Wat tap jou energie?

energie

Voel jy gedurig afgemat, ten spyte van genoeg slaap? Vind uit of dit bloot slegte gewoontes of iets meer ernstig is wat jou energie knou.

Is ek eintlik net dors?

Jy kan moeg voel omdat jy dors is. Teen die tyd dat jy dors voel, is jy eintlik reeds ontwater. Wanneer jy net effens ontwater, verdik jou bloed en moet jou hart harder werk om bloed te pomp, wat tot moegheid lei.

Navorsers van die Swansea Universiteit in Wallis het bevind hoe dorser ’n mens is, hoe swakker is jou aandagspan en geheue. Die mense in die studie wat die ergste dors was, het minder energie gehad. Hierdie uitwerking is bemerk toe die deelnemers nog maar slegs 0,22% van hulle liggaamsgewig aan water verloor het – dieselfde hoeveelheid water wat jy maklik op ’n warm dag kan verloor as jy aktief is of nie gereeld drink nie.

Om te bepaal of jy genoeg drink, monitor hoe gereeld jy urineer. Jy behoort elke twee tot vier uur die badkamer te besoek, en jou urine behoort ’n ligte kleur te wees.

Eet ek dalk te veel suiker?

Kos, koeldrank en lekkernye met baie suiker in het ’n hoë glukemiese lading. Dit beteken dit het groot hoeveelhede van die soort koolhidrate waarvan die suikers vinnig in jou bloedstroom vrygestel word. Dit veroorsaak ’n skielike energie-inspuiting, gevolg deur ’n skerp daling in jou energie, wat jou waarskynlik weer na die volgende koekie wil laat gryp.

Studies toon só ’n dieet lei tot lomerigheid, moegheid bedags en swakker slaap. Op die lange duur kan ’n dieet van verfynde koolhidrate soos dié in brood en pasta, soetgoed en koeldrank, chroniese moegheid en lomerigheid deur die dag veroorsaak in die vorm van insulienweerstandigheid en prediabetes.

Dit is nie nodig om die natuurlike suiker in groente en vrugte te vermy nie, maar eet liefs minder lekkergoed, koek, gaskoeldrank en sjokolade. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan jy neem nie meer as 25 g (sowat 6 teelepels) bygevoegde suiker ’n dag in nie ­–­ minder as een blikkie gaskoeldrank.

Is dit moontlik my hart wat lol?

As jy skielik moeg voel terwyl jy alledaagse take verrig, soos die huis skoonmaak of in die tuin werk, kan dit ’n teken wees dat jou hart swaarkry.

Moenie dink hartsiekte tref net oorgewig mans wat te veel stres en baie rooivleis eet nie. In Suid-Afrika sterf effens meer vroue as mans aan hartsiekte, en byna ses keer meer vroue sterf aan hartsiekte as borskanker. Die gevaartekens vir ’n hartaanval is minder voor die hand liggend by vroue as mans, volgens die Hart-en-beroertestigting.

Vroue ondervind dikwels nie die “klassieke” simptome soos pyn of styfheid in die bors nie, maar eerder ongemak in die bors, buikpyn, ’n onreëlmatige hartklop en geswelde voete. Hulle kan ook kortasem, moeg, naar en duiselig voel.

Dr. Eric Klug, ’n kardioloog van Johannesburg, beveel matige oefening, die Mediterreense dieet en statiene aan om slegte LDL-cholesterol te verlaag. Dit kan moontlik hartsiekte voorkom of bedwing en jou energie herstel.

Kom ek genoeg in die lig?

Jou liggaam het lig nodig om behoorlik wakker te wees. Dit maak nie saak of dit sonlig of kunsmatige lig is nie: Trek die gordyne oop sodat die son jou soggens wakker maak, of skakel die ligte aan voor sonsopkoms. Bring deur die dag ’n paar minute buite in die son deur. (Net nie wanneer die son op sy warmste is nie!) Sonlig verhoog die vitamien D, wat ’n rol in volgehoue energie speel.

Maak seker jy het die regte ligte in jou huis of werksomgewing: Dit moet kompakte fluoresseerlampe wees met wit lig, wat meer ooreenstem met die lig buite as die gelerige lig van gloeilampe. Stel ook jou slimfoon se skerm om bedags ’n koel, blou lig en saans ’n warmer, oranje lig te vertoon. Saans stel jou liggaam melatonien vry, ’n hormoon wat jou laat slaap. Blou lig onderdruk melatonien, wat jou saans wakkerder kan laat voel.

Moet ek eerder soggens oefen?

Doen al vroegdag oefening, al is dit net vir tien minute. Gereelde oefening kan jou energie met sowat 20% verhoog. Wanneer jy oefen, pomp suurstofryke bloed deur jou liggaam na jou hart, spiere en brein, wat jou energie ’n hupstoot gee. Stap, draf, fietsry, swem of oefen met gewigte is alles goeie opsies. Maar moet nie verplig voel om intense oefening op jou nugter maag te doen nie.

As jy nie ’n oggendmens is nie of regtig uitgeput is, kan ’n harde oefensessie jou net meer vermoei. Navorsing wys matige aërobiese oefening soos stap is beter om moegheid hok te slaan as hoë-intensiteit-oefeninge.

As jy in die gewoonte kan kom om in die oggend te oefen, sal jy waarskynlik ook beter by daardie roetine kan hou, want daardie tyd van die dag is daar nog min afleidings en ander goed wat op jou tyd aanspraak maak.

Sal koffie my soggens wakker maak?

Vroegoggend is nie eintlik die beste tyd van die dag om ’n lekker koppie koffie te drink nie. Hoe kan dit dan wees? Die kafeïen in koffie meng glo in met die kortisol (’n hormoon wat in reaksie op stres en lae bloedsuiker vrygestel word) in die liggaam, wat vroegoggend hoog is. Gevolglik vervaardig die liggaam minder kortisol en ontwikkel jy ’n weerstand teen die kafeïen.

Drink eerder ’n koppie groentee heel eerste in die oggend. Die kafeïen daarin sal jou wel op en wakker laat voel, maar die teanien het ’n kalmerende uitwerking – ideaal vir ’n stil oomblik voor die dag se gejaag begin.

Groentee is ook propvol katekiene (catechins), antioksidante wat selskade teëwerk en moontlik selfs kan voorkom. Navorsing toon dit verbeter jou bloedsirkulasie en verminder cholesterol. Dit kan ook hartverwante probleme soos hoë bloeddruk help voorkom.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA