Om gelukkig te wees

“Maak elke dag ‘n sinvolle dag. Doen goed aan ander waar jy kan. Moenie kwaad doen nie.”

Dit is woorde uit ‘n gesprek tussen die Dalai Lama en Aartsbiskop Desmond Tutu in die boek:

The book of Joy. ‘n Sinvolle dag. Hoeveel keer gaan slaap ons met nog ‘n dag wat verby is? Verby gejaag. Hoe maak ons elke dag ‘n sinvolle dag? Dalk is dit iets waarop ons doelbewus meer moet fokus. Ons oë oop te maak vir geleenthede. ‘n Oomblik minder na onsself kyk en aan ons eie probleme dink. Dikwels hoef jy nie ver te soek nie. Lê die geleentheid vir goed doen dalk baie nader aan jou. Soms net ietsie kleins.

Oppad werk toe sien ek gister ‘n vroutjie in die reën hardloop. Iets laat my stop. Ek bied ‘n geleentheid aan. Dit oggend was stormagtig. Sy is netjies aangetrek, nat en koud. Het vroeg reeds werk toe gestap in ongure weer. Iemand moes die huis oopsluit terwyl haar werkgewer op vakansie was maar dit het nie gebeur nie. Sy is nou oppad terug. So dankbaar vir ‘n geleentheid.  Dit kos my niks.

Hoe gemaak egter as jy hoor van al die slegte dinge wat mense doen? Die antwoord lyk ontoepaslik. Psalm 37.

“ Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is. Woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here…” Nie altyd so maklik nie. Tog dink ek wil die Here ons help om te fokus op dit wat regtig belangrik is.

Daar is ‘n universele soeke na geluk by die meeste mense. Eintlik wil ons almal maar net gelukkig wees. Die probleem is dat die meeste mense dit op ander plekke soek. As ek net meer geld kan kry.., as ek eers getroud is…, as ek net ‘n kind kan hê…, as ek ‘n ander werk kan kry…., as ek in ‘n ander land kan gaan bly….dan sal ek gelukkig wees. Die probleem is dat die een persoon wat saam gaan na die nuwe werk, nuwe land of huwelik…jyself is. Geluk moet daarom van binne kom anders bly dit soos ‘n skoenlapper wat wegvlieg sodra jy by hom uitkom.

Wanneer ek vir my ma ‘n versie soek met haar verjaarsdag en eintlik wonder wat ek haar kan toewens dan ontdek ek opnuut die kosbare vers in Romeine 15:13 . “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul.” Al word ons ouer met plooie en skete kan ons steeds ‘n lewe van vreugde en vrede ervaar wat nie afhang van ons uiterlike nie. Die bron van hoop is God. Dit begin met geloof. Die gevolg is vreugde en vrede.

Ek het ontdek dat ons net met die Here se hulp elke dag sinvol kan maak. Daar is ‘n rede hoekom ons nou in hierdie tye leef.

Doen goed aan ander waar jy kan…

Een dag op ‘n slag. ‘n Sinvolle dag…