Liefde oorwin alles, ook misverstande

Elize Cawood en Wilson Dunster

Praat, luister en vra tot jy verstaan, is Elize Cawood en Wilson Dunster se geheim vir kommunikasie. Só doen hulle dit al vir 38 jaar.

Met die eerste toneelstuk wat spesiaal vir my en Wilson geskryf is, het iemand gehoor hoe ’n ou omie vir sy vrou sê: ‘Ek dink daardie twee het iets aan die gang.’ As akteurs, maar ook as man en vrou, was dit vir ons ’n groot kompliment, want dit beteken dat vreemdelinge die energie en konneksie tussen my en Wilson kon voel sonder dat hulle geweet het ons is getroud,” vertel Elize.

’n Energie op én weg van die verhoog

“Nie dat ons samespel noodwendig beter is as ander akteurs s’n nie, maar ons verhouding het tog ’n invloed op ons toneelspel,” meen Wilson. “Dit het al gebeur dat ons ’n hewige rusie voor ’n opvoering gehad het. Dan loop alles verkeerd en net niks werk daardie aand nie. Die energie is nie reg nie.

“Ons verskil beslis in die manier waarop ons kommunikeer. Ek praat meer en Elize luister meer. Ek wens ek was meer van ’n luisteraar. Maar dis ook nie altyd so nie,” bedink Wilson homself.
“Die lewe gaan mos maar op en af. Soms praat sy en ek luister. Niks is vas nie. Ons manier van kommunikasie verskil soos die omstandighede verskil.”

“Ek is byvoorbeeld mal oor vis en groente,” deel Elize ’n misverstand wat hulle onlangs gehad het, “en toe ons nou die aand sit en eet, sê ek, bedoelende dat piscis die Latynse woord vir ‘vis’ is:
‘Ek sal maklik ’n pescatarian word.’ Wilson ruk net daar sy kop op, en dis duidelik dat hy nie mooi gehoor het wat ek sê nie: “What? A Presbyterian?” Die twee lag so lekker dat ’n mens nie kan help om te begin saam lag nie.
“Dit gebeur mos nou maar dat ’n mens nie altyd mooi luister nie.

Jou aandag is by iets anders of jy kon net nie op daardie oomblik ordentlik hoor nie,” skerm Wilson. “En so baie soos ek en Elize dieselfde is, net soveel verskil ons van mekaar. Ons is nie met onsself getroud nie en niemand kan gedagtes lees nie. Praat so duidelik moontlik en moenie net aanneem dat jou maat wéét wat jy bedoel nie.”

Vra en vra om seker te maak jy verstaan

“Met my en Wilson wat baie van die huis af gewerk het, het ons beurte gemaak om die kinders by die skool te gaan haal. Ek onthou die dag wat ons albei net aangeneem het die ander een gaan die kinders haal, en so teen drieuur die middag besef ons dat die kinders nog nie by die huis is nie. Natuurlik jaag ons toe albei, en daar sit hulle vir ons en wag net binne die skooltjie op die swings! Ek dink hierdie tipe goed gebeur wanneer jy skimp en nie reguit vra wat jy wil hê nie.”

Wilson gooi ’n stuiwer in die armbeurs: “Ek glo jy moet vra en vra om seker te maak jy verstaan reg.”
“My ma het altyd gesê jy trek nie ’n nuwe rok aan as jy wil mooi lyk of gespannerig is nie, want jy weet nie hoe hy voel nie en jy weet nie hoe hy dra nie – so, trek ’n ou rok aan dat jy kan vergeet van die rok,” haal Elize uit haar en Wilson se toneelstuk ’n Geworry aan.

“Miskien is ’n wit leuentjie of ’n versagting nou en dan nodig, ek weet nie,” sê Wilson. “Wat ek wel weet, is dat hierdie stereotiepe aannames van kommunikasie, soos dat vroue eintlik ‘nee’ sê terwyl hulle ‘ja’ bedoel, absoluut chauvinistiese, seksistiese en patriargale nonsens is wat ’n mens woedend maak.” Selfs die idee dat mans glad nie of langer neem om oor hulle emosies te praat, geld nie vir hierdie twee nie.

