Hoe laat ek my lewe saak maak?

1090

Smag jy na ’n lewe met betekenis? Dan sal iets moet verander. Ons help jou om dit te laat gebeur met ’n klompie doeltreffende wenke.

Mense besluit van tyd tot tyd om ’n nuwe blaadjie om te slaan. Dan gebeur die lewe. Daar is net te veel dinge wat ’n mens se aandag aflei en jou energie steel. ’n Paar maande later het die vlammetjie verflou en is jy nog niks verder as aan die begin nie.

Dan begin jy skuldig voel en verwyt jouself dat jy nie by jou voornemens gehou het nie. Jy gee op en leef maar weer ’n middelmatige lewe.

Almal smag na ’n sinvolle lewe, maar dit lyk asof net ’n klein persentasie gelukkige mense weet hoe om dit te kry. Dit hoef egter nie so te wees nie! Jy kan ’n nuwe begin maak met ’n paar planne wat jou sal help om hierdie keer regtig jou doelwit te bereik.

Dis moeilik om vervuld te wees as ons elke dag op autopilot leef en al harder en harder werk. Ons lewe kort balans.

Iewers langs die pad het ons begin om geluk te koppel aan wat ons het, in plaas van aan wat ons doen. Ons probeer om daardie onverstaanbare leegheid te vul met alles rondom ons. Dit werk ongelukkig nie so nie. Daardie nuwe sitkamerbank of duur pêrelhangertjie maak jou net vir ’n klein rukkie gelukkig.

Werklike vervulling kom van binne. Die geheim is om presies te weet wat ’n mens wil hê, sodat jy nie anders kan as om daardie droom uit te leef nie. Die dryfkrag kom as jy iets doen in ooreenstemming met wie jy regtig hier binne is. Dan leef jy met nederige eenvoud jou roeping uit en maak jou lewe regtig saak – vir jouself én ander.

Hier is 10 wenke wat jou kan help om ’n meer doelgerigte lewe te lei. Dié dinge het niks te doen met geld of besittings nie, maar wel met die unieke eienskappe binne jou.

1. Aanvaar verantwoordelikheid vir jou eie lewe

Was daar al tye dat jy moedeloos gevoel het en gedink het die lewe is nie regverdig nie? Jy probeer jou bes, maar kry net nie ’n oorwinning êrens behaal nie. Jy is tog talentvol, intelligent en kreatief, maar dinge wil net nie reg uitwerk nie. Twyfel, angs en vrees oorheers alles en daar is kort-kort ’n woedeuitbarsting.

Ons is geneig om die oorsaak van ons probleme buite onsself te soek. Dit is maklik om ander en omstandighede te blameer, in plaas van om ’n bietjie selfondersoek te doen. Ons glo mos as ons maat, werksomstandighede of die een of ander verhouding verander, dán sal die wêreld perfek en gelukkig wees.

Wat is jou bydrae tot die situasie? Elke vrou het ’n storie in haar verlede wat veroorsaak het dat sy onbewustelik die lewe volgens ’n sekere “bloudruk” ervaar en hanteer. Groei gebeur deur jouself te leer ken en die “storie” wat jou denke, emosies en gedragspatrone gevorm het, te verstaan en te aanvaar.

Maak vrede met die ervaring wat jy nou het. Moenie die gevoelens en realiteit probeer onderdruk of keer nie. Wees in die oomblik mét die emosies wat daar is, maar moenie toelaat dat dit jou beheer nie.

Besluit op die beste manier om te reageer in plaas van die autopilot-reaksie en optrede van die verlede. Jou fokus verskuif na wat nóú beskikbaar is, en jy is meer ontvanklik vir wat die lewe jou nóú kan bied.

2. Hou op uitstel en begin werk aan die toekoms

Drome word nie waar nie maar visies wel. ’n Visie is ’n droom wat begin met ’n wilsbesluit en dan oorgaan in aksie.

Waar jy vandag is, is die somtotaal van al die besluite wat jy deur die loop van jou lewe geneem het. Voordat spyt oorneem, besef dat jou mislukkings, huidige omstandighede en die opinies of optrede van ander nie die toekoms hoef te beheer nie.

Besluit vandag om jou van al hierdie dinge af te sny. Jy het die mag om dit te kanselleer en daardie boek finaal toe te maak. Jou toekoms sal bepaal word deur jou keuses vanaf hierdie oomblik vorentoe.

Soos salms die see verlaat en teen rivierstrome op swem, moet ons teen die norm beweeg en ons gemaksone verlaat. Ja, jy gaan moeg word en die strome van die lewe gaan dreig om jou mee te sleur, maar solank jy jou oë op ’n visie hou en sorg dat jy elke dag in daardie rigting vorder, sal alles uitwerk.

