Wees wie jy gemaak is!

Catherine van Heerden

Selfkenner: Catherine van Heerden

Baie mense voel hulle mis hulle lewensdoel. Hulle gawes en talente word verwaarloos of hulle weet nie wat dit is nie. As jy dus rigtingloos ronddobber, is daar hoop om doelgerig te begin lewe!

Gawes word deur genade aan ons geskenk, en talente is jou natuurlike aanleg om byvoorbeeld mooi te kan sing, te teken of in sport uit te blink. Al twee is wonderlike seëninge wat ons kan gebruik om ʼn verskil in ander se lewens te maak, en regtig saak te maak vir ander.

Sommige mense sukkel om hulle unieke gawes en talente te identifiseer, maar dit beteken nie hulle het niks ontvang nie. Die eerste stap in die ontwikkeling van jou vermoëns en vaardighede is gesonde selfbewustheid en selfkennis, want dan kan jy met ’n doel en gefokus in die rigting van jou drome beweeg.

Ontdek wat jy goed kan doen, en gebruik dit

Talente is daardie dinge wat jy waarskynlik van jou ouers oorgeërf het of wat in jou DNS-struktuur geskryf staan. Jy kan byvoorbeeld mooi sing, of dit is tweede natuur om danspassies aan te leer en perfek uit te voer. Dalk kan jy verskeie musiekinstrumente bespeel. Of jy het ’n fenomenale wiskundige brein. Ons talente word ook dikwels ingespan om vir ons ’n inkomste te genereer. Dit is bedoel om ander mee te dien en vir onsself ’n bestaan te maak.

Ontdek wat jy goed kan doen deur jou kreatiwiteit, kunstigheid en persoonlike vaardighede te ondersoek. As jy sukkel om dit te identifiseer, vra die mense wat jou ken, jou familie en vriende, om jou te help. As jy steeds onseker is, bid en mediteer daaroor. Ontwikkel jou talente deur te oefen, nog te oefen, en nogmaals te oefen. Glo in jouself en jou vaardighede.

Gawes en talente is soms klein gebare van liefde

Ons maak maklik die fout om te dink net mense met merkwaardige en uitsonderlike gawes en talente, kan “gelukkig” wees of regtig ’n verskil maak. Moenie in daardie strik trap nie. Almal het nie dieselfde vermoëns ontvang nie, maar doen moeite om jou vaardighede en vermoëns te identifiseer en te ontwikkel. Dit gaan mos uiteindelik daaroor om ander met jou gawes te dien, so waarom nie ander dien met dit wat jy goed kan doen nie?

Daar is soveel verskillende gawes: om diensbaar te wees, om ander te leer en onderrig, of om ander te kan bemoedig. As jy ’n vrygewige hart het of gasvry is, is dit dalk waar jou passie lê. Wees dankbaar vir die dinge waarin jy uitblink. Sien die baie geleenthede elke dag om jou raak waar jy jou gawes kan gebruik om ander mense se harte aan te raak. Dit is dikwels klein gebare van opregte omgee wat ander se lewens seën, soos ’n bos blomme uit jou tuin of ’n inspirerende boodskap op die regte tyd.

Om oopkop en nuuskierig te wees om nuwe dinge in die lewe te ontdek, is ʼn belangrike ingesteldheid om te groei en om duidelikheid te kry oor jou lewensdoel. Die verskil tussen gemiddeldheid en uitnemendheid lê daarin om voluit te gaan vir iets, al lyk die kanse vir sukses soms maar skraal.

Jou uniekheid kan ander seën

Wanneer jy jou talente met ander te deel, maak dit jou meer selfversekerd, en gee jou lewenskwaliteit en selfwaarde ʼn hupstoot. Wanneer jy dit besef, sal jy nooit jaloers wees op ’n ander persoon se sukses nie en sal jy ook nie deur ander se vooruitgang bedreig voel nie.

Vind uit wie jy is, want hoe kan jy tog woeker met iets waarvan jy nie bewus is nie? Vind uit waar jy uitblink en soek geleenthede om dit te ontwikkel en te versterk.

Maak ’n bydrae om waarde tot ander se lewens toe te voeg sodat jy vir hulle kan saak maak. Bied iets wat ander regtig nodig het, iets waarsonder hulle nie wil wees nie. Laat hulle voel soos die belangrikste persoon op aarde wanneer hulle in jou geselskap is, dan sal hulle altyd jou teenwoordigheid opsoek.

Dit vra oefening om jou talente meer te laat word as net blote potensiaal. ’n Lewe wat saak maak, vra inspanning en harde werk. Jy is geskape vir jou spesiale doel. Leef dit. Glo dit!

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.