HOE OM… te glo soos ’n kind

CHARNÉ CRONJÉ se lewe het verander toe sy begin het om onvoorwaardelik te vertrou. En te glo dat Hy die onmoontlike in ’n oogwink moontlik kan maak.

Jy kan seker nog goed onthou hoe jy ’n wisseltand in jou skoen onder die bed gesit het. Die volgende oggend kon jy nie wag om te sien hoeveel geld die tandemuis gebring het nie. Kinders glo enigiets wat grootmense vir hulle vertel. Daar is egter een vereiste – die grootmens moet betroubaar wees.

Die Here stel dit vir ons duidelik dat ons met ’n kinderlike geloof moet glo. ’n Dogtertjie weet mos dat haar pappa haar sal vang as sy in die swembad spring. So moet jy ook weet dat jou hemelse Pa jou sal “vang” wanneer jy wil verdrink in probleme.

Jesus het in Lukas 18:17 gesê: “Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” Dit beteken jy besef dat jy niks het om op te roem nie. Dis slegs Sy genade wat jou kan red.

Daar is ’n plekkie in jou hart net vir Hom

Ek het lank aan depressie gely. Dit was so leeg binnekant. Niks kon daardie gat vul nie, selfs al het ek alles gehad waarvoor iemand ooit kon vra.

Die oomblik toe ek my vertroue in Hom begin stel het, het alles skielik net verander. Hy het vir my die mag gegee om myself deur Sy oë te sien, en dit was ’n belewenis. Ander se opinies het nie meer saak gemaak nie.

Ek het begin uitsien na wat alles vorentoe vir my beplan word. Hoekom het ek nie lankal hierdie pad begin stap nie?

Besittings, geld, mooi klere of ’n pragtige huis het geen effek op jou geluk nie. Jy moet besef dat geluk nie van buite af kom nie, maar deur die vreugde wat net Hy kan gee.

Nou is ek ’n heel nuwe mens

’n Mens se siel kla as dit afgeskeep word. Daardie siel moet gevoed word, net soos jou liggaam daagliks voedsel nodig het. Iets wat ek geleer het, is dat geloof ’n groot en belangrike rol in ’n mens se daaglikse lewe speel. Dit is die één ding wat alles bepaal.

Dit bring soveel tevredenheid. Jy maak vrede met jouself en jou omstandighede, hoe moeilik dit ook al is. Jy voel jy behoort en dit gee vir jou hoop en aanmoediging in alles wat jy aanpak.

Voorheen was daar baie dinge wat ek as vanselfsprekend aanvaar het of dalk nie eens opgelet het nie. Nou is daar soveel meer dankbaarheid en waardering vir alles om my. Vir dinge wat nooit regtig belangrik genoeg was om voor dankie te sê nie.

Dit was ’n ander tipe mens wat ’n ander tipe lewe begin leef het. Die wêreld en alles om my het nuwe betekenis gekry, asof ek uit ’n heel ander hoek daarna gekyk het. Ek het ’n nuwe blaadjie omgeslaan!

Geloof is die sleutel tot lewenslange geluk

Gestel hierdie is vir jou ook die begin van ’n wonderlike hoofstuk wat jy jou nie eens kon indink bestaan nie.

Dis my wens dat elke vrou dieselfde vrede moet ervaar. Dink ’n bietjie: Wat as een klein treetjie in die regte rigting, die grootste stap in jou lewe kan wees? Dis eers as jy ’n hartsverhouding met Hom het dat jy soos ’n dogtertjie op haar pa se skoot tevrede aan die slaap kan raak.

Dit sal wonderlik wees as jou lewe onherroeplik kan verander en jy ’n nuwe perspektief en uitkyk op jou omstandighede kan hê.

Dit beteken nie dat die situasie oornag sal verander nie, maar jý sal anders wees.

Neem vandag nog die besluit om soos ’n kind te glo. Die beloftes in die Woord is waar – ook vir jou. Jou doel op aarde is soveel groter as wat jy dink!