Liewer vir die lig

Die afgelope paar weke het ‘lig’ vir ons almal seker ‘n nuwe betekenis gekry. En saam met ons energieverskaffer se uitdagings, vir my ook sommer ‘n heel nuwe simboliek.

So kom ek agter dat my oë in die oggende vroeg erg waterig is. Nie so dat die trane loop nie, maar so dat ek nie lekker kan sien nie. Alles getoets: suikertjies en you name it, maar moet toe maar op die ou einde my trots in die sak steek en ‘n oogtoets laat doen.

Dis waar, deel Leané my mee: Jy word ouer.
Dwa! Tussen die oë…
Die een wat altyd so trots was op haar goeie visie, benodig nou ‘n heelwat sterker leesbril. En in die jare wat kom, sal die patroon homself herhaal.

Maar hierdie is ‘n leesbril en sy plek is langs my rekenaar en waar ek Bybel lees.
Dorp toe? Nog nie sommer nie.

Sê eers: julle het sweerlikwaar ook al agtergekom hulle druk die lettertjies al hoe kleiner agterop die speserybotteltjies? En die lig (of gebrek daaraan eerder) in sommige winkels, maak my moedeloos. Met meer lig, sou ek myself tog sekerlik beter kon help?

[Ma, ek het ook nou daai siekte, Ma. My arms raak ook te kort.]

Vanaf die groot verhoog in Oudtshoorn hierdie naweek, speel die ligte dartelend rond terwyl die musiek doef-doef die mense se voete laat jeuk. Maar met hierdie een spesifieke melodie is daar ‘n 10 000 kerslig spotlight wat swaai en draai en elke paar sekondes jou reg in die gesig vang. Ons almal lyk seker nes ingeoefende agtergronddansers wie se koppies skielik (in gelid nogal) draai wanneer daardie lig na ons kant toe swaai.

Vanoggend toe Ds Jasper preek oor rolmodelle, toe dink ek aan daardie lig Vrydagaand. Deel van sy boodskap is dat ons nie self hoef te verander en iets te word wat ons nie is nie. Die Here gee ons nie alleen die perfekte voorbeeld om te volg nie, Hy gee ons ook die krag om dit te doen.
Nes daardie monster-spotlight: Wanneer ek aan die Lig blootgestel word, dan is dit makliker om my wang te draai. Vir diegene vir wie die wang gedraai moet word.

Vir ‘n sekere deel van ons bevolking hier in Suid-Afrika, was lig tot onlangs nog so vanselfsprekend soos asemhaal. Totdat dit weggeneem word.
My vryheid om die Lig in waarheid te aanbid, is vir my – Suid-Afrikaner – so vanselfsprekend soos asemhaal. Totdat dit van my weggeneem word…
En my verantwoordelikheid teenoor diegene wat nie die wonderlike teenwoordigheid van Lig ken nie? Watse kommentaar lewer dit daarop?, wonder ek.

Soms weet ek, kry ek hierdie innerlike inklinasie, dat die waarheid daar is – reg voor my. Maar die lig skyn net so dat ek dit heeltemal kan raaksien nie. Ek moet rondloop tussen die half-verligte winkelrakke tot ek ‘n plekkie kry waar ek beter kan sien.
Soms moet ek my stêre lig en die Lig gaan soek as ek voel dinge is nie vir my duidelik nie, goete maak nie vir my sin nie.

“This is the message we have heard from Him and declare to you:
God is light; in Him there is no darkness at all.”
1 Johannes 1:5 NIV

My strewe, dit wat ek wil bereik, is dat ek elke dag met dieselfde passie sal smag na die Lig soos wat ek met elke loadshedding die donkerte verpes. Dat my lewe dieselfde vreugdevolle reaksie sal uitlok wanneer mense deur die donker dorp ry en die ligte rondom hulle ewe skielik aangeskakel word.

Daar is egter net een manier:

“If we claim to be without sin, we deceive ourselves and the truth is not in us.
If we confess our sins, He is faithful and just and will forgive us our sins
and purify us from all unrighteousness.
1 Johannes 1:8 NIV

Selfs die ligdraers struikel soms en laat val die lampies. Maar die Here het ‘n onuitputbare bron van lampolie en Lion vuurhoutjies. Hy sal diegene wat daarna vra, nooit ontneem van die Lig nie.

Maar dan sal ek elke dag moet kíés om die Lig liewer te hê as die donkerte.

“We talk about pulling down strongholds and standing up to the devil,
when we can’t even put down the TV remote?”

Here, help ons…

Jou temalied vir die week: Light and Momentary

Vorige artikelEk beleef God in die bos
Volgende artikelKyk blomme in Namakwaland
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!