Kan dié huwelik gered word?

 

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Ontdek die hart van jou brein. Verstaan die rol van jou brein in die skep van seksuele geluk en passie in die 21ste eeu.

Kliek HIER en laai die e-boek, Die geheim van liefhê, GRATIS af.

 

lyn_3.png

Jy trou nou wel met jou man en nie met die skoonfamilie nie, maar dit kos harde werk as julle uit verskillende agtergronde kom.

Sandra* se storie

Een van die dinge wat niemand weet as hulle trou nie, is hoe dit gaan wees om deel te word van nog ’n familie. As julle voor die troue lank uitgegaan het, sal jy al ’n taamlik goeie idee hê van wat jy kan verwag, maar eintlik gaan jy die skoonfamilie eers leer ken as jy die dag hulle van aanneem.

Vir my het daar op ’n onverwagte vlak ’n verrassing gewag. My man is gebore toe sy ma al oor die veertig was. Toe ons somme maak, kom ons agter dat sy ouers aan dieselfde geslag as my grootouers behoort! My oupas en oumas was egter al almal oorlede en ek het hulle nooit geken nie. Dit was dus moeilik om raakpunte met my skoonouers te kry.

Daar het tog geleidelik vir my ’n wêreld begin oopgaan. Skoonma en Skoonpa het my geleer van die Anglo-Boereoorlog en die plaaslewe aan die begin van die twintigste eeu. Ek het besef dat die patriargale lewenswyse waaraan hulle gewoond was, hulle optrede steeds beïnvloed het.

Daar was allerhande dingetjies wat aan my gekrap het. Ek is met goeie dissipline grootgemaak, maar ook met genoeg vryheid om my eie ding te doen. Skielik moes ek aanvaar dat my skoonouers ons net in kennis stel dat hulle kom oorbly wanneer hulle dorp toe kom. En dat hulle sommer vir my man opdragte gee en verwag hy moet dit doen asof hy nog in hulle huis was. Gelukkig het hulle nooit in ons huwelikslewe ingemeng nie.

Die positiewe deel van die “verrassing” was dat my man hierdie generasiegaping tot ’n groot mate oorbrug het. Hy het nie soos sy ouers opgetree nie en my baie ruimte gegee om my eie belangstellings uit te leef. En hy het my nie gekeer toe ek wou gaan werk toe ons kinders selfstandig begin word het nie. Ek kon aan verenigings behoort, rondry soos ek wou en het nooit ingeperk gevoel nie.

Na al die jare kan ons vandag nog ná ’n meningsverskil weer vrede maak, mekaar in die oë kyk en opreg sê: “Ek is lief vir jou.”

[VIDEO] Gretha Wiid: "Laat jou man voel hy's mans genoeg!"

Dít weet ek nou

Daar is baie boeke wat die verskille tussen mans en vroue uitspel en wat verskillende mense se “liefdestaal” uitlê. My skoonseun sê my dogter se liefdestaal is inligting. Sy het tyd nodig om dit te verwerk dat sy ouers gaan kom kuier die middag waarop sy vir haar finale eksamen moet voorberei. Of dat hy die volgende dag vir twee weke Dubai toe vlieg.

As ek terugkyk, weet ek dat ek nie besef het my man se liefdestaal is diensbaarheid nie. Ek het altyd afgehaal gevoel as hy die skottelgoed was of die bed drie oggende na mekaar opmaak. Ek het dit vertolk as ’n teken dat ek ’n slegte huisvrou is. Ek besef nou hy wou daarmee maar net vir my sê dat hy my liefhet.

Dít wil ek vir vroue sê

Jy is die middelpunt van jou gesin. As jy nie tuis is nie, gaan hulle voel die huis is leeg. As jy kwaad of hartseer is, gaan almal neerslagtig word. Maar as jy lag, gaan jy ’n lig in hulle harte aansteek. Werk aan jou huwelik en wees liefde-in-aksie.

*Skuilnaam

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Aan die begin was sy andersheid vir jou oulik, nou irriteer sy gewoontetjies jou. Maar dis dalk die bril waardeur jy kyk wat maak dat jy sukkel om hom te aanvaar. As jy ook jou man beter wil verstaan, móét jy hierdie boek lees! Mal oor jou man is beskikbaar op www.voelgoedwinkel.co.za teen R80.

 

lyn_3.png