Fokus só vir groter sukses

fokus

Sukkel jy om jou doelwitte te bereik en jou drome te verwesenlik? Daardie onbenullige dinge wat jou aandag gedurig aftrek, is dalk die oorsaak.

Vroegoggend skuif jy agter die rekenaar in om te begin werk, maar helaas, jy het skaars begin tik of dit is tyd vir ’n koffiepouse. Daarna moet jy natuurlik gou ’n draai gaan loop. En jy kan die versoeking nie weerstaan om eers deur jou nuwe tydskrif te blaai nie.

Natuurlik is daar ook epos wat afgelaai moet word. En intussen het ’n dringende WhatsApp-boodskap gearriveer wat jy moet beantwoord. As jy jou weer kom kry, is dit eenuur en het jy feitlik nog niks gedoen nie.

Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel jy kan uitrig as jy die klein jakkalsies wat jou tyd steel, kan uitroei.

Daar is te veel opsies waaruit jy kan kies

Ons leef in ’n tyd waar ons bederf is met die getal keuses wat ons kan maak. Dink maar aan satelliet-TV met meer kanale as waarna jy ooit in jou leeftyd kan kyk. Klim jy in jou motor, kan jy besluit hoe warm of koud jy die lugreëling wil stel en na watter radiostasie jy wil luister.

Al die tegnologie en inligting rondom jou ding mee vir jou aandag. Dis geen wonder dat jy soms niks gedoen kry nie! Waaraan moet jy aandag gee as daar soveel dinge is wat tegelyk rondom jou gebeur?

Jy moet so gou moontlik die gewoonte aanleer om te vra: Is dit waarmee ek nou besig is, werklik die moeite werd om tyd en aandag aan te bestee? Voeg daardie episode van die sepie regtig waarde tot jou lewe toe of kon jy jou tyd beter gebruik het? Jy hoef nie elke stuk gemorspos in jou posbus te lees nie. En al voel jy heeltemal van die buitewêreld afgesny, skakel jou selfoon vir ’n rukkie af en kyk hoeveel jy gedoen kry.

Party mense kan nie jou tyd respekteer nie

Gestel jy moet dringend die laaste lysies en beplanning vir julle vakansie doen. By die werk kan jy ’n Do not disturb-bordjie voor jou deur hang, maar wat as jou vriendin juis vandag ure lank wil gesels?

Jy het ’n ferm maar vriendelike benadering nodig. Sonder om onbeskof met jou vriendin te wees, kan jy haar tog laat verstaan dat jy nie vandag tyd het vir lank gesels nie. Die gesegde “voorsorg is beter as nasorg” is net so nuttig om onderbrekings te keer. As almal weet dat jy ’n dringende taak het wat jou volle konsentrasie vereis, sal hulle jou hopelik uitlos tot dit afgehandel is.

Tog is aanpasbaarheid nodig. Jy kan darem nie verwag jou kinders moet sonder kos klaarkom terwyl jy spook om iets klaar te kry nie. Goeie beplanning is die wagwoord.

Jy vergeet wat jou doelwitte en drome is

Jy het waarskynlik ’n langtermyndoelwit, maar beland telkens op ’n syspoor sodat jy geen vordering maak nie. Jy droom miskien daaroor om jou eie boek te skryf. Jy het by die boekklub aangesluit sodat jy ander skrywers se meesterwerke kan bestudeer, maar nou is jy so besig om te lees dat jy nie tyd kry om self ’n woord te tik nie.

Jy behoort jou doelwit neer te skryf op ’n kaartjie wat jy by jou kan dra. Skryf ook daarop waarom jy hierdie doelwit wil bereik. Hou dit in jou handsak en kyk van tyd tot tyd daarna, veral wanneer jy wonder of jy nog op die regte spoor is.

As jy groot besluite moet neem, haal die kaartjie uit en dink hoe jou besluit jou droom gaan beïnvloed. Dit help ook om belangrike datums op jou kalender te merk. Sperdatums, mylpale wat al bereik is of komende gebeurtenisse sal jou help om die groter prentjie te sien.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.