’n Vervulde lewe het nie net een bestemming nie. Dit is ’n reis met duisende bestemmings opgemaak uit doelwitte en beloftes wat jy daagliks aan jouself maak en nakom. Dit lê in die daaglikse besluite wat jy neem en in positiewe gewoontes omskakel.

Maak hierdie reis ’n daaglikse avontuur en merk soveel items moontlik langs die pad af. Vier elke oorwinning, klein of groot. ’n Vervulde lewe hoef nie eendag te begin nie. Dit begin vandag!

3. Beplan ’n strategie om jou droom te verwesenlik

As jy dink dat dit te laat is om jou drome te bewaarheid, maak jy ’n baie groot fout. Herinner jouself daagliks dat drome nié ’n vervaldatum het nie.

Dink terug aan toe jy ’n kind was. Onthou weer al die planne en al die dinge wat daardie langbeen graag wou doen. Dit is nog daar! Grawe diep genoeg en jy sal dit vind en dit steeds kan bereik.

Vandag se lewe is bedrywig. Ons doenlysies is elke dag vreeslik lank: kinders, werk, bekommernisse. Ons verstand is so vol dat daar geen ruimte is vir beplanning en kreatiwiteit nie. Ons verloor dus duidelikheid oor wat ons in die lewe soek en waarna ons smag.

Gaan ontspan ’n bietjie op ’n stil plek. Dink wat jou begeertes jare terug was en skryf dit neer. Maak tyd om gereeld hieraan te dink en dit te visualiseer. Beplan stap vir stap hoe jy daarby gaan uitkom. Doen dan elke dag drie dinge, hoe klein ook al, wat jou nader aan jou droom gaan bring. Moenie moed opgee nie!

Vergeet van die dinge wat jou weghou en terughou, jy is méér as dit en kan dit oorkom. Breek deur die struikelblokke. Voer jou gedagtes met positiewe dinge en elimineer alle negatiewe gedagtes.

Onthou, niemand is ooit te oud om haar droom te bewaarheid nie. En om jou omstandighede as verskoning te gebruik is teen die reëls!

4. Kom stap vir stap uit jou gemaksone

Hoe pak ʼn mens jou lewe op ’n nuwe manier aan as jy eintlik heel gemaklik voel daar waar die lewe voorspelbaar en risiko beperk is?

Tyd is altyd teen ons, daarom is gemak ons grootste vyand. Gemak vreet jou lewenstyd op sonder dat jy dit besef.

Jy is nie maar toevallig hier nie. Die Here het jou ten volle toegerus met onbeperkte potensiaal en ’n gees van oorwinning. Jy is uniek gemaak vir ’n unieke rol.

Daar is geen plaasvervangers op die bank nie, niemand wat opwarm om jou plek in te neem nie. As jy nie jou doel en potensiaal uitleef nie, is daar ’n leemte en word daardie rol nooit vervul nie.

As Hy jou dan met hierdie doel geskep het, is daar mos geen manier wat Hy jou halfpad in die steek sal laat nie. Hoekom toelaat dat vrees in die pad staan?

Begin deur een klein positiewe gewoonte in jou daaglikse roetine in te bou, iets wat jou uit jou gemaksone neem. Doen dit elke dag. Voeg gereeld nog positiewe gewoontes by en doen dit tot dit deel van jou menswees is.

Op hierdie manier is jy besig om jou brein te herbedraad om die lewe op ’n ander manier te sien en op ’n nuwe manier te leef. Só gee jy klein treetjies uit jou gemaksone.

Moenie die impak van jou gewoontes aan jouself meet nie, maar aan die impak wat dit op die lewens van ander het.

5. Glo dat jy ook sukses kan behaal

Volg jy ook graag ander mense se suksesstories? Wens jy jy kon ook so suksesvol wees, so mooi, so goed gebou, so sprankelend, so stylvol aangetrek?

Dis nie nodig om net met bewondering toe te kyk hoe ander sukses behaal nie. Onthou, die definisie van sukses spesifiseer nie wat sukses is nie. Dit verwys slegs na die bereiking van ’n doelwit.

Een vrou wil die Comrades-marathon hardloop en onder die eerste 10 eindig. Die ander vrou wil haar tyd verbeter van 10 uur na 9 uur en nog een wil net die moordende wedloop voor die afsnytyd voltooi. Maak dit een vrou meer of minder suksesvol as die ander? Glad nie. Hulle het almal hulle doelwitte bereik en was dus almal suksesvol!

