Kan dié huwelik gered word?

huwelik

Jy dink alles sal beter word, want ná die troue sal hy verander. Jý sal hom verander. Maar geen mens kan ’n ander een verander nie.

Babette* se storie

Vandag kan ek nie glo dat ek ooit met hom getrou het nie. As ek dink aan al die rusies wat ons in ons uitgaandae gehad het. Aan sy besope flirtasies met ander meisies. As ek dink aan die gedrink en gevloek en verbale mishandeling.

Aan die aand toe ek my verloofring afgehaal het, maar nie sover kon kom om dit vir hom terug te gee nie. As ek maar net die guts gehad het! Maar toe dink ek niemand sal ooit weer vir my lief wees nie.

Veral toe die kinders eers daar was, kon ek dit glad nie meer hanteer nie. Die volgende oggend kon hy natuurlik nooit iets onthou nie. En daarom het hy ook nie die nodigheid ingesien om jammer te sê nie. My menswaardigheid was later daarmee heen. Dis hartseer, maar ek onthou vandag nét die slegte goed. Ek onthou die aande wat hy nie huis toe gekom het nie en ek moes rondbel om te hoor of iémand weet waar hy is.

Telkens het ek gedreig om my goed te vat en te loop. Dan het dit vir ’n ruk weer goed gegaan. Hy het blomme aangedra en sy knieë rou gekruip om my guns te wen. Ook net tot hy gesien het ek is weer my goeie ou self. Dan het alles van voor af begin – die gedrink saam met vriende, sonder ’n gedagte aan my en die kinders.

Later kon ek dit nie meer verdra dat hy aan my raak nie. Ek het my lyf teruggevat – dit was net myne. En hoeveel aande het ek die Here gesmeek dat hy in ’n paal moet vasry wanneer hy eendag besluit om huis toe te kom. As hy sou doodgaan, sou almal se simpatie immers lê by my, die arme weduwee! Agterna het ek so skuldig gevoel oor my gedagtes.

Maar een oggend, sonder dat iets opspraakwekkends of afgrysliks gebeur het, het ek net besluit: Daar is geen sin in hierdie huwelik nie. Ek moet myself gaan soek. En ek het my tasse gepak, my kinders gevat en ’n nuwe lewe begin.

Dít weet ek nou

Die huwelik is nié ’n rehabilitasiesentrum nie. Vir niemand nie. Ook nie vir alkoholiste nie, al is dit ’n naweek-alkoholis.

Nou weet ek: Ek moes nie stilgebly het nie. Suffer in silence is seker die slegste besluit wat ’n mens ooit kan neem. Ek moes vir álmal wat wou luister elke stukkie aaklige detail van ons lewe vertel het. Nie om dislojaal te wees nie. Maar dan het hy – én ek – dalk vroeër hulp gekry.

Dan kon iemand hom dalk laat besef het wat hy doen – aan homself, aan my en aan ons kinders. Miskien sou iemand tog kon ingryp – al het hy nie geglo daar is fout met ons huwelik nie. Al het hy elke keer geweier om saam met my ’n berader te gaan sien.

Dít wil ek vir vroue sê

Vandag kan ek myself skop. Ek het daardie tyd self die stemmetjie doodgesmoor. Die een wat sê: If in doubt, don’t! Moenie dieselfde pad loop nie. Trou omdat jy oortuig is dat julle vir mekaar bedoel is, nie omdat jy eensaam voel of omdat ander dit van jou verwag nie.

*Skuilnaam

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.