Is romanse uit die mode?

Die media stel mans dikwels voor as ’n groep wat hoegenaamd geen begeerte vir die romantiese in die verhouding het nie, maar navorsing het die teendeel bewys – of het dit?

In Shanti Feldhahn se boek, For Women Only, het sy met ’n 1 000 mans van al die sektore van die samelewing onderhoude gevoer. Die navorsingsresultate het bevind dat 84% van mans ’n begeerte vir romanse het. Die antwoorde was vir jonk en oud, getroud of ongetroud, almal dieselfde.

Hoekom is mans bang?

•  “Ek sal dit nie goed genoeg kan doen nie”

“Die meeste mans is bang vir mislukking en doen dan eerder niks,” sê een van Feldhahn se respondente. As jy misluk sal jy verneder voel, iets wat die meeste mans ten alle koste vermy.

•  Slegte ervarings

’n Negatiewe ervaring in die verlede verhinder dat mans weer ’n kans op die romantiese vlak sal vat. Spot en kritiek vererger egter hierdie situasie. Een man het tereg gesê: “Jy spot my dat ek nie die kersligete heeltemal regkry nie, nou sal jy vir vyf jaar moet wag voor ek weer probeer ...”

•  Mans hou van speel

Hoewel die meeste vroue die bos blomme en sagte agtergrondmusiek as romanties beskou, het die meeste mans aangedui dat hulle dit as romanties beskou om saam met hulle vroue te “speel”. “Om saam met my vrou te gaan gholf speel, ski, in die berg te stap en te gaan duik in die diepsee, is vir my baie romanties,” vertel een man.

Laat die vonke spat

•  Stap 1: Moedig hom aan

Al is ’n vrou se aanmoediging en aanvaarding altyd belangrik vir haar man, is dit veral belangrik by romanse. Wanneer hy ’n poging aanwend is dit jou werk om hom te wys jy  waardeer dit.

•  Stap 2: Verlei jou man

Hou die verhouding interessant. Verlei jou man en gee vir hom iets om voor te werk. Dit sal sorg dat daar altyd opwinding in julle verhouding is.

•  Stap 3: Subtiele wenke

Mans kla dikwels dat hulle nie vroue se gedagtes kan lees nie. Vertel hom op ’n subtiele manier wat jy nodig het en romantiseer jou man op sy manier. Voor jy jou oë kan uitvee, sal hy jou ook op jou manier romantiseer!

Wat is vir mans romanties? Hier is ’n paar manne se idees.

Enigiets ongewoon is romanties

Pieter Roeloffse (33) sê: “Ek beskou enigiets wat buite die ritme, roetine, geraas van die alledaagse gedoen word, met die woorde “jy-is-nou-die-fokus-van-my-aandag” daaroor geskryf as romanties. Die probleem is dat om iets spesiaals te doen soms ’n groot projek word en ’n mens duisende verskonings uitdink oor hoekom dit nie nou kan gebeur nie. Ek erken dat ek hopeloos te selde romanties is! My vrou verdien ’n daaglikse, weeklikse, maandelikse, jaarlikse ... ontvoering van oorrompelende liefde!

Dit laat mans wonder ...
“My vinnige antwoord oor romanse: “Dit is dít waarna my vrou verlang en ek soms oor wonder ...’ ” Só gesels Hennie Burden (31). “Die meeste mans voel half ongemaklik as dit by romantiese idees kom, want hulle dink dis iets vir die kunssinniges, maar eintlik gaan dit oor liefde, verliefdheid, die verbeelding en selfs avontuurlike optrede.

“So manne, koop maar daai rose, kry ’n lekker wyn en koop ’n aandete, reël dat julle vir ’n slag alleen by die huis is en steek tog ’n paar kerse aan terwyl jy ’n ‘diep’ CD opsit. Of wat van jy ontvoer haar vir ’n slag en vat haar veld toe vir ’n piekniek? Eintlik weet ons hoe, ons kort net soms ’n bietjie hulp.”

Mans wil pret hê

Wat hy as romanties beskou, moet buitekant die normale of algemene cliché wees, sê MC Engelbrecht. “Ek wil pret hê saam met my vrou. Om saam te speel is vir my heerlik. Om saam met my vrou wyn te drink of saam op die bank te lê en movie kyk, is groot pret. Ons as mans word maklik afgeskrik van romanse omdat dit na te veel werk klink, maar dis eintlik maklik. Ek dink ’n bietjie bederf is ongelooflik belangrik vir ’n huwelik.