Israel toer 2016: ’n Houtkruisbelewenis

“In Israel word die Bybel vir jou lewend, die ervaring verdiep jou verhouding met God!” Liesel Krause-Wiid

“Niks anders sal die Bybel vir jou só lewend maak en God só ’n werklikheid nie!” Isak Burger

Kort jy ’n blaaskans by Jesus se voete? Of wens jy jy kan met nuwe oë die Bybel lees?

6 500 kilometer van Johannesburg af is daar ’n land waar wingerdstokke plek-plek deur dorre woestyngrond bars, waar ruïnes duisende jare se geskiedenis aandui en waar jy, as jy jou oë toemaak, die Bybelfigure weer op die stofpaaie kan sien stap... ’n Israel-belewenis is anders as ander toere. Om op dieselfde paaie as Jesus te loop en dit saam met leiers soos Liesel en haar man, Siebert, maak die Finesse Houtkruis-belewenis van 3 tot 11 Oktober ’n lewensveranderende geloofservaring.

Die Finesse Houtkruisbelewenis bied meer as net ’n klomp besienswaardighede. Jy sal God op ’n baie spesiale manier leer ken. Van 3 tot 11 Oktober kan jy jou voete in Tiberias se seesand steek, onder oeroue olyfbome in Getsemane sit en bid, en uitkyk oor die koppe rondom Jerusalem, net soos koning Dawid toe hy sy psalms geskryf het. Sien wat Jesus gesien het en loop waar Hy geloop het toe Hy sy gelykenisse vertel het. Gaan ontmoet God waar die Israeliete Hom ontmoet het en leer Hom ken in die grou en groen omgewings waaroor jy in die Bybel lees. Die Bybel was nog nooit so ’n werklikheid nie.

Hiér het Dawid die psalms gedig

Daar is ’n onmiskenbare gevoel in die Ou Stad Jerusalem wat nêrens anders in die wêreld gevind word nie. Dalk is dit die ryk geskiedenis wat in die klipmure verberg is of die gewyde atmosfeer by die besienswaardighede. Dalk die atmosfeer van die kleurvolle Suqs (vlooimarkte) in die nou straatjies... of dalk omdat die stories van oorlog en vrede, liefde en haat, verwoesting en herstel alles dáár byeenkom. Dis die stad van konings, pelgrims en apostels en waar Jesus die Via Dolorosa gestap het. Die Ou Stad is ’n aanskoulike gesig van die Olyfberg af. Hier het Jesus Sy dissipels gestuur om die donkie te gaan haal waarop Hy Jerusalem sou binnery.

Heling vir die liggaam, siel en gees

Benewens die geskiedkundige geboue en ruïnes bied Israel romantiese kuslyne en goue strande met hulle eie unieke stories. Tiberias aan die kus van die See van Galilea is nie verniet ’n vakansiestad nie. Die palmbome skep ’n eksotiese eilandatmosfeer en snags gooi die maanlig ’n romantiese gloed oor die water. Die Dooie See is bekend vir sy terapeutiese water. Kom dryf saam vir ’n verfrissende, pamperlangervaring! Terug in die binneland besoek ons dorpe soos Bethlehem en Jerigo, asook Karmelberg, waar Elia 400 Baälpriesters om die lewe laat bring het. Die gerestoureerde amfiteater by Caesarea, wat voor Jesus se geboorte deur koning Herodes gebou is, bewys dat die antieke strukture moderne argitektuur jare vooruit was. Die berg Masada is ’n hoogtepunt. Ons ry met ’n kabelkar tot by die bouval van die eens luukse paleis van Herodes en geniet ’n panoramiese uitsig oor die woestyn van Judea en die Dooie See.

’n Een-keer-in-’n-leeftyd-Gospelfees

Die Gospel Israel Gala is ’n hoogtepunt van die Finesse Houtkruis-belewenis. Kom luister na boodskappe deur Liesel en dr. Isak en loof en prys God soos die engele van destyds saam met Onbeskaamd, Gerhard Steyn en Juanita du Plessis in Israel.

Die ervaring van ’n leeftyd kos R29 952 p.p. wat deel.

Stuur ’n epos aan reisklub@finessemag.co.za vir meer inligting of bespreek direk by Stargate International by 011 918 7567.

 

 

kommentaar (5)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test