Hoe om ... jouself moed in te praat

Catherine van Heerden

Selfkenner: Catherine van Heerden

Jy sukkel om sekere take afgehandel te kry, want jy het eenvoudig nie lus om dit te doen nie. Hoe bly jy gemotiveerd om klaar te maak wat jy begin het?

Praat jy met jouself? Dit is waarskynlik nie doelbewus nie, maar voor jy jou kom kry, hoor jy jou eie bekende stem: “Mooi so! Jy het dit reggekry!” Of dalk minder positief: “Ag nee! Wat sukkel jy so vandag?” Selfgesprek is tweede natuur, en jy kan dit effektief aanwend of dit kan jou pootjie.

Hou jou aanvanklike motief voor oë

Jy sal self moet besluit watter denkrigting die meeste gewig gaan dra. Daar is ’n baie duidelike verband tussen hoe jy dink, hoe jy voel en wat jy uiteindelik doen. As jy aan sekere dinge op jou doenlysie dink wat jy moet doen, beteken die woordjie motivering bloot dat daar ’n motief agter jou aksies is. Wat het jou aanvanklik gelei tot ’n besluit om met die skool se konsertafrigting te help?

As jy agterkom jy begin motivering verloor, gaan terug na oorspronklike redes vir jou besluit. Jy het byvoorbeeld vir musiek- of danslesse ingeskryf. Nou is dit tyd om weekliks die klasse by te woon, maar jy voel nie meer so entoesiasties nie. Vra jouself dan hoekom jy dit in die eerste plek wou doen. Jy sou tog nie ingeskryf het as daar nie ʼn goeie rede was nie.

Noem die motiveringsdief op sy naam

Die rede waarom jy soms ongemotiveer raak, kan vrees vir mislukking wees. Eintlik verwag jy om nie suksesvol te wees nie, daarom probeer jy nie eers nie. Jy was miskien van die begin af nie heeltemal seker wat jy wil bereik nie. Die taak is moontlik nie uitdagend genoeg nie, want jy hou daarvan om goed op ’n sekere manier te doen. Gebrekkige selfvertroue kan jou ook jou fut laat verloor. Jy is onseker oor of jy die regte ding doen.

As jy die rede kan vir jou ongemotiveerdheidkan vasstel, byvoorbeeld jy erken aan jouself dat jy eintlik bang is vir mislukking, dan weet jy mos waaraan jy moet werk: vrees, min selfvertroue of vorige mislukkings. Wees versigtig om nie tyd die sondebok te maak nie, want dit is gewoonlik ’n maklike verskoning om te gebruik, al is dit meestal nie die ware rede nie. Klaar vir jouself uit wat jou demotiveer. Begin dan op die toekoms fokus en hoe lekker dit gaan wees as jy daardie instrument kan bespeel of die danspassies onder die knie het.

Kies om te ACT en bly gemotiveerd

Wanneer ek iets nuuts aanpak, doen ek die volgende om gemotiveerd te bly: I choose to ACT. Die A in die akroniem ACT staan vir acknowledgement. Bepaal jou huidige situasie, waarna jy streef en wat jou vrese is. Kyk realisties na waar jy is, waarheen jy op pad is en wat jy wil bereik. Die C staan vir creative output en clear vision. Ek probeer vir myself die uitkoms van die taak so duidelik moontlik voorstel. Die T is trust in your own abilities. Jy moet vertrou dat jy die vermoë het om die taak te voltooi. Dit help nie jy pootjie jouself gedurig met negatiewe gedagtes nie. So kry ek die energie om ook daardie minder aangename takies op my doenlys af te merk.

Wanneer jy gemotiveerd is, is jy hart en siel “binne-in” jou taak. Jy is positief en gefokus. Daar gaan natuurlik ook dae wees dat niks wil uitwerk nie. Op sulke dae, let it go! En probeer môre weer! Doen dit net.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA