Is jy bereid om jou kruik leeg te maak?

As ‘n mamma van ‘n ses-maande-oue baba, raak die verhaal van die weduwee in 1 Konings 17 my hart opnuut aan.

Elke keer openbaar dit iets nuuts aan my wat my aan die dink het, oor en oor maal die gedagtes in my kop oor hoe ek so ‘n situasie sou hanteer.

In die middel van ‘n hewige droogte kom Elia by ’n weduwee, wat die Here aan hom uitgewys het. Sy word gevra om haar laaste bietjie meel en olie te gebruik om eers vir Elia te sorg, en dan daarna vir haarself en haar kind. Haar woorde in vers 12 het my hard getref:

“Ek verseker jou voor die Here jou God dat ek nie ’n stukkie brood in my huis het nie. Ek het net ’n hand vol meel oor in die kruik en ’n klein bietjie kookolie in die erdekan. Ek was juis besig om hout bymekaar te maak om hierdie laaste maaltyd vir my en my seun gaar te maak. Daarna moet ons maar sterf.”

Hierdie ma het reeds hoop verloor, sy was gereed om van die honger te sterf, en nou kom vra hierdie man nog vir haar laaste bietjie kos. Maar sy was getrou en het haar laaste bietjie aan Elia gegee. God het hierdie ma se hart raakgesien nog voordat Elia by haar aangekom het, God het geweet hoe bekommerd sy is, en nadat sy getrou was, voorsien God meer as genoeg om hulle deur die droogte te dra.

Somtyds is dit vir ons moeilik om te sien wat ons het om te gee, ons voel ons het so min en dit sou tog nie ‘n verskil maak nie. Maar selfs ‘n klein bietjie maak ‘n groot verskil in God se Koninkryk.

Seënbede,

Stephanie