Wie doen wat… en bly getroud

Riaan van Rensburg

 

lyn_3.png

GRATIS

Ontdek die geheim om jou huwelik van so-so, tot sjoe te vat. Laai die e-boek 21 Dae tot `n fantastiese huwelik GRATIS af. Gebruik die afslagkode OKT16 wanneer jy die boek in jou mandjie sit. Aanbod geldig tot 23 Oktober.

lyn_3.png

Huishoudelike take is daardie goed wat niemand wil doen nie, maar wat tog gedoen moet word. Musikant Riaan van Rensburg en sy Christina doen dit so.

Een struikelblok wat elke getroude paartjie vroeg-vroeg te bowe moet kom, is wie doen wat. Nie wat elkeen as ’n beroep doen nie, maar daardie sleurwerkies soos wie die kos maak, die wasgoed was, die vuilgoed uitvat of die gloeilampe vervang.

CHRISTINA: Met twee klein dogtertjies gaan dit party dae maar wild om ’n huishouding alleen te hanteer. Ek is bevoorreg dat ek voltyds na ons kinders kan kyk. Dit is iets wat ek graag nou in my lewe wil doen, want ek weet hierdie deel van jou kinders se lewe kom net een keer. Op die oomblik verkies ek om alles self te doen, maar as ek eendag weer ’n huishulp het, gaan ek haar voete elke dag masseer. Om huis te hou is allesbehalwe koffie drink en heeldag sepies kyk.

Omdat Riaan baie van die huis af weg is, moet ek soms ook meer “manlike” take hanteer. Nie dat ek omgee nie. In ons huis is hy die een wat sorg vir brood op die tafel. Ek hoef darem nie self ’n geiser reg te maak nie. Hy is baie goed om te reël en te delegeer.

RIAAN: Ek is nie een van daardie ouens wat met ’n boor in die huis rondloop op soek na goed om reg te maak nie. As kind was dit vir my lekker om my pa te help as hy iets vir sy ateljee bou, maar ek het nie self daardie gawe nie. Iets het êrens verkeerd geloop. Saam met ander mense is ek nie te sleg nie, maar as daar wel iets is wat in die huis gedoen moet word, sal ek gou ’n paar pêlle bel en dan maak ons sommer ’n dag daarvan.

CHRISTINA: Aan die begin van ons huwelik het dit miskien gebeur dat ons sekere goed van mekaar verwag het. Elke paartjie kom uit verskillende ouerhuise waar die taakverdeling tussen man en vrou anders was. As my ouers kom kuier, vra ek sommer my pa om sy boor saam te bring, want hy is handig en hy hou daarvan om sulke goed te doen. Daar was so ’n paar keer aan die begin dat ons ’n onderonsie of twee gehad het omdat die ander een nie iets gedoen het wat jy verwag het hy sou doen nie, maar ons baklei nie meer daaroor nie. Ons het die saak opgelos, maar wat vir ons werk, werk nie noodwendig vir ander mense nie. Mettertyd leer en aanvaar jy die ander een se talente en voorkeure.

RIAAN: Christina is byvoorbeeld baie handig. Sy maak nou nie haar eie botter nie, maar ten minste hoef ek nie iemand te betaal om my sokkies te stop nie.

CHRISTINA: As dit maar net sokkies was, maar nou bring hy hierdie stokou T-hemde vol gate vir my om reg te maak.

RIAAN: Haai, ek pas my klere op. Dis vir my moeilik om afskeid te neem van goed. Ons albei het die neiging om ’n bietjie op te gaar. Aan die een kant is dit seker goed, want dit wys ons kan waarde heg aan belangrike dinge, maar as ons minder opgaar, sal daar miskien minder goed wees om reg te pak en skoon te maak. Miskien moet ’n mens elke nou en dan al die meubels uit die huis dra en ordentlik van hoek tot kant skoonmaak.

