’n Ekstra rand of twee

Wouter Snyman

Ons almal ken die liedjie “Ek sou kon doen met ’n miljoen”. Ons sing dit saam, want ons stem saam. Gelukkig is daar maniere om ’n ekstra inkomste te verdien deur jou vaardighede in te span.

’n Inkomstebron is soos ’n fontein waaruit daar verskillende stroompies loop. As een stroompie verstop raak of opdroog, is daar altyd ander strome wat vir jou ’n inkomste kan waarborg. Al wat jy moet doen, is om jou talente en passie in te span om jou ’n ekstra rand of twee in die sak te bring.

Bemark jouself, verkoop jou kundigheid en voeg waarde toe

Mense betaal ander nie net vir hulle tyd nie, maar eerder vir die waarde wat toegevoeg word in daardie tyd. Wat kan jy goed doen om waarde toe te voeg? Dit kan enigiets wees, van ekstra wiskundelesse tot om iemand te leer baskitaar speel.

Mense betaal gewoonlik vir produkte, dienste en kundigheid. In die inligtingsera waarin ons leef, betaal mense vir informasie. Daar word beraam dat die drie beroepe wat vandag die vinnigste groei, is die deel van inligting, leefstylafrigting en besigheidskursusse wat jou toerus vir die werksplek.

Gebruik eenvoudig jou passie en deel dit met mense sodat hulle daardeur kan leer of hulleself kan bevorder ten opsigte van verhoudings, finansies, persoonlike groei en so meer.

In ons tegnologiese era besit 9 uit 10 mense in Suid-Afrika ’n selfoon. Omtrent almal het slimfoon-kapasiteit, so, jy kan ’n kort video van jouself opneem waar jy vertel van die klasse wat jy aanbied of die diens wat jy lewer. Dit is duidelik aanlyn sigbaar hoe mense geld verdien deur bloot hulle kundigheid met ander te deel. Jy kan selfs ’n e-boek skryf. As jy dieper begin delf en oorspronklik dink oor maniere om ekstra geld te maak, sal jy ontdek daar is ’n magdom opsies beskikbaar.

Wouter Snyman gee wenke oor hoe om jou begroting te laat klop. Kyk hier na sy video.

Leer nuwe vaardighede aan en werk vir elke sent

Daar is ses maniere om geld in die hande te kry: jy kan dit leen, steel, wen, erf, jy kan dit belê en rente kry of jy kan dit verdien. Ek beveel eerder nie die eerste vier opsies aan nie. As jy geld steel, gaan jy moontlik in die tronk beland. As jy geld wil erf, moet jou ouers dit eers vir jou nalaat. En as jy geld uit die Lotto wil wen, is jou kans maar ’n skrale een uit tien miljoen.

Ek glo as jy meer wil verdien, moet jy meer leer. Die voordeel vandag is dat dit jou nie ʼn klomp geld hoef te kos nie. Dit is so maklik soos om ’n MBA-kursus aanlyn te voltooi. Gebruik Google om te sien watter kursusse aanlyn beskikbaar is. So kan jy jouself leer om letterlik enigiets te doen.

Die beste raad is om meer as een bron van inkomste te kry. Jou huidige inkomste en salaris is jou eerste bron. As jy dalk ’n beleggingseiendom het, is dit jou tweede stroom van inkomste. As jy ’n ekstra werkie kan doen waarin jy jou passie uitleef, soos om naaldwerk te doen of foto’s te neem teen betaling, nog beter.

Gebruik jou gawes en talente om jou ryker te maak

As jy steeds wonder hoe om meer geld in jou sak te kry elke maand, begin lees. Leer by die kenners soos Warren Buffet oor hoe om jou geld te bestuur. Dit gaan jou dalk R200 kos vir ’n boek, maar dit mag moontlik jou beste belegging wees om finansieel onafhanklik te raak.

Onthou, hoe meer waarde jy toevoeg, hoe groter is die inkomste wat jy gaan kry. Bring ook die mededinging in jou spesifieke veld en die kundigheidsvlak wat van jou vereis word, in berekening. Kyk dan hoeveel mense jy met jou spesifieke diens en vaardighede kan bedien. ’n Breinchirurg se kundigheidsvlak is baie hoog en daarom verdien hy baie geld, maar hy kan net een pasiënt op ’n slag opereer. ’n Kelner se inkomste en kundigheidsvlak is laer as dié van ʼn chirurg, maar hy kan weer meer as een persoon op ’n slag bedien.

Pas ’n huis op, neem ander mense se honde om te gaan stap, of doen stryk- of naaldwerk vir sakgeld. Maak net seker jou geldfonteintjie droog nooit op nie.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

In Slim met jou geld? Help Wouter mense om hulle geldsake te bestuur. Ruk jou finansies reg in 52 weke. Koop nou die boek by voeldgoedwinkel.co.za vir slegs R80.

lyn_3.png

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test