“Dit is die jaar 2017. Vroue hoort lankal nie meer in die kombuis nie, net soos mans nie noodwendig nie oor hulle gevoelens praat nie,” sê Wilson heftig.
“Dit gaan oor iemand se persoonlikheid, nie hulle geslag nie.”

Humor help om baie situasies te ontlont. “Eintlik is ons albei nogal baie emosioneel en met die ouderdom gee ons trouens nóg meer uiting aan ons gevoelens sonder enige skaamte,” erken Elize. “Toe Wilson ’n ruk gelede uitvind hy moet ’n katarakoperasie kry, was ek saam met hom by die oogspesialis. Daar speel toe sulke pragtige, rustige musiek in die spreekkamer. En terwyl ek betaal, sien ek hoe Wilson uit die spreekkamer kom met trane in sy oë.

“‘Toemaar Babba, dis net ’n katarakoperasie, dis nie so erg nie,’” probeer ek hom troos. Hy het stil gaan staan en gesê: ‘Dis nie die operasie nie, dis die musiek.’ Ons het daardie oggend so erg gelag dat ons selfs later in Pick n Pay tussen die winkelrakke nog histeries was.”

“En dit is hoe jy ’n katarakoperasie hanteer,” sê Wilson, die ene ondeundheid. “Nee, maar ernstig nou. Humor is baie belangrik. Gelukkig het ons dieselfde soort donker humorsin. Dit het al gebeur dat ons in ’n vertrek vol mense so aan die lag gaan dat ons moet uithardloop.” Die dag wanneer hierdie twee wel baklei, kan dit soms heftig raak.

“Ons skuif sommer die meubels rond,” terg Wilson. Elize lag. “Maar ons probeer om nooit kwaad te gaan slaap nie.”

“’n Mens kan kies om negatief te wees en op die verskille tussen mekaar te konsentreer, of jy kan kies om die ooreenkomste tussen julle te vier. Dis weereens ’n keuse, soos alles in die lewe,” meen Wilson.

Maak seker die woorde uit jou mond is opbouend

Hulle deel ’n liefde vir rugby en krieket en baie ander sportsoorte. Daar is vroue wat kla dat hulle nie met hulle man kan praat as hy sport kyk nie, maar dis glad nie hier die geval nie. “Elize kyk saam en ons praat saam. Maar as iemand aan die deur klop, gaan ons regtig nie sê: ‘Gaan weg, ons kyk rugby’ nie.”

“Ek kyk eintlik ook om te sorg dat Wilson nie ’n hartaanval kry soos hy met die skeidsregter gesels nie,” lag Elize.

“Dit is verskriklik belangrik om te dink voor jy praat, want daar is ’n baie dun lyn tussen naar en nice. Woorde is vir ons albei baie belangrik. Dit kan die einde of die begin van ’n fantastiese verhouding wees. As iets eers gesê is, is dit gesê. Dit moes tog immers in jou gedagtes gewees het voor dit uit jou mond gekom het.

“PG du Plessis het eendag gesê dat ’n huwelik begin doodgaan sodra iets gesê word wat nie maklik teruggetrek kan word nie. Ons stem heeltemal met hom saam. Teen dié tyd hoop ek ken ons daardie punt waar stilbly die beste opsie is. Daar is egter geen onderwerp wat taboe is vir ons nie. Ons kan oor enigiets gesels mits die manier en die tyd daarvoor reg is.”

“Dat die liefde alles oorwin, is nie ’n cliché nie,” meen Wilson. “Ek en Elize is lief vir mekaar en ons het lank terug besluit ons sal by mekaar bly – vir ‘botter of vir wors’ – en as jy eers dit besluit het, raak enige misverstand of wankommunikasie klein binne die groter prentjie. Dan máák jy goed werk.”

 

 

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test