CHRISTINA: Riaan het ook sy sterk punte. Hy kan wonderlike toebroodjies maak. Hy sal sommer so ’n paar goed bymekaar gooi en dan is daar ’n heerlike broodjie. Ek hou van kosmaak, maar soms voel dit soos werk. Riaan is altyd honger. Hy is soos my pa. Hulle eet ontbyt, middagete, dan koek en koffie hulle. En vanaand vra hulle wat is daar vir aandete. Hy is nooit nié honger nie. Ek is seker hy het ’n betonmenger vir ’n maag.

RIAAN: Maar ek kan nie help jy maak sulke lekker kos nie.

CHRISTINA: Gelukkig is Riaan baie goed met skottelgoed was. Dit vergoed vir die kook. Gee vir hom ’n aangebrande pappot en hy maak hom vir jou skoon. Glase ook. Silwerskoon. Hy vat ons ook, veral as hy ’n ruk lank van die huis was, uit vir ete. Na plekke waar die kinders kan speel sodat ons ’n bietjie kan kuier en ek kan ontspan.

RIAAN: Ek kan darem meer as net toebroodjies maak. Na skool het ek ’n ruk lank oorsee gebly. Gelukkig nooit alleen nie. Saam met my huismaats het ek ’n bietjie leer kosmaak. ’n Pasta hier, ’n pesto daar. Ek kan klere ook was, maar probeer die werk vir myself so min moontlik maak deur byvoorbeeld klere aan hangers te hang sodat dit nie kreukel nie. As ek alleen by die huis is, sal ek ook nooit die werk laat ophoop nie.

CHRISTINA: Alhoewel ek nie maklik na die korporatiewe wêreld sal teruggaan nie, kan dit soms eentonig raak by die huis. Daar is beslis tye dat ek net ’n bietjie wil uitkom, in die winkels rondloop of saam met vriendinne kuier. Die grootste bederf wat Riaan my kan gee, is om na die kinders te kyk sodat ek kan doen net wat ek wil. Of dit nou is om net ’n bietjie laat te slaap of alleen ’n fliek te gaan kyk.

Hy doen dit gereeld. Sodra hy sien ek raak ’n bietjie brombeer, sal hy na die kinders kyk sodat ek net kan asem skep.

RIAAN: Al moet ek dit nou self sê, is daar min mans wat so goed soos ek vuil doeke kan omruil.

CHRISTINA: Die huwelik is harde werk. Nie net figuurlik nie, letterlik ook. As jou ma en pa nie meer daar is om goed vir jou te doen nie, kom jy agter die grootmenswêreld is nie maklik nie. Ek dink net dit is belangrik om te sorg dat klein dingetjies nie tussen ’n paartjie kom nie.

RIAAN: Ek stem saam. As ’n mens op die liefde en vriendskap fokus en die jakkalsies deur kommunikasie probeer uitroei, moet dit mos goed gaan. Vir my is dit verskriklik belangrik dat die atmosfeer by die huis reg is. Selfs al kom daar tye in my loopbaan wat dit stil is, gee ek nie om nie, want as my vrou en kinders gelukkig is, sal die res in plek val.

’n Mens moet sonder enige verwagtings in ’n huwelik ingaan. Jy en jou vrou is uniek, julle verhouding is uniek, julle situasie is uniek. My en Christina se verskillende rolle en take gaan verskil van ander paartjies s’n. Maak beurte om goed te doen sodat elkeen kan voel hoe dit is om die klere te was of die ligte reg te maak. Miskien sal dit meer begrip en waardering vir mekaar meebring.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Aan die begin was sy andersheid vir jou oulik, nou irriteer sy gewoontetjies jou. Maar dis dalk die bril waardeur jy kyk wat maak dat jy sukkel om hom te aanvaar. As jy ook jou man beter wil verstaan, móét jy hierdie boek lees! Mal oor jou man is beskikbaar op www.voelgoedwinkel.co.za teen R80.

 

lyn_3.png

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.