HOE OM… jou lewe te orden in net tien minute

788

Vir ’n besige vrou kom spaar oomblikke in klein porsies: 10 minute tydens die wasgoedsiklus of in die verkeer. Werk slim en skep orde terwyl jy wag!

1. Moenie alles op een slag probeer doen nie

Soms voel dit asof die chaos jou heeltemal wil oorweldig.

Jy hardloop rond en kom net nie by alles uit nie. Die stemme in jou kop sê jy is agter en sal nooit ’n netjiese huis en lewe kry nie.

Om alles op een slag te probeer doen sal jou net moedeloos maak. Gee eerder klein treetjies en maak stukkie vir stukkie vordering.

Dit is nie nodig om ’n hele dag of ’n paar uur te hê nie. Werk net slim en maak ’n groot verskil – met net tien minute op ’n slag!

2. Raak meer georganiseerd op ’n maklike manier

Kry ’n moet-doen-mandjie wat mooi by die vertrek of kantoor se dekor pas. Sodra jy op iets afkom wat gedoen moet word – ’n resep wat geliasseer of ’n knoop wat aangewerk moet word – gooi dit in die mandjie.

Wanneer die wagtyd aanbreek, gryp die mandjie en handel een van die takies daarin af.

Liasseer goeie idees of skep ’n Pinterest-bord daarvoor. Maak ’n lêer vir alles waarna jy wil terugverwys – die handgemaakte lampskerm, ’n nuwe haarstyl of sakpasplanne vir Sus se troue.

3. Moenie op die laaste oomblik wonder oor geskenke nie

Stel ’n geskenklys op. Werk drie maande vooruit en maak ’n lys van almal wat verjaar en die geskenke wat vir hulle sal werk. Doen dit sommer ook vir Kersfees.

Sit elke maand ’n geldjie opsy en vaar op een slag die winkels in en kry vir almal presente. Koop ook die kaartjies en geskenkpapier of geskenksakkies.

Jy sal nie op die laaste oomblik moet wonder wat om te koop nie en sal altyd voorbereid wees. Dis mos organisasie!

4. Wees gereed vir ’n noodgeval of krisis

Kry R200 se kleingeld. Dit sal vir ’n ruk genoeg wees vir die kinders se skoolsnoepie en die motorwag by die winkelsentrum.

Blaas nuwe lewe in die medisynekissie. Gooi alles weg wat verval het. Maak seker die broodnodige medisyne is daarin: pynpille, hoesstroop, pleisters, salf vir brandwonde, antihistamien, ontsmettingsmiddel en verbande.

Hou verskillende items in klein sakkies in jou handsak bymekaar. Grimering kan in ’n sakkie kom, en artikels soos pleisters en hoofpynpille in ’n ander een.

5. Netjiese kaste beteken jy kan later opstaan

Organiseer jou klerekas volgens kleur. Sit dieselfde soort kledingstukke bymekaar, broeke by broeke, rokke by rokke en toppies by toppies. Sorteer dit van lig na donker.

Grimeer sonder chaos. Gaan deur jou grimeersakkie en gooi alles uit wat nie meer gebruik word nie. Maskara moenie langer as drie maande gebruik word vandat dit oopgemaak is nie.

Gooi alle ou naellak weg en bêre die nuwe botteltjies in die yskas om langer te hou.