My ambisie het my deurgedra

Nadia Herbst

“Om jou drome te verwesenlik verg deursettingsvermoë buite jou gemaksone” ‒ NADIA HERBST, 7de Laan-aktrise

Aan die begin was dit nuwe strate, nuwe plekke en ek wat my weg in die stad moes vind.

Die opwinding was groot!

Dit was die eerste stap na ’n lewenslange droom. Daar is doelwitte gestel en geleenthede benut. My hartsbegeertes kán waar word!

’n Jaar lank was daar talle probeerslae. Opgee was nie ’n opsie nie.

Niemand was naby wanneer die twyfel party goed onmoontlik laat lyk het nie. Op my eie het ek aanhou probeer…

Maar ná Idols destyds kon ek nie op my eie regkom nie. Ongelukkig was my ervaring in die bedryf ook te min. Hoe pas ’n mens aan in ’n reusestad as jou familie en vriende ver is?

Alles is agtergelaat. Die pad terug Kaap toe het na ’n uitweg gelyk.

Tog het die drome steeds vas gestaan. Die idee van hoe dinge moes uitwerk, was net vroeër so groot. Die manier van dink oor goed moes ook intussen verander. Geen meer bang-wees vir die onbekende nie.

Intussen was daar selfs ’n tydperk van vervelige kantoorwerk, wat deel van die proses was. Maar kort voor lank het die pad na Gauteng nie meer so donker gelyk nie.

Om te sing en op ’n verhoog te wees maak my gelukkig. Daardie borrelende gevoel was onmiskenbaar toe ek een aand ’n konsert by die Barnyard bygewoon het. Voor die kameras is ek op my gemak.

Maar ’n mens groei waarlik eers wanneer jy buite jou gemaksone moet lewe.

Die struikelblokke het nie verdwyn nie. Vorige scenario’s van angs wou begin kop uitsteek. Elke vorige verwagting was ingeprent. Sulke gedagtes moes anders beveg word, om dié keer te slaag. Opgee was nie ’n moontlikheid nie. Ja, dit was ’n stryd met uitdagings.

Dit was oudisie na oudisie.

Terwyl die groot droom nog nie gerealiseer het nie, het ek aangehou sing. ’n Kontrak met die Rockwood Teater was ’n groot aanmoediging. Die feit dat daar ’n vaste verbintenis was, was ’n hupstoot om my voete in Gauteng te hou.

Daar was nie plek vir emosiebelaaide, impulsiewe besluite nie. Elke stap vorentoe was een in die regte rigting.

Stappe oor wat in die toekoms moes gebeur, moes ek uitpluis. Die fokus moes totaal verskuif. Die nou-oomblik was al wat getel het.

Dit was ’n keuse om dinge uit ’n ander perspektief te sien. Elke moontlikheid het nuwe hoop gegee.

In oomblikke van opgee het die Here my deurgedra. Sodra ek wanhopig raak, was dit asof Hy heeltyd iets gedoen het wat die situasie voorspoedig laat verloop het.

Nuwe vriende en nuwe geleenthede het my dryfkrag versterk. Mense wat die bedryf en sy uitdagings verstaan het, was soos ’n veiligheidsnet.

Elke deurbraak is saam gevier. Hulle was ook teenwoordig om te troos in tye van teleurstelling.

Die nuut gevormde 7de Laan-familie, saam met my tannies, oom en vriende in die noorde, sal ek vir niks verruil nie. By hulle is daar ’n nuwe tuiste.