Hoekom moet ek dankbaar wees?

dankbaar

Dankbaarheid gee sin aan die verlede, gee vrede vir die hede en skep ’n droom vir die toekoms. Dan word dit wat jy het, genoeg.

Jy bederf net jou dag deur die leemtes en die dinge wat kortkom, te tel en daarop te fokus. Fokus eerder op die goeie dinge wat jy reeds in oorvloed het.

’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi (Psalm 6:6).

Opgeruimde Christene kry hulle vreugde-vitamiene by God. Dis ’n hart gevul met vrede sodat jy die dag kan geniet ten spyte van nare omstandighede.

Daar is baie dinge wat ons help. Elke mens het ’n netwerk, hoe groot of klein ook al. Ons almal het vriende en ander wat saam met ons glo.

Hierdie verhoudings is bedoel om jou te ondersteun en jou lewe beter te maak. Moet dus nie in afsondering wegkruip nie, want dis nie goed nie.

’n Mens het ook eiewaarde nodig vir vreugde. Daar is ’n besonderse vers in die boek Ester waarin die woord “eiewaarde” voorkom. Daar word gesê daar was vir die Jode weer lig en vreugde en blydskap en ’n gevoel van eiewaarde. Hulle het gesien wat God met hulle reggekry het.

Jy bederf jou dag deur heeltyd net jou foute te tel en te fokus op al die dinge wat jy toe nie reg kon doen nie. Fokus eerder op die seëninge wat jy het, dan word die dag dadelik beter.

Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het (Kolossense 2:23-24).

’n Navorser met die eienaardige naam Mihaly Csikszentmihalyi het hierdie interessante navorsing in ’n boek met die titel Flow opgeneem.

Die taak waarmee jy besig is, kan jou intrek en uitdaag en jy kan so besig raak dat die tyd vlieg. Dis dan dat ’n mens werklik tevrede voel. Dan lewer jy gehaltewerk en werk sonder om te kyk wat jou kollegas doen.

Kyk verby jou hoof of werkgewer en sien dat jy eintlik vir die Here werk. Slawe het tradisioneel geen beloning gekry nie, maar Hy het vir hulle tevredenheid gegee. Hulle was trots op hulle werk en het ’n gevoel van sinvolheid ervaar.

Dis wat ons ook kry. Nie net ’n salaris nie, maar tevredenheid omdat jou werk iets beteken.

Die hede, verlede en toekoms is soos drie glase water. Jy moet leer om uit al drie te drink, maar op die regte manier.

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd (Prediker 3:1).

Jy moet onthou wat gister gebeur het, die herinneringe deurdink en oorvertel, maar die lesse ook reg benut. Hoe anders sal ons leer as ons nooit besin oor wat reg en verkeerd geloop het nie?

Partykeer moet ons van die verlede ’n fees maak. Maar ons mag dit nie so oordryf dat ons nie vandag proe nie. Ons mag ook nie so vashaak by die foute van die verlede dat ons net die bitterheid daarvan in die mond het nie.

Die toekoms is ook belangrik. Dis lekker om uit te sien na die week wat voorlê en te droom oor die dinge wat jy beplan. Maar dit moet alles binne perke wees.

Wanneer jy net fokus op dit wat kom, word vandag opgemors omdat jy ontevrede is met hoe die situasie nou lyk.

Moenie so droom oor die toekoms dat ’n mooi oomblik by jou verbyglip nie. En moenie so verlang na die verlede dat jy nie hierdie dag geniet nie!