Is jou vel ook lig en sensitief?

’n Ligte vel is ’n tameletjie. In baie gevalle is dit sensitief, jy brand seer sonder om bruin te word en onderlaag is ’n groot gesukkel! Desiré Gardner gee raad.

My ligte vel is geneig om sensitief te wees. Dis waarom ek baie growwe afskilferrome en produkte wat alkohol bevat heeltemal vermy. Té warm of té koue water is ook geneig om my vel te irriteer. Ek is gaande oor Placécol se Clean Start Facial Milk. Dis sag op my vel, maar verwyder al my grimering deeglik, en maak my vel vogtig en goed gehidreer na ek dit gereinig het.

Aangesien dit slegs ’n natuurlike geurmiddel bevat, is die kans dat dit ’n reaksie sal veroorsaak, ook kleiner.

Strategieë teen sonbrand

Ek sorg dat ek ’n breërandhoed dra as ek in die tuin werk en dra altyd sonskerm. Aan die begin van die somer is dit ’n produk met ’n baie hoë sonbeskermingsfaktor (SBF), selfs tot 50. Dan sal ek stelselmatig afgaan na ’n produk met ’n SBF van 30, namate my vel gewoond raak aan die son. Somer of winter, ek dra altyd ’n bevogtiger aan my gesig met ’n SBF van minstens 15.

Kry kleur in die somer

Om kleur te kry vir die somer sonder om my vel te beskadig, gebruik ek ’n goeie selfverbruiner wat nie geel merke maak nie. My gunstelingproduk is Caribbean Tan. Dis baie beter as om ure lank in die son te lê. My vel brand net rooi en word dan weer wit. Wanneer ek egter tydens vakansie in die son was gebruik ek altyd ’n na-sonproduk wat Aloe Vera bevat. Dit hidreer my vel.

Die perfekte onderlaag

As ek nie grimering dra nie, is ek baie bleek. Ongelukkig is dit elke vrou met ’n ligte vel se grootste nagmerrie om die perfekte onderlaag te vind. As dit nie te geel is nie, is dit te pienk. Daar was al geleenthede waar ek gedink het my onderlaag is perfek, maar dan lyk ek soos ’n spook op foto’s. Charlie se onderlaag in Honey werk op die oomblik die beste vir my as ek self my grimering doen.

Blosser en lipstiffie

Vir vinnige kleur is blosser en lipstiffie seker ideaal. Ongelukkig is dit gewoonlik die laaste ding op ’n werkende ma se prioriteitslys. Blosser is maklik – ’n ligte pienk kleur werk altyd. Dit lyk vir my die natuurlikste, want dit is die naaste aan die kleur wat ek word as ek bloos. In die meeste gevalle is die rooi ondertoon van my vel egter genoeg om kleur te gee. Wanneer dit by lipstiffie kom, is ligpienk ook my gunstelingkleur.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.