As skoonouers jou huwelik omkrap

Gretha Wiid

Huwelikskenner: Gretha Wiid

Talle paartjies kan getuig van inmengerige skoonfamilie, daardie fyn stekies wat gegee word waarop jy nie jou vinger kan lê nie... ’n Skoonma wat altyd (ongevraagd) haar opinie en raad gee (altyd met goeie bedoelings, natuurlik). So kan die lysie aangaan ...

Jy en jou maat is mekaar se eerste prioriteit

Soms is ons bang vir konflik en bewaar dan eerder die vrede deur stil te bly, maar ons houding spreek van frustrasie. Ander kere is ons bang ons ouers gaan verwerp voel of dat hulle óns sal verwerp. Ander sien dalk nie kans vir die dikmond, die feit dat jy skuldig voel as ’n saak aangeroer is of dat die skoonfamilie weke lank hulleself gaan jammer kry nie.

As daar ’n skoonfamiliesaak is wat chroniese wrywing en konflik veroorsaak, onthou: Wanneer ons trou, word ons mekaar se eerste verantwoordelik en prioriteit. Menige huwelik sal baie gesonder wees as mense kies om die kroon op mekaar se koppe te hou en soos ’n span te lyk en klink voor familie. Julle hoef nie altyd saam te stem nie, maar dit is belangrik om altyd saam te staan!

Los konflik met skoonfamilie só op

As die probleem by jóú ouers lê, moet jy die een wees wat die probleem aanspreek. Terwyl bloed dikker is as water, luister bloedfamilie makliker na mekaar as wat ’n aangetroude familielid ’n saak wil oplos.

As jy ’n duidelike grens wil hê, sal jy dit vir hulle moet sê. Mense verander nie omdat jy hulle koud hanteer, jou oë rol of ’n houding het nie. Deel eerder jou hart opreg.

Wanneer ons ’n ongelukkigheid met moeilike ouers hanteer, gaan daar heel waarskynlik kwade gevoelens wees wat ’n ruk gaan neem om gesond te word. Met die sagtheid van die Heilige Gees kan ons egter ’n vyand stormloop sonder om seer te maak.

Onthou, jy verteenwoordig ook jou maat as jy met jou ouers oor die probleem praat. Gebruik dus woorde soos “ONS voel” of “ONS wil” en nie “hy voel” of “hy wil” nie.

Sou jy toelaat dat jou ouers jou maat kritiseer, ignoreer of manipuleer en hulle nie daaroor aanspreek nie, sal jou maat seergemaak, uitgelewer en ongewaardeerd voel.

Jou leefwyse en keuses moet ’n bewys wees van wie die belangrikste in jou lewe is. As jy altyd jou ouers se kant vat, of altyd toelaat dat hulle wil in jou huwelik geskied, sal jou maat nie soos die eerste prioriteit in jou hart voel nie.

’n Probleem in julle verhouding behoort tussen julle twee opgelos te word, en nie by familie nie. Hou jou huwelik uit die familie uit en jou familie uit jou huwelik! As ’n verbond die ding is wat jy regtig wil ervaar, is familie iets wat jy volgens God se Woord sal moet hanteer. Eenheid is nie iets wat van nature daar is net omdat jy trou nie. Dis iets wat jy moet kies en leef.

Wees goed en lief vir die “skoonheid se familie”

Die woord “skoonmoeder” beteken oorspronklik jou “skoonheid” oftewel jou “geliefde” se ma.

Die “skoonfamilie” is dan jou “skoonheid” oftewel jou man of vrou se familie.

Probeer liewer om op ’n mooi manier na jou skoonfamilie te kyk. Sien jou moeilike skoonma of -pa soos hulle werklik is: eensaam, diep ongelukkig, minderwaardig, onseker, verwond, op soek na erkenning... As jy jouself werklik in hulle skoene kan stel, sal dit makliker wees om genadig teenoor hulle op te tree. Baie mense wat arrogant en altyd in beheer wil wees, is in wese eintlik baie onseker van hulleself. Bid vir hulle, al is dit vir jou moeilik. God het seker nie verniet gesê dat ons ons vyande moet liefhê en seën nie. Gebed verander nie altyd ons omstandighede nie, maar dit verander altyd ons harte.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA