Jesus is in ons midde

Kan jy jou indink hoe die wêreld sou lyk as elke Christen geleef het asof Jesus in ons midde is? As jy elkeen behandel asof hulle Jesus is?

Daar is ‘n verhaal wat vertel van ‘n groep monnike wat iewers in ‘n woud in Duitsland gewoon het. Daar was voortdurend onenigheid tussen hulle, soveel so dat die hoofpriester uit moedeloosheid God se aangesig in die woud gaan soek het. In die woud kom hy af op ‘n klein houthuisie waarvan die deur effens oop is. Toe hy by die deur inloer, sit daar ‘n ou man by ‘n houttafel wat hom innooi. Hulle het by die tafel gesit en gesels waar die hoofpriester hom vertel van die onenigheid tussen die monnike. Die ou man sê toe vir hom om terug te gaan klooster toe en vir die res van die monnike te vertel dat Jesus in hul midde is. ‘Net dit?’ het die hoofpriester gevra. ‘Dit is genoeg’ het die ou man geantwoord.

Met sy aankoms wou die monnike weet wat die Here vir die hoofpriester gesê het. ‘Die Here sê ek moet vir julle sê dat Jesus in ons midde is.’

Van daardie oomblik af was alles by die klooster anders. Wanneer hulle laataand gebid het, was daar altyd iemand wat nog ‘n mantel gaan haal het vir iemand wat koud gekry het, net dalk was dit Jesus wat koud gekry het. En wanneer hulle op ‘n warm dag in die groentetuin gewerk het, was daar altyd iemand wat koue water gaan haal het vir die wat dors was, want net dalk was dit Jesus wat dors was. Hulle lewens het radikaal verander.

Deur sy Gees in Jesus altyd by ons, Hy is altyd in ons midde.

Mag hierdie verhaal jou help om in Sy teenwoordigheid, en tot eer van Sy teenwoordigheid te leef. Wees lief vir jou naaste, seën hulle altyd. Jesus is altyd in jou midde!

Seënwense,

Stephanie