Wees aan jou maat se kant

Gretha Wiid

Huwelikskenner: Gretha Wiid

lyn_3.png

GRATIS

Ontdek die geheim om jou huwelik van so-so, tot sjoe te vat. Laai die e-boek 21 Dae tot `n fantastiese huwelik GRATIS af. Gebruik die afslagkode OKT16 wanneer jy die boek in jou mandjie sit. Aanbod geldig tot 23 Oktober.

lyn_3.png

Ek dink God skud soms Sy kop in verwondering oor paartjies wat probeer om punte teen mekaar aan te teken.

Soos party huweliksmaats tekere gaan, lyk dit soms soos ’n Survivor-episode. Hulle probeer mekaar outwit, outplay en outlast. Wat hulle ongelukkig te laat uitvind, is dat daar nie ’n wenner is nie. Niemand wen ’n paar rand nie en niemand kry ’n glansryke titel en trofee nie.

Spanwerk kan jou deur stormwaters help

Die enigste plek waar mense telling hou teen mekaar, is waar hulle vir verskillende spanne speel. Wanneer jy dit egter kan regkry om jou trots neer te lê, gee jy die opponent ’n bloedneus. Satan kry bloedneus en sy span loop stert tussen die bene weg. Die Woord leer ons mos in Matteus 12:25 dat ’n huis of gesin wat in homself verdeel is, nie staande kan bly nie. Satan se strategie om gesinne en huwelike te laat sneuwel begin daarom dikwels by onenigheid.

Wanneer ’n ramp toeslaan, soos siekte, werksverlies of ’n geliefde wat sterf, sukkel party mense geweldig om die trauma te hanteer. En dit raak natuurlik jou huwelik in totaliteit. Daarom is die kernwoord om deur moeilike omstandighede te werk: spanwerk! Geen huwelik kan trauma oorleef as albei partye nie deel uitmaak van die oplossing nie.

Vat jou maat vir ’n emosionele checkup

Die meeste huweliksmaats wat sukkel om trauma te verwerk of aan depressie ly, spreek ’n terapeut of psigiater. Tog onderskat mense dikwels die belangrikheid daarvan dat die ander maat óók iemand moet sien, want hulle is ook vasgevang in hulle eie frustrasies en gevoelens van onbekwaamheid. Hulle deel egter nie maklik hierdie emosies met hulle maat wat sukkel nie. Hulle wil nie die ander een se las nog swaarder maak nie. Maar dit is só belangrik om te práát! En nie verwyte rond te slinger nie!

Alhoewel baie mense met endogene depressie (geneties) sukkel, is daar wel persone wat aan depressie begin ly as gevolg van langdurige stres, trauma, jare lange ongelukkige verhoudings of ’n lang siekbed. Ons sê maklik goed soos: “Ag jong, ek is net regtig moeg die laaste tyd,” of “Ek dink ek het ’n vakansie nodig ...” Mense drink opkikkers, flous hulleself met “voelgoed”- oomblikke en maak dan die fout om te dink hulle neerslagtigheid sal oorwaai.

Gaan ’n slag vir ’n emosionele checkup. Vrees om te erken jy sukkel om vrede te maak met jou huidige slegte omstandighede of te klink asof jy nie cope nie, is redes hoekom mense te laat hulp gaan soek. Haal af daardie masker wat jy dra! Hy kos jou op die end meer as wat jy besef!

Skep moed en speel in dieselfde span

Dis maklik om vir ’n iemand wat swaarmoedig of bedruk voel, te sê: “Vind jou vreugde in die Here.” En dis net so maklik vir mense wat voel asof hulle in ’n donker gat is, om te wonder of hulle dan kleingelowig is of nie naby genoeg aan God leef nie. Miskien sal dit jou vandag bemoedig om te weet dat die wêreldbekende evangelis, Billy Graham, lank met depressie geworstel het. En hy is ’n man wat die Here ken, op sy knieë leef, en die Woord liefhet en Hom aankleef.

Wees eerlik oor jou behoeftes en kommunikeer effektief oor wat jy emosioneel nodig het van jou maat. Wanneer ons ons emosionele intimiteit in die huwelik verloor, verloor ons alle emosionele kontak.

Skep moed. Die Here ken jou naam. Hy sal nie ’n dowwe lamp uitdoof of ’n geknakte riet afbreek nie. Veg vir jou verhoudings so goed jy kan met die hulp van God, medikasie en ’n professionele skouer – jou huwelik, jou kinders en jou menswees is dit werd!

Jy het ’n huweliksmaat aan jou kant. As die een val, kan die ander hom ophelp. Huwelike wat hou deur storms, is waar huweliksmaats in een span is. Dit is nie Survivor nie. Jy en jou maat is eerder deel van The Amazing Race.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Aan die begin was sy andersheid vir jou oulik, nou irriteer sy gewoontetjies jou. Maar dis dalk die bril waardeur jy kyk wat maak dat jy sukkel om hom te aanvaar. As jy ook jou man beter wil verstaan, móét jy hierdie boek lees! Mal oor jou man is beskikbaar op www.voelgoedwinkel.co.za teen R80.

 

lyn_3.png

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.