ek ken, eet botter én grondboontjiebotter.”

Nie bedreig deur die verskille tussen hulle nie

Vir Jakkie en Anel is die manier waarop hulle grondboontjiebotter eet net een van die verskille tussen hulle.

Anel, ’n uithaleratleet wat onlangs aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir seniors deelgeneem het, is ’n inspirasie vir Jakkie. “Sy eet baie gesond, oefen hard en lees gereeld die Bybel. Op daardie manier het sy baie meer dissipline as ek. Sy hou van die Bosveld, ek van die see. Sy hou nie van rillers nie terwyl ek dit graag kyk as ek weg van die huis af op toer is.”

“Nie dat dit eintlik saak maak nie,” meen Anel. “Deesdae is ons saans so moeg dat ons soms eers na ’n uur of wat besef ons kyk na die kinders se tekenprente op die Boomerang-kanaal. Maar hierdie verskille is klein. Vir my is dit the spice of life. Dit hou dinge interessant.”

“Ek dink waar dit ’n probleem raak, is wanneer ’n paartjie se morele waardes verskil,” sê Jakkie.

“As jy nie hou van die groot verskille tussen jou en jou lewensmaat nie, het julle dalk te gou getrou. Oor dinge soos geloof of kinders grootmaak móét julle saamstem anders gaan daar beslis later probleme wees. Dit help dat ons albei uit Christelike ouerhuise kom, want dit beteken ons grondslag is dieselfde.”

“Daar is beslis iets soos ’n paartjie-identiteit. Dit kan tog nie anders as jy so naby aan iemand anders leef nie,” vertel Jakkie. “As ’n paartjie is ons albei baie sosiaal en ons hou van lag. Ons gesels baie, veral met mekaar. Eintlik is ons regtig plat op die aarde.”

Alhoewel die Louws gemeenskaplike vriende het – dis immers hoe hulle ontmoet het – is dit ook vir hulle belangrik om apart saam met vriende en vriendinne te kuier.

Jakkie het ’n paar mansvriende saam met wie hy poker speel en rugby kyk. “Ek het dit nodig. Die lede van my band is ook goeie vriende van my. Ek sien hulle elke naweek.”

“Omdat Jakkie dikwels van die huis af weg is, is ek baie dankbaar vir my familie en vriende,” vertel Anel. “Ek en ons twee dogtertjies gaan baie Rustenburg toe, waar my ouers en boetie en sussie bly. Ons is ’n baie hegte familie. My vriendinne se ondersteuning en omgee is onberekenbaar kosbaar. Jakkie sal my ook gereeld aanmoedig om saam met my vriendinne uit te gaan.”

Niemand wil tog met hulleself trou nie

“’n Mens trou tog met iemand juis oor sy of haar spesifieke persoonlikheid,” vertel Jakkie. “Ek wou beslis nie met myself trou nie. Dink hoe vervelig dit sou wees. As paartjies onseker is van hulle verhouding, kan dit gebeur dat hulle die verskille probeer ignoreer. In ons geval het ons besluit om dit eerder te koester en by mekaar te leer.”

“Voor ons getroud is, het ek soveel dinge nagejaag,” erken Anel. “Ek het net te veel ysters in die vuur gehad. Te veel mense tevrede probeer hou. Jakkie het my gehelp om rustig te raak. Ek het myself leer ken en aanvaar. Nou weet ek my veilige plek is by my man en kinders. Deesdae laat ek nie meer toe dat ander mense my lewe bepaal nie. Ek vertrou God se plan en besluit self wat vir my belangrik is.

“Jakkie is definitief meer prakties as ek. Hy hou daarvan om te weet hoe dinge gaan gebeur en is goed met beplanning. Vir ons huweliksherdenking het hy byvoorbeeld ’n langnaweek in die Wildtuin beplan. Hy het dit so goed gedoen dat ek regtig nie ’n idee gehad het waarmee hy besig was nie.”

“Anel is meer go with the flow as ek,” stem Jakkie saam met sy vrou. “Sy hou van verrassings. By haar het ek geleer om myself met positiewe mense te omring. Ek het ook besef dat rustigheid by die huis vir my baie belangriker is as enige werk.”

Saam droom dié twee om eendag na ’n huis op die platteland te trek. En baie te reis. Hulle het egter ook hulle eie drome.

“Anel wil graag meer aandag aan haar atletiek bestee en droom selfs daarvan om oorsee te toer met haar sport. Ek weet ook dat sy daarvan sal hou om af te rig,” vertel Jakkie.

“Vir Jakkie sal dit ’n droom wees wat waar word as hy eendag internasionale status met sy musiek bereik. Maar ek weet ook dat hy soos in sy album Die standvastige man steeds sy gesin by hom wil hê al is hy ook hoe suksesvol – plaaslik of internasionaal.”

“Nie ek of Anel is baie dominerend nie, maar ek dink dis belangrik dat jy jou eie en jou maat se persoonlikheid ken en in ag neem om seker te maak die een oorheers nie die ander nie.”

“Maar,” voeg Anel by, “elkeen moet ook verantwoordelikheid aanvaar vir sy of haar eie behoeftes en reaksies. Al ken julle mekaar hóé goed, weet niemand presies wat jy dink of wil hê nie. As jy nie gaan praat oor dinge wat jou pla nie, kan jou maat dit nie altyd raai nie.”

Soms is dit goed om nie saam te stem nie

Albei stem saam dat té veel verskille tot baie konflik kan lei, maar tog glo hulle in ’n mate van goeie spanning.

“Ons is al twee baie passievol,” verklaar Jakkie. “En so passievol soos ons mekaar liefhet, so passievol kan ons ook verskil. Teen hierdie tyd het ons al geleer om saam te stem dat ons oor sekere goed verskil.

“Respekteer jou maat se opinie al stem jy nie saam nie. Elkeen is tog geregtig op sy eie mening. Onthou net wat belangrik is, want om by mekaar te wees, is baie belangriker as om reg te wees. Ons aanvaar verskille en gaan dan weer aan.

“Daar moet ’n balans wees tussen ‘ek’ en ‘ons’. Of jy nou getroud of ongetroud is – die lewe is te kort om iemand anders s’n te leef. Die identiteit wat God vir ons gegee het, is nie daar om weggeneem te word nie.

“Wees jouself en vertroetel jou huweliksmaat se uniekheid en so het jy ’n vriend en lewensmaat wat jou sal ondersteun, bystaan en aanvaar vir die res van jou lewe.”

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA