“Kom ons wees vir ’n slag eerlik oor seks”

0
19

Ek het in graad drie op pad skool toe die eerste keer van seks gehoor. My suster en haar vriendinne het so ’n entjie voor my gestap.

Ek het in graad drie op pad skool toe die eerste keer van seks gehoor. My suster en haar vriendinne het so ’n entjie voor my gestap.

Hulle het effens senuweeagtig en geheimsinnig vir mekaar gefluister. Ek kon nie anders as om te hoor waaroor hulle gesels nie en ek kon my ore nie glo nie.
Nadat ek iets gesê het soos: “Siesa, man, julle jok,” het hulle my verseker dat, volgens alle betroubare bronne, dit wel moontlik is. En dat dit eintlik redelik algemeen onder grootmense gebeur. My eerste gedagte was: ek wonder of my pa en ma al hiervan gehoor het!

In graad vier wou ek, soos die meeste seuns, ’n wildbewaarder word. Ek koop toe met my spaargeld ’n boek oor wilde diere by die CNA-rooibanduitverkoping.
Op pad huis toe wys ek die boek vir my ma. Sy kry so ’n snaakse uitdrukking in haar oë en sê ek moet ’n bietjie vir my pa vra wat beteken “mating”.

Ek besef toe alles is nie pluis nie en scan die boek se binnekant. Die boek was vol vreemde foto’s van allerhande soorte diere wat mekaar abba: honde, katte, marmotte, hoenders, selfs renosters.

Eers het ek die arme diertjies wat skynbaar nie op hulle eie kan loop nie jammer gekry. Maar toe merk ek op dat die meeste van hulle eintlik besonder gelukkig lyk.

Die boek se titel was The Mating Game. Toe ek uiteindelik besef waaroor die boek gaan, het ek dit gou gaan wegsteek. Ek was bang dat my pa sou probeer verduidelik!

Seks is belangrik. As almal vandag ophou seks hê, sterf die mensdom uit. So eenvoudig soos dit.
Kenners meen die seksdrang is die mees primitiewe oorlewingsdrang. Hormone wen dikwels die geveg teen breinselle. Dink maar aan die bidsprinkaanmannetjie wat met ’n goggaglimlag sy vrou gryp, al weet hy sy gaan letterlik sy kop afbyt en hom opvreet. Sy lus is selfs groter as sy vrees vir sy psigopatiese vrou en die dood.
Jy sien dieselfde verskynsel by mense.

Daar is baie mense wat eenvoudig blindelings hulle hormone gehoorsaam, met enorme langtermyngevolge. Jou seksdrange kan gevaarlik wees en jou dom dinge laat doen! Selfbeheersing en vryheid loop altyd saam, veral by belangrike sake soos hierdie. Dis opmerklik hoe snaaks ons as mense die seksuele vind.
Jy kan nie drie sinne in ’n geselskap oor seks sê sonder dat iemand begin lag nie. Toets dit ’n bietjie. Ek wou al ’n nuwe spreekwoord aan die ATKV voorstel: “So snaaks soos seks.”

Jongmense hoor vandag selde die eerste keer van seks by hulle ouers (of hulle sussies op pad skool toe). Hulle word vroeg reeds gekonfronteer met foto’s op selfone en video’s op sosiale media.

Moenie ’n fout maak nie, die kat word maar nog altyd in die donker geknyp. Maar tog, “Johagempie”, die Joodse seuntjie in die Bybelse tyd, sou dalk een keer in sy lewe ’n standbeeld van ’n kaal tannie sien. Vandag se tieners kan egter met die druk van ’n paar knoppies enigiets in detail bekyk. Enigiets wat jy jou kan indink, of jou nooit sou kon indink nie! Seks is lekker, seks is interessant, seks is snaaks… maar dis is ook ’n ernstige saak. Ons seksualiteit is fyn verweef met ons identiteit en selfs ons spiritualiteit.

Ek dink dis nodig dat ons as Christene meer openlik hieroor moet wees. Moeilikheid begin mos in die donker! Dis eintlik ’n lekker tema om oor te praat, veral met tieners. Ek moet gereeld met jongmense by skole en kerke gesels. Die oomblik wat jy iets sê oor seks, hou hulle op om met hulle selfone te speel en het jy skielik hulle volle aandag.

Te dikwels is die effek van Christengesprekke hieroor dat dit jongmense bloot opsaal met nog ‘n klomp vrese en skuldgevoelens. Die kerk voel vir baie van hulle na die laaste plek waar hulle eerlik kan wees oor seksuele vrae en frustrasies.

Jongmense voel alleen, nie omdat hulle rêrig alleen is in die geveg tussen breinselle en hormone nie, maar omdat kerkooms en tannies nie altyd eerlik is oor hulle eie stryd nie.

Jaco Strydom is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.