Na al die preke, waar is die deurbraak?

So troffe die lewe ons en ons begin keuses maak.  Vrotsige keuses.  Of mense begin dinge aan ons doen wat ‘n verwoestende effek op ons het en nou is ons stukkend.

Ons begin preke hoor wat bv. sal sê dat jy positief moet praat, dan sal jou lewe mos positief wees (met die toepaslike skrif natuurlik).  Of nog ‘n selfhelppreek sal ons wysmaak dat ons net reg moet begin dink, dis al!  Spreuke 23:7 werk vir daardie een.  Alles waar, maar duidelik nie genoeg nie.

Want hier is die probleem.  Al hierdie stukkies geeslogika is ons wat die gevolge van ons sondige siel probeer regstel.  Maar ek wil jou in alle eerlikheid vra… na al daardie fantastiese preke, na die beste intensies en byt op die tande… het dit nou al gewerk?  Waar is die “deurbraak”?  Daardie onvergifnis, die selfsug, die gebrek aan selfbeheersing… alles goed wat duidelik in die Woord uitgewys word as sielsgemors wat voor jou vrees vir die Here moet buig.  En dan doen dit nie!  Dit werk nie!  Jy is net so stukkend soos laas week, laat maand, laas jaar… die laaste dekade!

So ek wil ‘n ander opsie voor jou lê om te oorweeg.

2 Korintiers 3:18

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

Derek Prince verduidelik dit so eenvoudig.  God heers oor ons gees en ons gees heers oor ons siel (wil, denke, emosies).  Dit is Sy Goddelike orde.  So dit help nie ons wil by die siel begin nie, ons moet by Hom begin.  Wie Hy is.  Hoe Hy dink.  Wat Hy besluit.  Deur na Hom te kyk verander ons, want Hy doen dit.

So nou staan jy voor growwe Gert wat jou irriteer en jy vra: Here, hoe sien U vir growwe Gert?  U is rein, U is heilig, U is genadig en lankmoedig.  U liefde offer alles op vir ewig.  U het al die moeite gedoen om hom te maak, U is passievol lief vir hom, U het intieme kennis oor hoekom hy is hoe hy is… die fokus is nie meer op growwe Gert en sy gemors nie, dit is op Jesus. Die een wat vir growwe Gert se sonde betaal het en hom sien as die moeite werd… net soos wat jy die moeite werd is.

So:

Sy Woord… tyd in Sy teenwoordigheid in gebed en aanbidding op soek na Sy hart – daar is geen ander manier om Hom te aanskou nie en geen ander manier om ooit werklik te verander nie.