Laat jou man voel hy’s mans genoeg!

Gretha Wiid

Huwelikskenner: Gretha Wiid

lyn_3.png

GRATIS

Kliek en laai jou gratis e-boeke (Lyfslim vir Seuns of Lyfslim vir Meisies, deur Gretha Wiid) af.

Gebruik die afslagkode SEPT16 wanneer jy die e-boek in jou mandjie sit. Aanbod geldig tot 11 September 2016.

lyn_3.png

 

As jou huwelik deur stormwaters gaan, kies om jou man staande te hou in die krisis.

Kroon jou man as koning in jou huis en pluk die soete vrugte om soos ’n koningin behandel te word.

Besef vroue ooit werklik hoe diep ’n man se begeerte is om mans genoeg te voel en op alle terreine vir sy gesin te voorsien? Dit is deel van hulle DNS. Die hartseer waarheid is dat ons in ’n prestasiegedrewe samelewing leef waar sukses gemeet word aan waar jy bly, wat jy ry en hoeveel jy kry. Jy kan steeds die kroon op jou man se kop hou al gebeur daar slegte dinge, byvoorbeeld dat jou man sy werk verloor.

Tree op voor dit te laat is!

Elke man het ’n dringende begeerte om mans genoeg te voel. Hy wil weet hy is suksesvol en dat sy vrou hom respekteer. As jou man byvoorbeeld afbetaal is, is dit logies dat hy soos ’n absolute mislukking gaan voel. ’n Sneeubal van emosies word ontketen: geen selfrespek, tonne frustrasie, geen selfvertroue, depressie, aggressie. In hierdie warboel van emosies bly die waarheid steeds dat die meeste mans nie maklik hulle harte oopmaak en hulle swakheid of vrese erken nie.

Daar is nie kitsoplossings nie, maar daar is dinge wat jy kan doen om jou huwelik veilig deur stormwaters te stuur. Hou dadelik op om jou man se foute met jou vriendinne of jou ma te bespreek – jy moet hom eer as koning en beskerm teen die veroordeling van ander. Jy moet vír hom veg, nie téén hom nie. Vra God om jou te wys waar jy jou man nie met respek behandel nie en waar jý moet verander.

Begin om met dringendheid vir jou man te bid – vir sy beskerming, geloof, werk, verhoudings met ander, sy emosionele welstand, sy manwees, identiteit en gesondheid. As jy hom kritiseer, sy eer aanval, hom onbevoeg of belaglik laat klink of behandel asof hy ’n kind is, sal hy jou sien as die vyand, en nie as sy waardige helper en maat nie.

Wees deel van die oplossing, nie die probleem nie

Gee jou man tyd om self sy emosies te verwerk, maar laat hom met jou optrede en ondersteuning besef dat jy hom nie veroordeel nie. Dis uiters belangrik dat hy moet weet jy is ’n veilige hawe vir hom. As julle nie praat oor dit wat krap nie, kan die stilswye ’n verhouding oornag insluk. Sy eer is reeds gekrenk as gevolg van sy werkloosheid, depressie of pornografieverslawing. Hy het nie nog preke of ’n mamma-weet-beter-houding nodig nie.

Besef vandag dat die grootste seëninge kom nadat ons ons eie trots neergelê het en teen ons wil kies om gehoorsaam te wees. Ons huwelike word geseën as ons kies om dinge op te offer sonder om noodwendig die rede daarvoor te verstaan.

VIDEO: Deur werklik te luister dien jy jou maat in liefde.

Dink aan Abraham. Hy moes ook iets doen wat nie vir hom reg of regverdig gevoel het nie. Die strategie om jou man se kampvegter te wees en hom te sien en te behandel soos dit God behaag, gaan dalk ook nie vir jou reg of regverdig klink nie, maar dit gaan bes moontlik ongelooflike resultate hê.

’n Goddelike vrou sien die groter prentjie. Sy veg vir haar man se koningskap deur haar eie trots neer te lê.

