In my gemaklike babbel

vrede

Ek hoor dikwels dat ek baie naïef is en dat ek somtyds in ‘n gemaklike babbel leef.  In ‘n mate is dit seker waar, maar ek het ‘n heel ander verduideliking daarvoor.

Jy sien, ek is baie bewus van wat om my aangaan, ek is bewus van die politieke situasies in Suid-Afrika en ek is bewus dat baie mense maar bietjie benoud is oor hul toekoms in Suid-Afrika. Maar ek het net ‘n vrede in my wat ek nie kan beskryf nie.

Ek gaan heel moontlik ook op ‘n punt kom waar ek benoud gaan voel wanneer my baba skool toe moet gaan, of moet begin studeer. Ek gaan heel moontlik benoud raak oor sy toekoms en wat van hom in Suid-Afrika gaan word, maar op hierdie oomblik, vandag, het ek vrede en rustigheid in my hart. Vir my is daar geen nut daarin om vandag reeds bekommerd te wees oor iets wat nog ‘n paar jaar in die toekoms lê nie, ek leef vir vandag, en vandag het ek vrede.

Dadelik dink ek aan Johannes 16:33 waar Jesus sê: “Dit sê ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in my. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

En ook in Johannes 14:27: “Vrede laat ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Ek het onlangs ‘n stuk gelees wat sê dat ware vrede eers geken word wanneer jy waarlik die Gewer daarvan ken.

Hierdie gee vir my hoop, ek ken die Gewer. Daarom het ek vrede en rustigheid in my hart, en daarvoor is ek baie dankbaar.

Seënwense,

Stephanie