’n Beginselsaak

Liewe Persoon

My oorle’ Ouma Ciel (ook genoem: Ouma Dorp) was tot die dag van haar dood van die mening dat dit die munisipaal se plig is om die gras op die sypaadjie – voor haar huis, te sny. Jy sien, volgens Ouma het die haar tuin presies opgehou waar die tuinhekkie begin het. Ek kon dit nooit verstaan nie, maar vir haar was dit ‘n beginselsaak.

Ek betrap myself vandag waar ek sit en munisipaal-gedagtes koester oor iets, wat myns insiens, glad nie op my lessenaar moet lê nie… en net daar tref dit my: ek is ‘n troetelaar en in vandag se dae van ‘n onsekere Rand/Dollar wisselkoers, global warming, hemelhoë mediesefondsbetalings en versteekte versoeters in alles van vrugterolle tot hoesgoed, is dit ‘n groot taboe! Ouma sou nooit daarvoor gestaan het nie!

Die probleem is dat ek mos nie sommer die woordjie “nee” uiter nie. Eintlik sprak ek dit nooit… ooit! Ek het al baie gewonder waarom ek nou juis met dié onlekker lot laat staan is… en ek kan net nie my vinger daarop lê nie. Maar eending weet ek… dit kom van ver.

So het ek myself al male sonder tal in vreeslike dinge begeef… soos die keer toe ek as jong joernalis ‘n broeisel uilkuikens op die destydse Technikon se dak moes loop afneem. Ek het probeer verduidelik dat ek ‘n skirt aanhet en eintlik nie van hoogtes hou nie, maar nee… So is ek al knyp-knyp met die brandweerleer op tot duskant die stratosfeer (of so het dit gevoel) om die twee dons-gedaantes te kiek. Ek moet sê die opklimslag was nie te aardig nie… maar met die afklimslag toe begin dinge lelik lol. Jy sien… dit is fisies onmoontlik om te knyp, ‘n leer vas te hou en boonop jou voete onder ‘n langlyf-skirt te bekyk.  Iets moes bes gee, en ek is bevrees dat ek op daardie oomblik my veiligheid bo my waardigheid gestel het en terstond ophou vasknyp het, met die gevolg dat die skare op die grond toe sommer twee shows vir die prys van een kry: ‘n kykie na dag-oue uilkuikens en ‘n vroumens met ‘n bloedrooi shwe-shwe skirt wat vanuit die hemelruim neerplons.

En dit alles net omdat die woordjie “nee” iewers tussen my brein en my mond telkens verdwaal. Ek dink “nee” kuier te lekker saam met “nog-roomys-asseblief” en “hoe kan ek help?”

Dit is tyd vir my om my tong te tem, dit is immers ‘n beginselsaak!

Kliek hier om meer van Annette Willemse se blogs te lees. 

Vorige artikelGenoeg
Volgende artikelDapper om ander aan te moedig
Blogger - Annette Willemse
Annette Willemse is ’n oud-joernalis, fotograaf, dosent, korporatiewe kommunikasiespesialis, skrywer, dromer en doener! Skryf is vir my soos ’n pleister vir die siel, soos rooiwyn vir die liefde en soos koeksusters by ’n kerkbasaar. Ek lééf in prentjies en in stories. Gelukkig laat my beroep as Korporatiewe Kommunikasiepraktisyn my toe om myself – elke dag, met woorde te besig. Ek het my voorliefde vir lees en skryf by my ma – ook Annette, gekry. Ons erken maklik dat ons van brood sal leef solank ons net ’n ietsie het om te lees.