Die waarheid oor Botox en vullers

Botox

Dit versag plooie en gee weer volume aan jou gesig waar die ouderdom dit wegkalwe. Maar wat is die voordele en gevare van Botox en vullers? Ons het 'n dokter gevra.

Dr. Toni Jay is ’n plastiese chirurg wat self al ’n paar skoonheidstitels losgeslaan het. Haar passie is om vroue te help om gesonder te leef en goed te voel oor hulleself. Dit sluit natuurlik hulle voorkoms in.

Sy het ʼn paar van ons vrae oor die nuutste jonkblygiere, Botox en vullers, reguit beantwoord.

Hoe kan Botox vroue se voorkoms verbeter?

Botox (Botilinum toksien A) is ’n neurotoksien wat die verswakking van die spiere veroorsaak. Dit is aanvanklik gebruik om spasmas van die oogspiere te verlig, maar later het dokters gesien dat klein hoeveelhede daarvan ook lagplooitjies om die oë of die frons tussen die oë kan versag.

Eenvoudig gestel: Dit verlam die spier onder die vel, sodat dit nie kan saamtrek en ’n plooi maak nie. Dit werk die beste op die voorkop en die boonste deel van die gesig. Onthou dat Botox geensins die vel se tekstuur verander nie.

Hoe lank duur die effek van Botox en wat kos dit?

Botox hou ongeveer 3 tot 6 maande en resultate kan gesien word binne 6 tot 10 dae na die behandeling. Dit kos tussen R50 en R200 per eenheid, en ʼn frons die oë kan 15 tot 30 eenhede benodig. Dit beteken R1 000 tot R2 000 gemiddeld net vir een gesigsarea. Pryse wissel na gelang van die dokter en die hoeveelheid stof wat ingespuit word.

Waarvoor word vullers dan gebruik?

Namate jy ouer word, verloor jy volume in jou gesig. As jy kyk na foto’s van jouself toe jy jonk was, was jou wange byvoorbeeld volrond, maar soos jy ouer word, word jou gesig “maerder” en beneriger. Dis hier waar vullers ’n rol kan speel.

Dit is ’n reeks produkte wat in die vel ingespuit word om volume te verbeter. Een van die algemeenste stowwe is hialuroonsuur in jelvorm. Dis nie liggaamsvreemd nie, want hierdie suur kan natuurlik in die vet en sagte weefsel voorkom. As jy ’n diep plooi van jou neus tot by jou mondhoek het, is ’n vuller waarskynlik jou antwoord.

Hoe lank duur die uitwerking van vullers en wat kos dit?

Dit kan nege maande of langer hou, maar die effek hang af van die produk wat jy gebruik, die hoeveelheid wat ingespuit word en hoe vinnig jou liggaam dit afbreek. Vullers is duurder as Botox en kos normaalweg R3 000 tot R6 000 per area. Dit kan ook meer wees afhangend van die hoeveelheid benodig.

Wat is die gevare en nadele van Botox en vullers?

Daar was al ’n paar gevalle van allergiese reaksies teen die stof wat ingespuit word. Alhoewel behandelbaar, kan so ’n reaksie baie ongemak veroorsaak. In sommige gevalle kan Botox die wenkbroue te veel lig en jou eerder ’n gesigsuitdrukking gee wat dit laat lyk of jy verbaas in plaas van jonger is.

“Omdat die behandelings duur is, raai ek vroue altyd aan om meer as een kwotasie te kry en seker te maak van kwalifikasies en vaardigheid. Met verloop van tyd sal die vel na sy oorspronklike vorm terugkeer. Ten spyte van die nadele van hierdie twee stowwe verander dit jou voorkoms daadwerklik indien die prosedure reg uitgevoer word deur ’n gekwalifiseerde dokter. Dit moet ook vir die regte indikasies gebruik word. Dit vervang nie ʼn gesigontrimpeling nie. Botox en vullers help jou om ’n paar jaar af te skud, en myns insiens is die effek mooier as dit subtiel is.”

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA