Heerlike winter warm kerrie geregte

hoender kerrie

Van die Kaap tot in Natal geniet almal so nou en dan ’n lekker geurig voorbereide kerrie gereg. Hier is ’n paar vir jou resepte boek.

Kaaps-Maleise hoenderkerrie

Genoeg vir 6
Tyd: 35 minute

BESTANDDELE

15 ml masala-kerrie
125 ml koekmeel
6 hoenderborsies
olyf- of avokado-olie, vir vlakbraai
2 uie, in skyfies gesny
10 ml komynsaad
1 knoffelhuisie, fyngedruk
3 cm grootte stukkie gemmer, fyngerasper
1 blik (410 g) gekapte tamaties
375 ml ongegeurde jogurt + ekstra
’n hand vol koljander, gekap

Vir die sambal (opsioneel)

½ ui, fyngekap
2 tamaties, gekap
10 ml suiker
30 ml wit asyn
naan-brood of rys vir opdiening

METODE

1. Meng helfte van die masala en die meel saam. Geur. Sny die hoender in happiegrootte blokkies en meng dit met die meel. Skud die oortollige meel af. Verhit ’n bietjie olie in ’n pan oor matige hitte en vlakbraai die hoender in sarsies tot goudbruin. Geur en plaas eenkant.
2. Verhit nog ’n bietjie olie in ’n pan en soteer die uie en komynsaad. Voeg die knoffel, gemmer en die ander helfte van die masala by en vlakbraai 1 minuut. Voeg die tamaties by en laat die mengsel prut. Voeg die hoender by en laat die mengsel nog 5 minute prut tot deurgaar. Indien nodig, voeg ’n bietjie water by om te voorkom dat die kerrie uitdroog.
3. Vir die sambal: Meng al die bestanddele saam. Meng die jogurt en koljander deur die kerrie en verhit sonder dat die kerrie begin kook. Sit voor saam met die ekstra jogurt, sambal en naan-brood of rys.

[pagebreak]

Weskusviskerrie

Genoeg vir 6
Tyd: 25 minute

BESTANDDELE

olyf- of avokado-olie, vir vlakbraai
2 uie, gekap
stukkie gemmer, 3 cm lank en fyngerasper
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml kerriepoeier
5 ml paprika
30 ml tamatiepasta
1 kg witvisfilette, sonder vel en grate
250 ml visaftreksel
500 g halfskulpmossels, ontdooi
30 ml mielieblom
1 blik (400 g) klappermelk
15 ml bruinsuiker
’n hand vol koljander, fyngekap
rys en suurlemoenskyfies vir opdiening

METODE

1. Verhit die olie oor matige hitte in ’n pan en soteer die uie, gemmer en knoffel. Roer die kerriepoeier, paprika en tamatiepasta by. Sny die vis in happiegrootte blokkies en voeg saam met die aftreksel en mossels by die uiemengsel. Bedek en laat die kerrie 25 minute prut tot gaar.
2. Meng die mielieblom met ’n bietjie klappermelk tot ’n gladde pasta. Voeg die mielieblommengsel, die res van die klappermelk en die suiker by die kerrie. Verhit sonder dat die kerrie kook. Geur. Meng die koljander by. Dien op saam met die rys en suurlemoenskyfies.

[pagebreak]

Durbanse bief-en-boontjie-kerriebrood

Genoeg vir 6
Tyd: 1 uur en 50 minute

BESTANDDELE

olie, vir vlakbraai
1 kg ontbeende stowebeesvleis, in happiegrootte blokkies gesny
3 takkies kerrieblare
2 uie, gekap
1 rissie, fyngekap (opsioneel)
15 ml fyn garam-masala
1 blik (410 g) gekapte tamaties
1,25 liter biefaftreksel
150 g groenbone, in 2 cm-grootte stukkies gesny
1 blik (400 g) rooi nierbone, gedreineer
’n skeut suurlemoensap
’n hand vol koljander, fyngekap
1 groot ongesnyde brood (sandwich loaf)

METODE

1. Verhit ’n bietjie olie oor hoë hitte in ’n kastrol en vlakbraai die vleis in sarsies tot bruin. Geur en plaas eenkant. Voeg die kerrieblare, uie en rissie by en soteer. Plaas die beesvleis terug in die kastrol en meng eers die masala en dan die tamaties by. Voeg die aftreksel by, bedek en laat 1½ uur prut tot die vleis sag is.
2. Voeg al die bone en suurlemoensap by laat 5 minute kook. Voeg die koljander by. Sit die brood op sy onderkant neer en sny die bokant horisontaal af. Hol die brood uit maar laat ’n rand van 2 cm rondom. Vul die brood met die kerrie en dien op.

[pagebreak]

Karoo-lamskerrie

Genoeg vir 6
Tyd: 1 uur en 20 minute

BESTANDDELE

sonneblomolie, vir vlakbraai
1,5 kg opgesnyde lamskenkels
2 uie, gekap
30 ml matige kerriepoeier
1,25 liter skaapvleis- of biefaftreksel
6 gemiddelde grootte aartappels, geskil en in happiegrootte blokkies gesny
3 wortels, geskil en in 3 cm-stukkies gesny
15 ml borrie
45 ml fyn appelkooskonfyt
’n hand vol pietersielie, gekap
rys vir opdiening

METODE

1. Verhit ’n bietjie olie oor matige hitte en vlakbraai die lamsvleis in sarsies tot goudbruin. Geur en plaas eenkant. Verhit nog ’n bietjie olie en soteer die uie. Voeg die kerriepoeier by en kook 1 minuut. Voeg die lam by die uiemengsel saam met die aftreksel, bedek en laat 45 minute prut totdat die lam begin sag word.
2. Voeg die aartappels, wortels en borrie by en laat 20 minute kook totdat die aartappels sag is. Meng die konfyt en pietersielie by. Geur. Sit voor saam met rys.

[pagebreak]

Kerriehoender met gemmer, sitroengras en klapper

Genoeg vir 2
Tyd: 30 minute

BESTANDDELE

3 knoffelhuisies, geskil
10 ml vars sitroengras, in dun repies gesny
10 ml vars gemmer, fyngerasper
’n knippie sout
2,5 ml fyn neutmuskaat
30 ml Thaise groen kerriepasta
30 ml olyfolie
1 ui, in klein blokkies gekap
5 ml bruinsuiker
500 ml hoenderaftreksel
1 blik (400 ml) klapperroom
300 g hoenderdye, gekap
125 g babawortels, geskil
200 g aartappels, geskil en in blokkies gesny
120 g babamielies
100 g suikerertjies
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
vars basilieblaartjies of koljanderblare, vir opdiening
gestoomde basmati-rys, vir opdiening

METODE

1. Plaas die knoffel, sitroengras, gemmer en sout in ’n vysel. Stamp die mengsel fyn totdat ’n klonterige pasta begin vorm. Voeg die neut en kerriepasta by en stamp verder fyn vir ’n gladder pasta.
2. Verhit die olie in ’n kastrol en braai die uie oor matige hitte tot sag en deurskynend, sonder dat dit te veel verbruin. Verhoog die hitte en roer die knoffelpasta en suiker by. Vlakbraai ’n paar minute om al die geure in die speserye vry te stel. Roer die hoenderaftreksel en klapperroom by en laat die mengsel stadig prut. Voeg die hoenderstukkies, wortels en aartappels by en laat 15 minute prut.
3. Voeg die mielies en suikerertjies by en kook tot alles sag is, ongeveer 10-12 minute. Geur.
4. Sprinkel die basilie- of koljanderblare bo-oor en sit voor saam met basmati-rys.

