Leef met selfvertroue

Catherine van Heerden

Selfkenner: Catherine van Heerden

Kom ons wees eerlik: Vrees is ’n kragtige emosie. Dit kan maak dat jy nie voluit leef nie omdat dit jou in ’n wurggreep van weerloosheid en magteloosheid kan vasvang.

Tog is ek oortuig daarvan dat jy gereed is om die volgende stap te neem: om vreesloos te leef! Of jy oorwinning gaan smaak, sal alles van jouself afhang.

Verander bang gedagtes in dankbare gedagtes

Wanneer jy jou vrese beter verstaan en meer insig daarin het, kan jy dit meer doeltreffend te bowe te kom. Die intensiteit van dit waarvoor jy bang is, wissel volgens jou belewenis en evaluasie van wat met jou gebeur. Jy beleef emosies wanneer jou liggaam op ʼn chemiese vlak reageer op dit wat jy waarneem, aanneem of dink. As jy jou ervarings kan beheer, behoort jy ook te kan beheer hoe jou brein reageer.

Vrees kan maak dat jy jouself isoleer en nie geleenthede aangryp nie. Die probleem kan selfs nog ernstiger raak as jy jouself begin sien deur die lens van dit wat jou bangmaak. Dit kan jou aggressief en kort van draad maak, of heeltemal aan jouself laat twyfel.

Voordat jy hierdie struikelblok in jou lewe kan begin vasvat, moet jy presies weet wat jou bang maak. Die meeste mense voel byvoorbeeld angstig om voor ʼn gehoor te praat. Die rede is dat jy bang is jy gaan stotter en stamel of dat die gehoor nie van jou gaan hou nie.

Wat my dikwels help, is om met dankbaarheid na ʼn spesifieke situasie te kyk. As jy byvoorbeeld benoud is om ʼn openbare toespraak te lewer, wees dankbaar vir die geleentheid om mense se harte te raak, om waarde toe te voeg of vir die geleentheid om ʼn verskil te maak.

Hoe meer jy fokus op dit wat jou bang maak, hoe banger gaan jy word. Jy moet eerder jou aandag vestig op iets wat vir jou lekker is of waarvoor jy dankbaar is. Vervang die “bang” gedagtes met dankbare gedagtes.

Kyk nuut na dit wat jou intimideer

Daar is verskillende maniere waarop jy die dinge wat jou paniekerig maak, kan oorkom: Jy moet jou vrees wíl oorkom. Beplan ’n tipe beloning vir jouself wanneer jy dit byvoorbeeld regkry om ʼn voorlegging by die werk suksesvol af te handel voor ʼn gehoor. Praat jouself moed in en prys jouself wanneer jy dinge aanpak wat jou broek laat bewe. Jy kan ook iemand in jou vertroue neem wat jou kan bystaan of as mentor op te tree tydens hierdie reis.

Kyk hoe ander mense ʼn situasie hanteer wat angs en innerlike spanning ontlok – dit sal jou rustiger maak om te sien wat en hoe hulle dit doen. Vind soveel moontlik uit oor dit waarvoor jy bang is, want hoe meer jy oor iets weet, hoe meer bemagtig jy jouself om positief te reageer. Jy kan dit net oorwin deur dit anders te benader.

Liefde verdryf vrees. Kies daarom om liefde te gee!

Jou vrese hoef nie jou vreugde te steel nie. Vreesagtige gedagtes is nie bestand teen liefde nie. Johannes sê dat ware liefde vrees verdryf, met ander woorde, jaag liefde na. As jy jouself en ander mense liefhet, dan leer jy om hulle te vertrou. Jy leer om hulle vryheid te gee om hulle eie opinies te hê. Gee jou vrese ’n naam en besluit om dit te laat gaan. Dis ʼn keuse wat jy kan uitoefen. Jy kan aan jou vrees vasklou en in jou selfgemaakte tronk bly of jy kan kies: “I am letting go.”

Herhaal die bekende gebed om kalmte deur Reinhold Niebuhr elke keer as paniek jou wil beetpak: “Here, gee ons die genade om met kalmte van gees die dinge te aanvaar wat nie verander kan word nie, die moed om die dinge te verander wat verander moet word, en die wysheid om die een van die ander te onderskei.” Wanneer jy voel jy gaan vries, veg of vlug, haal diep asem, kyk jou vrese in die oë, en vat dit vas!

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA