’n Man van integriteit

Ek het hom nie geken nie. Die nuus het my aandag getrek. Huldeblyke het ingestroom.

Hy was wyd beskryf as iemand met integriteit. Die woord het my opgeval. INTEGRITEIT… in hoofletters. Wat ’n mooi getuigskrif, al was die situasie hartseer.

Ek het die betekenis daarvan probeer verduidelik aan my seun. Iets van suiwerheid, egtheid. Regte motiewe. ’n Stukkie refleksie van God se hart. Opreg, mooi. Betroubaar. Dit was amper irrelevant dat hy ’n Regter was. Hy was ’n man van integriteit. Punt. By sy werk, sy huis en oral waar hy beweeg het.

In die vorige week woon ek ‘n praatjie by van die bekende atleet, Johan Fourie. Sy prestasies op die atletiekbaan was merkwaardig. Die rede vir sy sukses ? Hy het nooit opgehou droom nie. Vandag leef hy daardie dome voort in ander jong atlete. Hy hou vas aan sy geloof en leef ’n inspirasie.

Ek dink aan ons jong kinders van vandag. Wat stoei en spartel vir ’n plekkie in die son. Hoe baie laat ons hul nog toe om te droom? Wie is hulle rolmodelle? Is eienskappe soos integriteit iets wat hulle kan sien en kan navolg?

Is daar nog klein Josef’s met groot drome? Vir die Bybelse Josef kon dit ook nie maklik gewees het nie. Verkoop. Alleen. Bang. Die storie het ’n goeie einde want dis sy karakter wat die toets deurstaan. ’n Jong man met integriteit, selfs wanneer omstandighede teen hom draai.

Spreuke 3 gee raad: “ Moenie dat jy tekort skiet aan liefde en getrouheid nie. Vertrou op die Here met alles wat jy het. Vra na die wil van God in alles wat jy doen…”

Kinders met groot drome en integriteit… iets om na te strewe.

Vandag se ek dankie vir ’n Regter wat ek nie geken het nie. Die rimpels van jou integriteit het ook my hart geraak. Danksy mense soos Johan laat ek my hokkiespannetjie weer droom. Danksy ander mense wat inspireer kan ons saam hoop lewe en groot droom.