Om tot verhaal te kom

Die afgelope ruk was daar seer goeters wat gebeur het in my kringe.  Daar was persoonlike en professionele verlies, onsekerheid, vrees en ‘n stortvloed van gevoelens wat my binneruim onstuimig geskommel en kasty het.

Na ‘n groot stuk trauma lyk dit soos ‘n slagveld in ‘n mens se gemoed. Jou soldaatjies wat gewoonlik netjies in ‘n ry is, is plat geskiet, party bloei, ander is mank, histeries aan die rondhardloop, of verslae en verlam.  In ‘n situasie waar trauma in groepverband gebeur het is daar ‘n kollektiewe en persoonlike pad van skok, verlies, woede, depressie, aanvaarding, hoop, groei en getuig.  Vir party mense gebeur dit gou, sonder veel moeite.  Ander mense moet herhaaldelik deur al bogenoemde gaan – soms deur meer as een gelyktydig.  Voeg daarby werksdruk, ouerskap en doodgewone lewensuitdagings – en die proses raak eenvoudig te veeleisend en dikwels kies mense om dit eers op die ys te sit, heeltemal te ignoreer en te hoop vir die beste.

Daar is ongelukkig nie kortpaaie nie.  Die proses vra tyd, toewyding en begrip vir jouself en bowenal mekaar. Trauma ontwrig en maak veranderings waaroor jy geen beheer het nie, maar genesing bring die beheer terug en die keuses is joune.  Genesing is nie ‘n skielike wonderwerk nie, maar ‘n duisend klein goedjies wat jy moet doen – dis nie vir lui mense nie!

Ek kan net getuig oor wat in my eie lewe werk – en dit is om tot verhaal te kom.  Dis seker vir my een van die mooiste uitdrukkings in Afrikaans. Ek verstaan die waarde van verhale. Midde in die storm het jy nie genoeg taal, begrip, wysheid of feite om wat jy beleef in woorde te kan omsit nie.  Daar is emosies betrokke en moontlike implikasies op jou gesondheid, jou loopbaan, miskien jou huwelik, finansies, selfs regsimplikasies of kinders en ander rolspelers wat geïmpakteer word deur jou reaksie op trauma.

En dan, as die stof letterlik gaan lê, en die lewe sy verloop neem, kom daar ‘n punt waar jy meer as net die opskrif van jou storie kan uiter, maar die verhaal vertel met die begrip wat net kom deur jou tru-spieëltjie. Dan kan jy mense vertrou met jou seer, sonder dat jy uitmekaar val en sonder dat jy emosieloos verwyderd is daarvan.  Hierdie tipe verhale is die soort wat oor die eeue heen meer outoriteit gedra het as enige preek, meer genesing gebring het as enige pil.

My manier van ‘tot verhaal kom’ was nog altyd deur baie en dikwels te praat oor goed, maar praat is nie genoeg nie.  Ek het nou besef dis ook nodig om te luister.  Luister na mekaar, na God, na jou “inner voice” soos Buzz Lightyear in die die nuwe Toy Story geleer het.  Luister met ‘n oop hart en kop na alle kante van ‘n saak.  Luister sonder om te beoordeel of beplan.  Hoor wat iemand se realiteit en waarheid is.  Eers dan kan jy regtig self tot die volledige verhaal kom.

As jy met deernis kan luister, kan jy die verhaal vorm wat uiteindelik jou getuienis is en hoop, genesing en groei bring. Daar is geen beter tyd as die winter, om tyd te maak vir jou binneste en jou groep nie. Ek wil jou uitdaag om ‘n geduldige oor te wees vir iemand wat nog sy grepies werklikhede moet rangskik tot dit sy verhaal word.  En werk aan jou verhaal tot die punt waar jy dit kan oordra of neerpen sodat dit versoening, vergifnis, vrede en liefde kan voortbring.