Hoe om... spanning in die huis vas te vat

Catherine van Heerden

Selfkenner: Catherine van Heerden

lyn_3.png

GRATIS

Kliek hier en laai jou gratis e-boek (Dink jouself dun, deur Catherine van Heerden) af.

Gebruik die afslagkode AUG_16 wanneer jy die e-boek in jou mandjie sit. Aanbod geldig tot 10 September 2016.

lyn_3.png

Almal in die huis loop draaie om mekaar. Die spanning loop hoog, maar jy bly eerder stil om die vrede te bewaar. Moet jy die situasie probeer oplos of maar vir die beste hoop?

Alle huisgesinne beleef van tyd tot tyd spanning en konflik. Die lewe is nie maanskyn en rose nie. Dit gaan dus nie oor hoe jy spanning en konflik vermy nie, maar eerder oor hoe kan jy kan leer om spanning en konflik op ’n konstruktiewe manier op te los.

Spanning beteken eintlik daar is ’n verskil of ’n gaping tussen ’n ideale of ’n gewenste situasie en ’n werklike situasie soos jy dit op die oomblik beleef. Hoe groter die gaping, hoe groter is jou belewenis van spanning.

Moenie situasies onnodig met negatiewe denke laai nie

As dit kom by konflik en spanning in die huis, weet dít: Die lewe neem sy loop. Daar gaan tye kom dat jy en jou man nie gaan saamstem oor byvoorbeeld julle tienerdogter se inkomtye nie. Jy sê sy moet tienuur terug wees en vir Pa is elfuur in orde. Of dit is julle huweliksherdenking, en jy dink die hele dag aan hoe romanties dit gaan wees. Maar dan praat jou man die hele aand oor werk en jou frustrasie neem toe. Wees versigtig om nie op die negatiewe dinge te fokus nie, want dan is dit al klaar moeilik om oplossings te vind.

Ons laai sekere situasies met emosie, hetsy positief, hetsy negatief. Jou dogter het ’n paar van jou skoene geleen om die aand uit te gaan sonder om te vra. Nou sê jy vir jouself sy respekteer jou nie. Dit is ’n ernstige oortreding, want sy verontagsaam jou reëls doelbewus. Deur dit wat jy dink, laai jy die situasie met meer en meer negatiewe emosies. Wanneer jy dan ’n kans kry om met jou dogter hieroor te praat, is jy so opgewerk dat jy oorreageer en haar die leviete voorlees.

Jou dade beteken baie meer as jou woorde

Dit help om ’n positiewe ingesteldheid aan te kweek en konflik sodoende beter te hanteer. Sê byvoorbeeld vir jouself: “My gesin is belangrik, en my kinders en hulle behoeftes is belangrik. Daarom moet hulle veilig voel om hulle gevoelens te kan deel. Ons moet kan praat oor dit wat ons pla. As hulle van my verskil, beteken dit nie hulle respekteer my nie. Dit beteken net hulle is individue in eie reg.”

Dis maklik om hoogmoedig te raak oor ’n prestasie wat jy bereik het. Natuurlik mag jy trots wees op jouself, maar met ’n nederige hart. Catherine van Heerden vertel hoe jy dit kan doen.

Die beste manier om te leer is deur nabootsing. Kinders leer om dinge te hanteer deur na die voorbeeld van hulle ouers en die samelewing te kyk. As Ma en Pa konflik hanteer deur op mekaar te skree, is daar ’n baie groot kans dat die kinders dieselfde gaan doen. Baie kinders weet byvoorbeeld nie hoe om ekskuus te vra nie, want hulle sien nie dat hulle ouers dit doen nie. Moenie vir jou kind sê wat hy moet doen nie, wys hom eerder.

Beskou spanning en konflik as geleenthede vir groei

En die olifant in die vertrek? Daardie ongemaklike stiltes en kyke, maar almal vermy die onderwerp... Moenie situasies en emosies net ignoreer nie, want dit laat spanning opbou. Naderhand kyk jy na ’n spesifieke situasie deur ’n vergrootglas, en ’n molshoop lyk nou soos ’n berg. Wanneer konfrontasie dan plaasvind, ontplof jy onmiddellik!

’n Waardesisteem binne ’n gesin is belangrik om spanning effektief te verlig. Julle kan byvoorbeeld ’n reël in die huis hê: “In hierdie huis respekteer ons mekaar en luister na mekaar.” As daar dan spanning in die huis is, weet almal om op ’n sekere manier op te tree. Niemand raak so kwaad dat hulle op mekaar skree nie, want dit word eenvoudig nie in julle huis geduld nie.

Sien spanning en konflik as ’n geleentheid om meer van mekaar te leer. Dit is ongelukkig deel van ons alledaagse lewe. Konflik tussen huweliksmaats, ouers en kinders kan baie slegte gevolge hê as dit nie op ’n volwasse manier hanteer word nie. Maar as spanning positiewe resultate moet oplewer, moet alle partye hulle ego’s opsy skuif, en die saak of die verhouding eerste stel.

Jou gesin is te kosbaar om deur negatiewe gesindhede besoedel te word. Wees ’n voorbeeld van onvoorwaardelike liefde, begrip en aanvaarding vir jou huismense.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.