Leer jou lyf ken

Bloedtoetse en X-strale is nie die enigste bronne van inligting oor jou lyf nie. Jy kan baie wys word deur op te let na die tekens wat jou liggaam gee.

Jou nek: Styf en seer

Jou kussing word gou geblameer as jou nek styf of seer voel, of jy gee spanning die skuld. Hierdie pyne kan egter simptome van hoë cholesterol wees. Dit gaan gewoonlik gepaard met pyn aan die agterkant van jou kop en skouers, voete wat swel, moegheid en slaaploosheid. Omdat agt uit tien Suid-Afrikaners aan hoë cholesterol ly, is dit noodsaaklik dat jy jou gereeld daarvoor laat toets.

Onlangse navorsing het bevind dat jy jou cholesterol kan verlaag deur elke dag neute te eet. Dit kan ook jou risiko vir hartsiektes verminder. Neute is ’n bron van onversadigde vette, wat cholesterol verlaag. Die navorsers het die data van 25 studies oor die eet van neute ondersoek.

Nie een van die deelnemers het medikasie vir cholesterol gedrink nie. Daar is bevind dat ’n derde koppie neute per dag jou totale cholesterol met ongeveer vyf persent kan verlaag. Amandels, haselneute, grondboontjies en pekanneute was by die studies ingesluit.

Gesondheid aan jou vingerpunte

Jou hande bevat ’n magdom inligting oor jou gesondheid. Dis soos ’n padkaart van die res van jou lyf.

As jy na jou vingers kyk en geen halfmane op jou vingers behalwe jou pinkie sien nie, beteken dit jy het moontlik depressie en swak sirkulasie. As jy ’n maantjie op jou pinkie het, wys dit op hartprobleme. As die mane hoog op jou vingers is, ly jy moontlik aan hoë bloeddruk. ’n Hoë maan op jou duim is normaal, maar ’n klein maantjie beteken dat jy minerale kort of dat jou liggaam dit nie reg opneem nie. Jodium kan jou liggaam help om meer minerale en veral kalsium op te neem. Praat eers met jou dokter voor jy dit begin gebruik.

Geen mane kan ook dui op ’n suurstoftekort weens swak sirkulasie en gaan gewoonlik gepaard met koue hande. Drink foliensuur om jou sirkulasie te verbeter.

Maag: Hoe ronder, hoe ongesonder

Studies dui daarop dat ’n groot maag ’n mens se kans vir diabetes, hartsiektes en sekere kankers verhoog. Maagvet pak om jou organe aan, wat druk op hulle plaas en jou maag vorentoe stoot. Hierdie vet skei stowwe af wat inflammasie in jou liggaam veroorsaak en tot ernstige siektes aanleiding kan gee.

Wanneer mense ’n spesiale dieet volg, verloor die meeste eers gewig om hulle maag. Dis omdat maagvet, wat diep lê, metabolies meer aktief is en vinniger verbrand as die vet oor die res van jou liggaam.

Dis belangrik om ook jou naeltjie dop te hou. As die vel naby jou naeltjie rooi, blou of grys lyk en swel, het jy moontlik ’n naelbreuk. Dit ontstaan wanneer ’n deel van jou derm deur ’n swak plek in die spiere naby jou naeltjie druk. Dit kan ook ’n massa vorm wat sag voel. Besoek jou dokter, want as dit nie behandel word nie, kan dit noodlottig wees.