Jou vrae oor die Smart ID-kaart

smart ID kaart

Die Departement van Binnelandse Sake beplan om die ou identiteitsboekies binne ses jaar uit te faseer. Daar heers egter baie verwarring oor die sogenaamde Smart ID’s. Ons antwoord al jou vrae.

Al die nuusberigte oor die nuwe ID-kaart het jou op hol. Moet jy in jou geboortemaand of volgens jou ouderdom gaan aansoek doen? Moet jy regtig Binnelandse Sake toe gaan of kan jy dit dalk by die poskantoor kry? Hier is alles wat jy moet weet.

1. Wat maak die nuwe ID-kaart soveel beter?

Jy mag dalk dink die grootste voordeel van die nuwe ID’s is die grootte. Soos ’n rybewys is die kaart gerieflik om in jou beursie te dra. Ons is dalk nie altyd bewus daarvan nie, maar gesteelde identiteite is ’n groot probleem in Suid-Afrika. Die groen ID-boekie kan baie maklik vervals word, terwyl die nuwe kaart ’n rekenaarskyfie met al jou persoonlike besonderhede bevat. Die skyfie bevat ook jou vingerafdrukke en ander biometriese inligting. Volgens die Departement van Binnelandse sake kan die skyfie nie uit die kaart gesteel word nie. Dit maak ook dat die kaart baie moeiliker is om te vervals.

2. Wat het jy nodig om die kaart te kry?

Die Departement wou eerstens kaarte uitreik vir mense ouer as 60, asook vir tieners 16 jaar en ouer wat vir die eerste keer om identiteitsdokumente aansoek doen. Vir hulle sal die nuwe kaarte gratis wees. As jy jou kind neem om aansoek te doen, gaan julle haar geboortesertifikaat nodig hê. Neem ook ’n afskrif van jou of jou man se ID saam. As jy 60 en ouer is, sal jy jou ou ID-boekie moet wys en ook ingee wanneer jy die nuwe kaart kry. Jy moet ook ’n huweliksertifikaat of egskeidingsbevel saamneem. Dieselfde geld vir almal wat nie in een van die twee groepe val nie, maar hulle sal R140 moet betaal. Tydens die aansoekproses gaan jy ook gevra word vir ’n bewys van jou woonadres. Indien jy jou ID verloor het en nou aansoek doen vir ’n Smart ID, moet jy ’n polisieverklaring hê.

3. Wanneer is dit jou beurt om aansoek te doen?

Vir eers is die fokus net op tieners en persone ouer as 60. Hulle is veronderstel om aansoek te doen in die maand waarin hulle gebore is. Die Departement beplan om vir die res van Suid-Afrika hulle kaarte in spesifieke fases te gee. Die Departement van Binnelandse Sake hou vol dat hulle in die pers bekend sal maak watter groepe op watter tye aansoek moet gaan doen. Vir eers moet jy maar geduldig wees. Die ou groen ID-boekies sal darem eers oor ses tot agt jaar uitgefaseer wees. Jou groen ID-boekie kan dalk nog tot in 2023 geldig wees.

4.  Waar kan jy jou nuwe ID-kaart kry?

Op hierdie stadium het nie al die kantore van Binnelandse sake die toerusting om die Smart ID’s uit te reik nie. Daar is nog net 140 waar jy kan aansoek doen. Die lys met die betrokke takke is op hulle webwerf. Gaan kyk eers op www.dha.gov.za watter takke die diens aanbied. Jy sal binnekort ook by sekere takke van die poskantoor vir jou nuwe ID kan aansoek doen. Met die stakings vroeër vanjaar, vertrou egter nie almal die poskantoor nie. Binnelandse Sake het derhalwe ’n nuwe strategie in werking gestel vir jou gerief. Daar is tans ’n ooreenkoms met sommige van die groot banke sodat jy binnekort by jou naaste tak vir jou Smart ID sal kan aansoek doen. Dis egter nog in die toetsperiodefase waar jy net by ’n beperkte aantal takke van FNB en Standard Bank aansoek kan doen. ABSA en Nedbank het ook ingestem om deel te wees hiervan. Na die aanvanklike toetsperiode sal meer takke die diens bied, na gelang van die sukses daarvan.

Die goeie nuus is dat jy op die langste twee weke vir jou nuwe kaart gaan wag. Sommige mense het hulle s’n binne twee dae nadat hulle aansoek gedoen het, gekry. Sodra jy die kennisgewing ontvang dat joune reg is, moet jy dit persoonlik gaan afhaal.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test