Hoe doen jy grimering in ’n japtrap?

Jolene Martin

Jy weet dis ’n fout om die snooze-knoppie te druk, maar jy doen dit in elk geval. Dan skrik jy vervaard wakker en besef daar is net ’n paar minute oor om reg te maak vir werk.

Daar is net tyd om vinnig in die stort te spring, jou klere oor jou kop te gooi en ’n paar strepe grimering aan te bring.

Jolene Martin vertel hoe sy te werk gaan as daar min tyd is vir mooimaak. Alhoewel sy nie grimering by die huis dra nie, sorg sy dat sy foutloos gegrimeer is as by die huis uitgaan. Sy gee ook wenke wat sy by haar ma en ’n vriendin, ’n professionele grimeerkunstenaar, geleer het.

Grimering in 10 minute

As ek net tien minute het om myself te grimeer sal ek beslis by my vel begin. Dit is vir my uiters belangrik dat my gesig vlekloos moet lyk. Ek gebruik ’n kombinasie van onderlaag en poeier. Dit is vir die twee-in-een produk wat ek moet hê.

Nadat ek aandag gegee het aan die basislaag, sal ek my wenkbroue versorg daarna oogomlyner (bo en onder) aanwend asook maskara, blosser en lipstiffie (Matte Magenta).

Grimering in 6 minute

Ek sal weer by my twee-in-een onderlaag begin. Ek glo dat die vel altyd “selfie-bestand” moet wees. Dit sal opgevolg word deur my wenkbroue, ’n vloeibare oogomlyner (wat ek net op die boonste ooglid aansit), Super Extend Extreme maskara en dan ’n lipvlekmiddel.

Die lipvlekmiddel wat ek gebruik, bevat vitamien E en natuurlike botters, wat dit uiters bevogtigend maak. Dit hou ook lank op my lippe. Ek verkies lipglans bo lipstiffie en gebruik ook ’n lipomlyner om ’n driedimensionele effek te verkry.

Grimering in 4 minute

Die kombinasie-onderlaag, wenkbroue en maskara is noodsaaklik vir as ek net vier minute tyd het. Dit is ook wat ek vakansietye dra. In hierdie geval sal ek met my wenkbroue begin. Ek gebruik ’n jel-crème vir wenkbroue en weereens die betroubare Super Extend Extreme maskara vir my wimpers.

As ek na werk ’n afspraak het, sal ek die bewyse van ’n dol dag met net ’n rooi lipstiffie verbloem. Dit is letterlik al wat ek sou gebruik om my grimering ’n bietjie op te kikker. Rooi is ’n beeldskone kleur wat alles mooi laat lyk.

Grimering in 2 minute

Die beste grimeringswenk wat my vriendin my jare gelede geleer het, is om my oë te beklemtoon. Sy het eendag vir my gesê: “Let’s warm up your eyes.” Om dit reg te kry, gebruik ek ’n romerige kleurpotlood op die onderste ooglede en ’n koraalkleur oogskadu.

Sy het my ook geleer hoe om my grimering vars te laat lyk deur dit te klad. ’n Mens kan kladlappies gebruik, maar ek gebruik sommer ’n gewone sneesdoekie.

Laastens het ek my ma se slagspreuk skaamteloos gesteel, naamlik dat dit werk om goed te lyk, maar belangriker is om goed te voel.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA