Kinders van LiG

Julle is gemaak
Om Koningskinders te wees
Kinders wat My toelaat
Om blink in en deur julle te skyn

Julle het net g’n idee wat julle wegwys
Dit sien Ek oor en oor
Alles getuig daarvan
Veral hoe julle aanhou om die verkeerd lief te hê

Staan op in julle kindskap
My kinders
Besef wie julle is in My
En besef jy is vir soveel meer gemaak

My kinders julle is nie geroep
Om saam met die wêreld se kinders
Soos varkies in die vuil modder
Van die wêreld se begeerlikhede rond te rol

Ek roep julle sê Abba
Uit die vuilheid van hierdie lewe
Ja die sonde waaraan julle
Saam met sondaars meemaak

My kinders besef julle nie
Weet julle
Julle is kinders van die Lewende God
En Sy Koninkryk bestaan net uit Lig?

Ja sê Pappa-Lig
Geen donkerte sal ooit in My aangesig bly leef
Ek is die Ewige Lig
En Ek lief so wie Ek is

Dalk het julle net nog nie besef
Hoe wonderlik, skoon, rein en lieflik
Die Lig is waarin Ek woon
Wie Ek is

In My Lig is daar nie plek
Vir skaam-wees en sleg voel nie
Ek weet dis iets waarmee die duiwel
Julle so baie kere gevange hou

Nee in My Lig
Is daar net liefde
En soveel aanvaarding
Vir almal wie bereid is om te kom

Kinders julle moenie sleg voel
Wanneer julle vir die eerste keer My Lig ontdek nie
Julle gaan dalk vir ‘n oomblik so bewus raak van die swart in julle lewens
Maar sodra julle net daar bly sal julle sien hoe My Seun se bloed en Lig julle skaam-wees verdryf

Julle sal dan voel
Hoe ons warmte om julle vou
Julle sal ervaar dat julle vryer voel as nog ooit vantevore
En julle sal net meer wil hê

Ja
Dit is wat My Lig doen
Sê Pappa
Dit stel jou vry om te wees wie jy is in My

Dis in My Lig
Dat jy jou waarde en identiteit ontdek
Dit is daar waar julle vind
Julle is so belangrik vir My.