Wat keer jou om daardie droom te verwesenlik? Is jy onseker? Weet jy nie waar om te begin nie? Is finansies die probleem? Nie genoeg tyd nie? Is die tyd nie reg nie? As jy weet wat die struikelblokke is wat jou terughou, is dit makliker om dit te oorkom.

Elke persoon se storie gaan anders wees, want elke persoon se definisie van sukses verskil. Bring dit in verband met God se groter plan met jou lewe. Vertrou op Hom om jou te help om daardie plan suksesvol uit te leef.

Hou op dink dat net ander sukses kan behaal. Skryf jou eie suksesstorie. Bladsy vir bladsy, totdat dit ’n hoofstuk word en later ’n hele boek en nog later ’n topverkoper.                                                           

6. Wees die beste jy sonder om te vergelyk

Mense hou daarvan om hulleself met ander te vergelyk. Of hulle vergelyk ander mense met mekaar. Dit beteken eintlik jy wil soos iemand anders wees. Of verwag iemand anders moet soos jy wees. Iémand moet verander!

Vergelykings het altyd ’n wenner en ’n verloorder. Die een aan wie gemeet word, staan eerste op die podium, ten koste van die een wat moet verander.

Op grond van die mooi brokkies wat daardie vrou vir die wêreld wys, breek jy jouself af. Jy word jaloers en voel minderwaardig. Jou selfvertroue is daarmee heen.

Dit is soos om deur ’n sleutelgat te kyk. Die persoon lyk gelukkig, ryk en suksesvol. Maar wat weet ander van haar lewe? Wie is sy agter geslote deure en waarmee worstel sy? As jy dit kon sien, sou jy dalk dink: Is dit die mens wat ek graag wíl wees? Is dit die lewe wat ek regtig wíl leef?

Die enigste persoon met wie jy jou moet vergelyk, is jyself. Wat is jou swak punte? Hoe kan jy hulle regstel of verbeter? Wat is jou sterk punte? Hoe kan jy dit oppas en uitbou? Waar is jy nou in die lewe en waarheen wil jy gaan? Wat is die plan om daar uit te kom? Dit is ’n lewenslange proses.

Wanneer jy jou net met jouself vergelyk, doen ’n behoorlike voorraadopname. Kyk na wie jy gister was, nie na wie iemand anders vandag is nie. Dan verbeter jy volgens jou eie waarde.

7. Praat opbouend met jouself, soos met ’n vriendin

Het jy al agtergekom dat wanneer jy besluit om ’n spesifieke soort handsak te koop, daar skielik baie van daardie tipe handsakke te sien is? Of iemand sê: “Ek is ’n regte ongeluksvoël”? Deur iets te sê, gee ons dit lewe en bestaansreg!

As jy liefde, sukses, rykdom en gesondheid soek, waarom nie jou gedagtes en energie daarop fokus nie? Konsentreer op die dinge wat jy wil hê, nie op wat jy nié wil hê nie.

Galasiërs 6:7 sê wat ’n mens saai, sal hy maai. Dit geld vir gedagtes en woorde ook. Dis maklik om die dag te begin deur iets negatiefs te sê wat jou hele menswees beïnvloed. Dit stel adrenalien en kortisol vry, wat jou beangs, gejaagd en geïrriteerd laat voel.

Pluk daardie negatiewe idee uit die oomblik wanneer jy dit gewaar en plant iets aangenaams in sy plek. Gedagtes is energie. Hoekom nie liewer goeie energie gebruik nie? Positiewe energie stel serotonien en dopamien vry, die goedvoel-hormone wat die wêreld mooi laat lyk en voel.

In plaas van om voor die spieël te staan en te sê: “Ek sal moet oefen, want ek word vet,” praat asof met ’n vriendin en sê liewer: “Ek wil oefen, want ek wil fiks en gesond wees.”

Dit help om positiewe bevestigende stellings uit te dink om elke dag te herhaal. Aan die begin hoef dit nie eens iets te wees wat waar is nie. Onthou, jou realiteit is al die dinge wat jy van jouself dink en sê!

8. Vertrou jou innerlike wysheid en intuïsie

Baie mense erken hulle is uit voeling met hulle sesde sintuig, of bang om dit te vertrou. Die meeste hoor daardie stemmetjie eenvoudig nie. Die ander “stem” – vals oortuigings, wanpersepsies, negatiewe denke – oorheers alles. Dis die stem wat jou eie wysheid afkraak en behep is met wat ander dink.

