Nuutste naellakmodes

Dis heerlike lente, die winter is verby! Modeontwerpers het hierdie seisoen nie geskroom om naels by die New York-modeweek interessante kleure te verf nie.

Pienk is prettig

Vergeet maar van daardie ligte beige en swart naels en dink “sewentigs”. Dis nou tyd vir warm, blink en oordadige kleure, om die nuwe seisoen behoorlik te vier.

Helderpienk, magenta, fuchsia en framboospienk is supervroulik en die perfekte keuse om saam met die lentebloeisels uit te bars in vrolikheid. Pienk is ook die ideale kleur om jou swart rokkie mee op te vrolik vir ’n aandgeleentheid. Probeer Revlon se Vivacious of Essie se Lounge Lover. Maak jou naels deeglik skoon met ’n bevogtigende naellakverwyderaar voor jy hulle verf. Gebruik daarna ’n dun lipstiffiekwassie (met naellakverwyderaar op die punt) om die naellak netjies af te rond. Dit werk beter as ’n oorstokkie.

Dis ’n grys area

Verlede jaar hierdie tyd kon ons nie genoeg van swart naellak kry nie, maar voordat jy weer ’n botteltjie daarvan gaan koop, wag eers, want grys is die nuwe in ding. Een van die gewildste kleure vir die lente is die ultramodieuse, misterieuse en amper spookagtige houtskoolgrys. Dit pas by enige kleur kledingstuk en is groot nuus op die loopplank en by modeskoue. Vir ekstra effek tower grys naellak op met ’n boonste laag glinsterverf met blinkers. Essie se Luxeffects Top Coat is ideaal hiervoor.

As grys vir jou net te vervelig is, probeer gerus ’n metaalkleur soos O.P.I Nail Lacquer My Signature. Dié silwer is hoogmode en pas by feitlik alles. Jy sal dus jou naelkleur dieselfde kan hou, ongeag die kleur van jou uitrusting. Dieselfde geld vir goud, roosgoud en chroom. Hierdie kleure werk veral goed saam met kledingstukke wat ’n growwe tekstuur het. Silwer is ’n wonderlike aksentkleur om saam met naelkuns te gebruik.

’n Blou Maandag

Blou is ’n modegier van die winter wat sy weg oopgebeur het na die lente. Van alilkreukel en poeierblou tot ’n glansryke vlootblou. Revlon se Chip Defiant™ formule in Irresistible en Sultry is van die bloue wat aandag sal trek en dis altyd mooi saam met ’n tydlose denim. Smeer Vaseline rondom jou naels aan elke aand. Dit sal jou naelriempies sag en bevogtig hou, en sodoende sal jou hande versorg lyk en voorkom jy velletjies wat inskeur.

Volgens Madeline Poole, Sally Hansen se manikuurspesialis, moet jy ’n basislaag aanwend voor die kleur aangesien dit die naellak gladder en meer eweredig laat vertoon en ook jou naels teen uitdroging en vlekke beskerm. ’n Bolaag is ook noodsaaklik, want dit beskerm die kleur en verhoed dat dit afskilfer. Die bolaag kan elke derde dag herhaal word.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.