Om teatraal ydel te bly of nie (Deel 2)

(Lees gerus Deel 1 – Teatrale ydelheid, oor my voorbereiding vir operasie dag)

In my verbeelding sien ek Dopey van Sneeuwitjie, kompleet met die mussie op die kop en twee bakoortjies wat onder dit uitloer.

Vir wat kon hul nie my teaterkappie oor my ore trek nie? Nou lyk ek soos Dopey.

Dis stillerig in die vertrek met die ligte wat soos vlieënde pierings bo my hang. ‘n Vrou met ‘n teater kopdoek en ‘n alles-bedekkende teater uitrusting (nie so effense dingetjie met drie strikkies agter, soos myne nie), kom beloer my lêer. Sy sê ek moet self my voet merk vir die operasie. Netnou gaan staan en skelpel hul aan die verkeerde voet.

***

Droomland wink nog soos ‘n slegte gewoonte, maar wakkerland roep my aanhoudend en kliphard. “Mevrou van Tonder, mevrou van Tonder…” Uiteindelik besef ek dis ‘n regte mens wat my roep en nie iemand in droomland nie.

Dan val dit my by. Ek is terug uit die niks van operasieland. Ek beweeg my linkervoet en voel ‘n dowwerige pyn. Iemand swaai my arm soos ‘n lappop s’n, van onder die komberse uit. Vertel my hy neem net gou my bloeddruk. Hoe ek daar uit sien, hinder my geensins op hierdie stadium nie.

Met die regop kom, besef ek dat al my gesukkel om die teaterrokkie in strikkies agter my rug gebind te kry, totaal oorbodig was. Dit hang om my skouers soos ‘n wye katoen onderrok uit die middeleeue.

Daar het ek dit nou: Operasies is gelykmakers. Net so. Kaboem! Gelyk gemaak met alle operasie gangers. Maak nie saak of jy grimering aan het of ge-gel-de naels nie. Op die operasietafel word daar geopereer, nie gekyk hoe netjies jou wenkbroue lyk en of jy jou voete gewas is nie. Wel, dit help seker ‘n bietjie as jy darem skoon is…

Na ‘n paar na-operasionele ondersoeke, word ek vry verklaar om huis toe te gaan. Steeds bietjie onder die invloed van narkose en pynmedikasie, bekyk ek myself slapogig in die spieël. Van my grimering was daar min oor. Net donker kringe onder my oë en my kragte was te pap om my wenkbroue te ondersoek.

Op die ou einde het al my pre-oparasie getittewyt nie saakgemaak nie. Wat het ek verwag? Dat die dokter sou sê: “Sjoe, maar jou bo lip is mooi glad en kyk net daardie netjiese wenkbroue.”

Niemand sal my in elk geval ooit weer herken as gevolg van daardie Dopey teaterkappie wat my ore so bak laat staan het nie.

My ydelheid was dalk bietjie oorbodig – behalwe vir die 100% katoen pêntie, natuurlik!

Maar, dis hoe baie van ons is – trots op hoe ons lyk. Om mooi te wil lyk is nie verkeerd nie. Dit gaan seker meer oor die redes hoekom ons wil mooi lyk.

Ewenwel, mens het mos die plig teenoor jouself om goed te voel. Erken dit maar. Om goed te lyk laat jou goed voel en om goed te voel, laat jou goed lyk.

Sal ek myself weer so ‘versorg’ voor ‘n operasie? Beslis!

Ek is steeds teatraal ydel.

Party mense kan dit dalk bietjie te ver voer, soos as jy blinkertjies oral oor jou plak. Dan raak jy ‘n nar en dan sal almal jou beslis onthou, met of sonder ‘n Dopey kappie.