[VIDEO] Hoe oefen ek tuis?

605

Saamgestelde oefeninge is ’n maklike, vinnige manier om daagliks en in die gerief van jou eie huis oefening te kry.

Omdat ons teen so ’n vinnige pas leef, skuif gym alte dikwels tot heel onderaan ons doenlysie. As jy net ’n kort tydjie kan afknyp om aan jou fiksheid te werk, wil jy iets hê wat vinnig die beste resultate sal lewer. Dis nog beter as jy dit teen jou eie pas en in die gemak van jou huis kan doen.

Daar is ’n verskeidenheid dinge wat hiermee kan help. Alhoewel isolasie-oefeninge voordele inhou, is die beste om saamgestelde oefeninge te doen met vollyfbewegings wat die hele lyf betrek, die meeste spiere aktiveer en die meeste kilojoules in die kortste tyd verbrand. ’n Verdere voordeel is die kleiner risiko dat jy jou sal ooreis.

Die topvyf wat spier- en kardiovaskulêre oefening betref, is hurke, opstote, trisepsafsakke, boudbrûe en burpees, wat gekombineer kan word vir ’n intense oefensessie wat al die spiere inspan om tonus te verbeter, vet te verbrand en krag te bou.

Vir afwisseling en om die sessie meer uitdagend te maak, kan die tegnieke aangepas word. Gewone hurke kan byvoorbeeld omgesit word in springhurke, dubbele polshurke of selfs vir ’n bepaalde tyd staties gehou word, om net ’n paar opsies te noem.

Om by die huis jou eie sessie aanmekaar te sit, kan jy die horlosie stel vir 30 sekondes oefen met 15 sekondes rustyd. Begin met hurke en werk deur tot by burpees.

Rus dan vir ’n minuut en begin weer van voor af. Jy kan selfs enige tyd deur die dag wanneer jy ’n paar minute beskikbaar het, een van die tegnieke kies en dit vir ’n minuut lank doen.
 

Marijke Cilliers, persoonlike afrigter

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Marijke.