[pagebreak]

Kerriepampoen met kekerertjies en piesang

Genoeg vir 4
Tyd: 60 minute

BESTANDDELE

45 ml olie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekap
10 ml fyn gemmer
5 ml fyn koljander
3 ml fyn komyn
3 ml borrie
3 ml fyn kaneel
500 g pampoen, in blokkies gesny
10 ml sterk kerriesmeer
2 tamaties, gekap
250 ml groente-aftreksel
1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer
1 piesang, in dik skywe gesny
’n hand vol vars koljander, gekap, vir opdiening

METODE

1. Verhit 30 ml olie in ’n groot kastrol. Voeg die uie, knoffel, gemmer en speserye by. Vlakbraai oor matige hitte tot goudkleurig.
2. Meng die pampoen en kerriesmeer in ’n bak totdat al die pampoen deeglik met die smeer bedek is.
3. Voeg die tamaties en groente-aftreksel by die uiemengsel, bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat die mengsel 15 minute prut.
4. Verhit die res van die olie in ’n pan en vlakbraai die pampoen 5 minute tot goudkleurig en sag.
5. Voeg die pampoen by die tamatiemengsel saam met die kekerertjies. Bedek en laat 15 minute kook totdat die pampoen sag is. Voeg die piesang by en laat ’n verdere 5 minute kook. Roer die koljander by en sit voor saam met rys of naan-brood.

[pagebreak]

Kerrievissop

Genoeg vir 4
Tyd: 40 minute

BESTANDDELE

2 aartappels, geskil en in blokkies gesny
olyf- of avokado-olie, vir vlakbraai
1 ui, in dun skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml matig-sterk kerriepoeier
1 blik (410 g) gekapte tamaties
1,5 liter groente- of visaftreksel
1 blik (400 g) kekerertjies
’n skeut suurlemoensap
250 ml ertjies
500 g witvisfilette, in 2 cm-grootte stukkies gesny
’n hand vol koljander, gekap
8 poppadoms

METODE

1. Maak die aartappels in kokende soutwater gaar tot sag, ongeveer 15 minute. Dreineer en druk die aartappels fyn (daar behoort 180 ml aartappel te wees).
2. Verhit intussen ’n bietjie olie en soteer die uie en knoffel. Voeg die kerriepoeier en tamaties by en kook 1 minuut. Voeg die aftreksel by en bring tot kookpunt.
3. Voeg die aartappels, kekerertjies en suurlemoensap by en laat kook 5 minute totdat die mengsel begin verdik. Voeg die ertjies en vis by en kook nog 5 minute totdat die vis gaar is. Meng die koljander by.
4. Maak die poppadoms volgens die aanwysings op die pakkie. Sit sop voor saam met die poppadoms.

[pagebreak]

Tradisionele melktert met ’n amandelkors

Genoeg vir 1 melktert
Tyd: 1 uur + 1 uur afkoeltyd

BESTANDDELE

Kors

200 g fyn amandels
100 g bruinsuiker
50 g koue botter, in blokkies gesny
30 ml yswater

Vla

4 groot eiergele
50 g mielieblom
250 ml melk
150 g suiker
saadjies van ’n halwe vanieljepeul
fyn kaneel, vir opdiening

METODE

1. Stel die oond op 180 °C en smeer ’n tertpan liggies.
2. Vir die kors: Meng die amandels, bruinsuiker en botter in ’n bak. Gebruik jou vingerpunte en vryf die botter in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die yswater by en meng totdat ’n deeg vorm. Draai die deeg in kleefplastiek toe en plaas 10-15 minute in die yskas om te verkoel.
3. Druk die deeg op die boom en teen die kante van die tertpan vas en bak blind vir 20-25 minute tot goudkleurig.
4. Vir die vla: Meng die eiergele, mielieblom en ’n bietjie melk tot ’n gladde pasta.
5. Verhit die oorblywende melk saam met die suiker en vanieljesaadjies in ’n dubbelkoker. Voeg die eiermengsel by sodra die melk warm is. Klits aanhoudend totdat die mengsel dik genoeg is om aan die agterkant van ’n lepel te kleef.
6. Gooi die vlamengsel in die kors, besprinkel met kaneel en plaas 1 uur in die yskas om af te koel voor opdiening.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test