Verslank makliker

metabolisme

Daar is maklike, praktiese dinge wat jy daagliks kan doen om jou metabolisme te versnel en só die kilo’s makliker weg te hou.

Oefen harder

Hoe klink net een minuut se harde oefening drie keer per week? Hoë-intensiteit-oefening met ruspouses (high-intensity interval training) kan jou metabolisme vir tot 24 uur ná die oefening versnel.

Hierdie soort oefening wissel tussen intense oefening en matige oefening of hersteltye. Navorsing toon dit kan dieselfde gesondheidsvoordele as langer oefensessies inhou, selfs al oefen jy net vir ’n minuut intens. Dan moet jy jouself vir daardie minuut hard druk teen ’n hoë spoed.

Wanneer jy stap, stap ’n bepaalde afstand so vinnig moontlik, byvoorbeeld van die een lamppaal na die ander, en keer dan terug na jou normale spoed. Herhaal dit ’n paar keer.

Bou jou spiere

Moenie draaie om die gewigte by die gimnasium loop nie. “Spiere verbrand aansienlik meer energie as vet, selfs terwyl jy voor jou rekenaar sit of ’n boek lees,” sê Irene. “Hoe meer spiere jy het, hoe meer kilojoules sal jy ná elke oefensessie verbrand,” sê Jill Borresen, ’n senior spesialis van Vitality Wellness. Met 2 kg meer spiere sal jy reeds elke dag 125 kilojoules meer verbrand – sonder dat jy eers oefen!

Bou spiere deur met gewigte te oefen en doen oefeninge wat jou liggaam se gewig gebruik, soos opstote (push-ups), hurke (squats) en spronge (lunges).

Eet minder vleis

Vroue veral is geneig om deur die loop van die dag te min proteïene in te neem, maar jou liggaam verbrand sowat 25% meer kilojoules wanneer dit proteïene verteer as vet of koolhidrate. Maak dus seker proteïene vorm deel van elke maaltyd. “Hou by ’n stuk vleis, vis of hoender so groot soos jou handpalm of een of twee eiers per ete,” sê Terry Harris, dieetkundige van Vitality.

’n Vrou wat 65 kg weeg en min oefen, het ongeveer 60 gram proteïene per dag nodig. Dit is byvoorbeeld een eier, ’n hoenderborsie, ’n koppie melk en ’n hand vol neute, sê Gabriël Eksteen, dieetkundige van die Suid-Afrikaanse Hart-en-beroertestigting.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.