Moenie onderskat wat jou lyf vir hom kan beteken nie

Jou man voel dalk ook in die slaapkamer soos ’n mislukking, maar dis hier waar jy hom verkeerd kan bewys. Deur vir jou man te wys jy begeer hom steeds, jy vind hom aantreklik en het sy manwees nodig, sal jy berge versit. Alhoewel hy soos ’n mislukking in die oë van die wêreld voel, sal hy steeds mans genoeg voel in die slaapkamer.

Vra God vir onderskeidingsvermoë om die dinge raak te sien waaroor jou man nie praat nie. Bid dat God jou daagliks daaraan sal herinner dat Hy steeds in beheer is, en nie ’n flikkerende lamp sal uitdoof nie.

Onthou dat dit ’n baie sterk en dinamiese vrou neem om ’n man in koningskap in te bid en ondanks alles aan ’n goddelike strategie vas te hou. Met ’n sagte hart, ’n vegtersgees en ’n koningin wat haar man eer, sal julle hierdeur kom. Net miskien word julle getuienis een wat môre iemand anders bemoedig!

lyn_3.png

KOOP AANLYN

'n Bybeldagboek vir vroue deur 52 vroue wat van God se grootheid getuig.

Kliek hier en bestel die boek, God is Groot, teen 50% afslag.

Gebruik die afslagkode GIG16 wanneer jy die boek in jou mandjie sit. Aanbod geldig tot 11 September 2016.

lyn_3.png

 

kommentaar (1)

  • Marlene Hanekom

    Vir die afgelope 26 jaar wat ek en my man mekaar ken (ons sal in Jan.2017
    24 jaar getroud wees)is my noemnaam vir hom "My Kroon". Vir my het hierdie
    naam groot waarde ingehou,want God het hom oor my aangestel as Koning en
    Priester van ons huis. Ek het sowat 6 maande gelede egter opgehou om hom so
    te noem,omdat hy nie sy Gods gegewe plig volgestaan het nie ten spyte
    daarvan dat ek hom voortdurend vra om daardie rol te vervul. Ek wil nie en
    kan nie meer sy plig as man en pa meer op my neem nie. My man is nie 'n
    drinker nie en het sowat 8 jaar gelede opgehou rook. Hy is wel 'n vloeker.
    My harts begeerte is dat my man waarlik sal bekeer en sy hart en lewe aan
    JAHSHUA sal gee. Ek wil my man onderdanig wees, maar hoe doen mens dit as
    hy nie aan JHWH onderdanig is nie ? Hy sal nooit enisiatief vat dat ons
    moet huis-godsdiens doen nie of saam my Bybel lees en werklikwaar in
    gebed tree.Ek moes nog altyd die geestelike leiding in ons huis neem. Ons
    seun (17) se sowat 'n maand gelede vir my :"Weet mamma ek wou altyd soos
    dedda wees,maar ek besef vandag ek wil glad nie soos hy wees nie, buiten
    dat ek hard wil werk soos hy." Dit het my hart gebreek. Ek het al mooi ge-
    praat, gesoebat, gesmeek, geskree, gehuil,niks van dit het vrugte afgewerp
    nie. Vir die afgelope jaar en 7maande probeer ek ook om meer male stil te
    wees en nie iets te se as hy dinge "verkeerd" doen (nie soos dit 'n kind
    van God behaag nie), maar volgens hom het ek nie eens 'n poging aangewend
    nie. As ek iets noem wat my pla dan se hy ek kla of "begin jy alweer met
    jou ......" Ek weet dat ek self nie my man kan verander of bereik nie, net
    ons Hemelse Vader kan dit doen. Ek weet ook dat ek self baie foute het en
    druk op my man plaas om 'n beter pa te wees en dissipline op die regte wyse
    toe te pas (nie deur te skree en vloek nie). Ek weet hy het my lief en ek
    vir hom en ons het ons kinders lief, maar ek benodig 'n dieper geestelike
    verhouding met my man. Wat kan ek doen dat ons saam JHWH dien ?Watse ver-
    anderings moet ek in my lewe bring ? Ek wil my man in God onderdanig wees
    maar hy is nie in God nie. Gee asb. raad. Ns. Ons het al 2 Christelike
    opbrengs gehad en het ook in die kerk ontmoed. Hy ken die Woord maar leef
    nie daarvolgens nie.

    Liefde in JAHSHUA
    Marlene

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.