Laat jou huwelik vir jou werk!

519

Ongeag hoe lief en verlief jy op jou troudag was, wat is die kans dat jy steeds elke dag so sal voel? Hoe leer jy jou maat se taal praat? Hoe stuit jy klein jakkalsies? Hoe koester julle intimiteit? VRA DIE KENNER GRETHA WIID…

Ons leef by mekaar verby en is later nie meer op mekaar se behoeftes ingestel nie. Dit bring ons by ’n punt waar ons leeg voel in ons verhouding. Ons het nie meer die va-va-voom wat ons vroeër gehad het nie, en voel nie meer die belangrikste prioriteit in ons maat se hart of lewe nie.

’n Huwelik wat werk, en gelukkig en gesond is, is baie harde werk. Dit gebeur nie vanself nie. Dit is eers as ’n mens lank genoeg getroud is dat jy werklik verstaan wat daardie “sewe sakke sout”-gesegde beteken.

1. Vervul mekaar se emosionele behoeftes

Die verhouding voel leeg al stop jy gereeld by die vulstasie. Met die beste gesindheid maak jy jou maat se tenk vol, maar met die verkeerde brandstof… ’n Diesel-enjin loop nie op petrol nie!

Daar is wonderlike vroue wat na hulle mans kyk soos besorgde kerktannies, maar die mans bly emosioneel leeg omdat hulle enigiets sal gee vir ’n vrou wat net die kinders en kospotte ’n slag wil los vir ’n oomblik se geselstyd.

Die man is betrokke by die kinders, help in en om die huis en is elke aand vroeg tuis. Tog voel sy vrou leeg omdat sy nooit ’n kompliment van hierdie selfde fantastiese man kry nie.

Kry die regte brandstof vir jou kannetjie en maak jou maat se liefdestenk vol.

2. Meer as seks: Kry ware intimiteit

“Intimiteit” laat mense gewoonlik aan romanse en seks dink. Baie mense het wel ’n hegte verhouding sonder dat hulle vreeslik gereeld seks het. Ander paartjies het hope pret tussen die lakens, maar hulle harte is leeg en verwyder van mekaar.

As jy en jou maat mekaar se veilige spasie is waar julle julle harte sonder verwyte kan oopmaak, sonder vrees vir veroordeling – dan het julle intimiteit!

Met diepgewortelde seer of bitterheid in ’n verhouding sal intimiteit beslis afwesig wees. Jy sal dalk daarin slaag om goeie seks te hê, maar seks wat slegs gebou is op lus, word later ’n las, bloot omdat God nie net lus in gedagte gehad het nie, maar veel eerder lief. Nie net seks nie, maar eerder intimiteit.

3. Maak opofferings met jou tyd

In ’n gejaagde lewe is dit noodsaaklik om ook tyd te maak vir jouself. Party mense het egter so baie belangstellings dat dit konflik in ’n huwelik veroorsaak.

Sommige se menswees gaan dood as hulle daarvan weerhou word, ander voel dalk gefrustreerd omdat hulle die een is wat net kop bo water probeer hou. Wees ’n slag eerlik oor die hoeveelheid tyd wat jou eie belange jou van jou huwelik af wegneem. In dieselfde asem, hoeveel gun jy jou maat?

Die deurbraak en groei lê egter in ons opofferings. Grense kan jou geliefd laat voel omdat jou maat jou kant kies. En in hierdie geheim lê daar baie bonusse – baie meer as dit wat jy langs die viswaters, in die jagveld, by die gym of voor jou skilderesel kry.

4. Hou op om aanhoudend oor dieselfde goed te baklei

Ons almal weet hoe belangrik dit is om dinge uit te praat; nogtans baklei ons oor dieselfde goed oor en oor. Die manier waarop julle baklei en dinge probeer uitpraat, is dalk die probleem.

Leer die gewoonte van half luister af. Ons neem aan ons weet al klaar wat die ander een gaan sê. Terwyl ons eintlik veronderstel is om te luister, dink ons wat ons wil antwoord.

Die in-chip-siekte vreet aan ons gesonde verhoudings. Jy luister net ten dele, verstaan ten dele en kry vrede of antwoorde… ook net ten dele!

Praat oor een kwessie op ’n slag, anders weet julle later nie waaroor julle baklei nie. Neem ’n wilsbesluit om jou maat se hart te hoor, dit spaar baie frustrasie en ’n aanhoudende bakleiery.

5. Moenie dat skermtyd kwaliteittyd steel nie

As ons nie eerlik is oor die uitwerking wat tegnologie en skerms op ons lewe het nie, sal ons te laat besef dat die foon ons nie snags gaan warm hou nie.

Ons weet meer van wat in ander mense se lewe aangaan as wat ons soms weet oor wat in ons eie huise aangaan. Sosiale media is ook nie die enigste sondaar nie.

Raak bewus van jou eie patrone, kies doelbewus en hou op vinger wys! Besluit saam watter reekse en programme julle geniet en hou daarby. As jy ’n grens wil hê, moet jy ’n grens sê!

Die belangrikste kontak is steeds lyf-, oog- en hartskontak. Net soos wat al die tegnologie oornag verhoudings leeg suig, net so kan ons gelukkig oornag nuwe gewoontes begin kweek.

6. Bid saam en vorm ’n hegter eenheid

Baie paartjies bely dat hulle Christene is, maar in dieselfde asem bid hulle nie saam met mekaar nie. As julle saambid, kom daar ’n nuwe eenheid – nie net voor God nie, maar ook voor mekaar.

’n Huwelik lyk ánders wanneer ’n man die geestelike leiding neem, sy vrou opdra aan God en ’n voorbeeld van geestelike wysheid uitstraal voor die kinders. Elke vrou wat dit al beleef het, weet hoe kosbaar dit is om ’n man te hê wat saam met jou bid.

Die eerste tree na gesamentlike stiltetyd begin buite die slaapkamer. Daar waar jy en jou man sommer net praat oor dinge van die dag en hoe julle voel. As ’n paartjie buite die slaapkamer sukkel om te praat oor emosies, sal openlike gebed onwaarskynlik wees. Begin op die regte plek!

7. Aanvaar elke seisoen se voor‒ en nadele

Moenie julle verhouding met ander paartjies, wat in ’n heel ander fase as julle is, vergelyk en dan net die hoogtepunte en volwassenheid van hulle verhouding raaksien nie. Jy sal dan altyd gefrustreer voel!

Sekere fases het meer vryheid rakende tyd, maar nie noodwendig die finansies daarvoor nie. Ander fases word gekenmerk met meer gerief, maar julle het nie aldag tyd om die gerief te geniet nie. Al die gerief en gemak kom immers teen ’n prys van lang werksure en ’n voltydse poging om al die balle in die lug te hou.

As ons kan leer om elke fase te geniet vir wat dit is, en dan daardie seisoen omhels met sy voor- en nadele. So sal ons makliker asemhaal en aanvaar.

Die groot uitdaging is om te besluit wat jy bereid is om te doen om jou huwelik te red of jou verhouding na hoër hoogtes te neem. Dalk het jy nie ’n krisis in jou huwelik nie, jy smag bloot na méér. Met hierdie riglyne is jy al een tree nader aan iets wonderliks. Maar wie jy ook al is, of waar jou huwelik ook al trek… jy kies om te bou of te breek aan jou huwelik!

SKRYF IN vir ons AANLYN KURSUS
(Vir jou foon, tablet en rekenaar)
Laat jou huwelik werk!
Gretha Wiid, aanlyn kursus
R195 R295
leesleerleef.co.za