Een rede hoekom ons nie op ons intuïtiewe gedagtes staatmaak nie, is dat ons dink dit maak nie sin nie. Jy kry ’n idee om iets te doen, en twyfel dan as dit nie in die raamwerk van jou rasionele denke pas nie. Jy dink dis te vergesog of te toevallig.

Baie mense slaapwandel deur die lewe. Ons is glad nie bewus van wat om ons gebeur nie. Ons wil ’n sesde intuig ontwikkel, maar gebruik nie eers die ander vyf nie!

Daar is verskeie metodes wat kan help, soos meditasie. Leer om stil te raak. Begin doelbewus subtiele tekens raaksien, veral dié wat oor en oor voorkom. Onthou, daardie weet-sonder-om-te-wéét-gevoel is subtiel maar vasbeslote; hy hou gewoonlik aan tot hy aandag kry!

Die hol kol op jou maag, die ongemaklikheid in jou keel, die fladdering in jou bors – dit is daardie innerlike stem wat praat. Leer om eers daaraan aandag te gee voordat die wasmasjienbrein dinge begin ooranaliseer. Die outydse “tel tot 10” werk nogal.

Baie mense het probleme om ander te vertrou en ondergaan selfs terapie daarvoor, maar eintlik het ons verleer om onsself te vertrou. Let op hoe gereeld jou aanvoeling reg is en jy sal agterkom hoe wys jy eintlik is!

9. Kry iemand om jou te motiveer en aanspreeklik te hou

Jy maak beter keuses en presteer ook beter as jy dopgehou word. As jy aanspreeklik gehou word vir jou aksies en uitkomste, sal jy outomaties harder werk.

Interne en eksterne aanspreeklikheid aktiveer die “ek-sal-jou-wys”-sneller, ’n sneller wat dikwels lukraak getrek word sonder om met presisie te mik. Slaggate, potensiële ontmoedigings, gevaarligte en beter alternatiewe word deur hierdie persoon uitgewys.

Daar is ’n inherente behoefte in elke mens om ondersteuning te kry om sodoende na die volgende vlak te beweeg. Dit verg dikwels ’n stewige vashouhand en ’n wakker, waaksame oog wat jou aanmoedig om die konkrete onderneming wat jy gemaak het, te kontroleer en te evalueer.

Die oomblik as jy moet rekenskap gee van doelwitte wat jy vir jouself gestel het, skop daar ’n gevoel van eienaarskap in. Dit aktiveer die gevoel van “ek móét nou leef en uitvoer wat ek onderneem het”.

Nie net stel jy jouself teleur indien die resultate of uitkomste nie bereik is nie, maar nou word daar ook deur die fynkykbril van jou aanspreeklikheidsvennoot gekyk.

’n Mentor, lewensafrigter of vriend herinner jou aan jou doelwitte. Wanneer iemand jou vordering dophou, word die uitdaging vergroot om die gestelde doelwitte te bereik. Jy wil mos nie graag ander mense teleurstel nie! Daar word dus aan jou die verantwoordelikheid opgedra om werk te maak van waarna jy streef, waaroor jy droom en waarop jy hoop.

Omring jouself met mense wat jou aanspoor en uitdaag om die beste jy te wees.

10. Maak tyd vir rus en waardeer die mooi dinge

Die lewe is ’n avontuur en jy kan uitsien daarna om jou lewe te laat saak maak. Tog wonder ’n mens dikwels hoe jy in hierdie avontuur beland het. Wanneer jou seile skeur en jou skip skade aan sy romp opdoen, moet jy anker uitgooi en vir ’n rukkie in die see dobber.

Dit gee jou tyd om herstelwerk te doen. In sulke tye is hartsmense daar om te help, te troos en jou aan te moedig om weer met nuwe krag voort te vaar.

Skepe lig nie die anker en seil uit die hawe as hulle nie weet waarheen hulle op pad is nie. Maar hulle bly ook nie vir altyd vasgemeer nie. Jy is die kaptein van jou lewenskip, en jy moet ’n plan hê vir die volgende bestemming.

Kyk rond en geniet ook die dinge wat met jou hart praat – ’n mooi blom, ’n perfekte sonsondergang, ’n baba se volmaakte toontjies.

Soms moet jy vasmeer by hawens om die ergste skade te herstel en lewensbelangrike voorrade aan te skaf om weer jou reis te kan aanpak. ’n Hawe is die plek waar ons stil raak en weer besin en aanpassings maak. Daarna pak jy dan die lewe anders aan as gevolg van die dinge wat jy geleer het.

Elke keer raak ons slimmer en reis ons slimmer. Wanneer ons dan verder gaan, voel ons verfris en sien weer kans vir al die uitdagings wat kom.