’n Tevrede lyf, maar ’n leë hart

Gretha Wiid

Huwelikskenner: Gretha Wiid

lyn_3.png

GRATIS

Kliek hier en laai 6 heerlike resepte + 'n inkopielys gratis af.

lyn_3.png

Mans en vroue se primêre behoeftes verskil. As dit by intimiteit kom, is ’n vrou se grootste behoefte om emosioneel veilig by haar man te voel. Baie vroue hunker na aanraking wat nie tot seks lei nie.

In die media val die klem dikwels op wat vroue in die slaapkamer vir hulle mans kan doen. Ons moet kreun en steun, kyk na ons onderklere en uitlokkend wees op die regte tyd. Ons moet ag slaan op gereeldheid, onthou om hulle te begeer, avontuurlustig wees en toelaat dat dinge spontaan gebeur. Laat staan verkramptheid, flenniepajamas, moegheid en hoofpyn.

'n Vrou se grootste seksuele behoefte staan los van die lyf

Vroue se behoeftes is natuurlik ook belangrik, en dit het dikwels ’n goeie balans tussen lief en lus. Hoe meer ’n man sy vrou emosioneel toemaak, hoe makliker word dit vir haar om haarself fisiek oop te maak vir hom.

In my navorsing onder getroude vroue was van hulle grootste behoeftes ten einde seksueel bevredig te kan voel, dinge soos waardering van hulle mans buite die slaapkamer, emosionele konneksie, gehaltetyd, sekslose aanraking en selfs ’n goeie verhouding met die kinders. Hierdie dinge staan los van die lyf. En natuurlik maak dit sin – ons vroue is nou eenmaal eers lief en dan lus.

Terwyl alle vroue redelik seker is dat hulle mans ’n behoefte het aan seks, is daar ’n klomp vroue wat wonder of hulle steeds die gekose een sou wees as hulle man ’n bedmaat in ’n line-up kon kies. Buiten dat hierdie sekerheid buite die slaapkamer begin, word dit bevestig met sekslose aanraking soos oogkontak, sagte woorde en die gevoel van eenwees.

Verwoord jou behoeftes, maar sonder beskuldigings

Dit is hartseer dat vroue hierdie dinge dikwels mis. Hulle sê byvoorbeeld: “My man soen my net as hy planne het. As die seks verby is, draai hy om en slaap soos ’n tevrede kat wat genoeg romerige melk gedrink het. Dit voel asof my man vergeet dat ek meer as borste, boude en ’n teikenmerk het. Dit voel asof ek net goed genoeg is vir een ding. My vrouwees en ma-wees is nêrens op my man se radar nie.” En so kan ons aangaan...

Natuurlik weet ons as vroue wat die presiese dinge is wat ons begeer, maar die groot uitdaging is om jou man hierdie dinge te laat besef. Opsie een is om hierdie artikel te plant langs die toilet waar hy dalk tyd gaan deurbring (en te hoop hy sit lank genoeg om later die FINESSE op te tel), of jy kan dit sommer direk op ’n raakvat manier kommunikeer.

In ’n gesonde huwelik gesels ons prontuit en maak ons tyd om mekaar se harte te hoor. Ons hoef nie te skimp, te manipuleer of stilletjies te hoop dat hy die boodskap kry nie. Jy wil jou man laat besef wat jy begeer – jy wil hom nie beskuldig nie. Praat dus só dat hy weet jy mis hom, wil graag meer by hom wees en verlang na ʼn intieme konneksie met hom.

Blog: “Hier op Hartjesveld in ons plaashuisie het ons huwelik weer prioriteit geword...” LEES VERDER

Eer hom daarvoor as hy jou behoeftes in ag neem

Omdat min mans egter van nature weet hoe om by hierdie konneksie uit te kom, moet hulle amper stap vir stap geleer word. Hiermee sê ek nie dat mans emosioneel afgestomp is of soos kinders behandel moet word nie.

Die intimiteit wat ons as vroue begeer, is bloot net nie iets wat vir die gemiddelde man natuurlik kom nie. Voordat jy met jou man oor hierdie begeerte na intimiteit gesels, sal dit goed wees as jy vir ’n oomblik aan ten minste vyf dinge gaan dink wat jy graag wil sien gebeur. Hoe meer prakties en duidelik jou verwagting is, hoe makliker vir jou man om daaraan te voldoen.

As jou man aan hierdie klein dingetjies begin werk en bewys dat hy jou hartsbegeerte gehoor het, is dit belangrik dat jy hom sal prys daarvoor en op so ’n manier dat hy dit weer en weer wil doen. As hy die moeite doen om te verander, moet jy jou kant dubbel so hard bring en sy lyfbehoeftes ook bedien.

’n Huwelik bly ’n plek van gee en opoffer – ’n veilige ruimte waar ons ons harte kan oopmaak. As ons dit reg hanteer, word ons lyfkonneksie en hartskonneksie onlosmaaklik deel van mekaar.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan, voel dit makliker om handdoek in te gooi. Om op te gee en nie verder te probeer nie. Baie mense het al so gevoel. Nou kry jy die kans om hulle inspirerende seerkry stories te lees. Gewone, onbekende mense soos jy, en bekendes soos Lisa Brönner, Joe Niemand en Martelize Brink, vertel hoe hulle trane in vreugde verander het.

Kliek hier en kry die boek, Wanneer jy voel jy wil moed opgee, op www.voelgoedwinkel.co.za.

lyn_3.png

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA