Onnodige uitgawes

0
38

Baie mense verwar behoeftes met begeertes. Ons koop omdat ons iets wil hê, nie omdat ons dit nodig het nie.

Baie mense verwar behoeftes met begeertes. Ons koop omdat ons iets wil hê, nie omdat ons dit nodig het nie.

Om elke maand minder geld uit te gee, beteken jy sal by die begin moet begin. Jy moet die verskil ken tussen behoeftes en begeertes. Baie van ons maandelikse uitgawes val onder begeertes, bedoelende ons koop dinge wat ons graag wil hê en nie noodwendig dié wat ons nodig het en wat by ons begroting pas nie.

Jy het nie die nuutste model selfoon nodig nie

Om uiteindelik meer geld in jou sak te hê, beteken jy moet mooi gaan kyk na waar jy elke maand geld uitgee – dus jou korttermynuitgawes. Begin heel eerste snoei aan die begeertes en luukshede. As jy na jou maandelikse aftrekkings gaan kyk, is een van die dinge wat waarskynlik hoog op die lys van begeertes lê, daardie liewe selfoon.

Vyftien, twintig jaar gelede het selfone nie bestaan nie, so, ons het nie daardie uitgawe gehad nie. Ons het ook nie so ’n groot verhoging in ons inkomste gekry nie. Wat ons toe gedoen het om die selfoon te akkommodeer, was om ander dinge te gaan minder maak sodat ons dit kon bekostig om so baie te bel of data te gebruik.

Ek is byvoorbeeld ’n groot aanhanger van Apple-produkte, maar ek het nie die nuutste model in die reeks nodig nie. Jy sal ten minste R12 500 moet betaal vir die nuwe model as jy dit gaan koop.
Om te glo dat jy die foon verniet kry as jy ’n pakket uitneem, is doodgewoon nie waar nie. Jy betaal beslis ’n premie daarvoor.

Bespreek vir #EkwilEkkanEksal 2018 (Wouter Snyman, Jannie Putter, Lynette Beer en ander) op Saterdag 17 Februarie 2018, Pretoria.

Oorweeg ander opsies vir TV-kanale en fiks bly

Nog ’n plek waar jy kan begin spaar, is satelliet- TV-pakkette. Benut jy regtig al daardie kanale? As jy eerlik is, weet jy jy gebruik ’n groot persentasie daarvan glad nie. Gaan kies liewer alternatiewe pakkette wat baie goedkoper is, maar dieselfde waarde bied. Die gedagte dat jy meer kanale wil hê maar jy kyk nie daarna nie, is een van daardie begeertes waarvan jy vinnig ontslae kan raak.

’n Gim-lidmaatskapkontrak is nog iets wat aan jou beursie knaag as dit nie gebruik word nie. Dit kos jou moontlik tussen R300 en R400 per maand, wat nie sinvol bestee word nie. Die oomblik wanneer jy die konteks verstaan dat R100 ’n maand teen 10% saamgestelde rente, oor 40 jaar, ’n miljoen rand by jou aftrede kan voeg, sal jy anders kyk na die oop kraantjies in jou begroting.

Daardie R400 ledegeld wat jy elke maand betaal, maar nie ten volle benut nie, word ’n aardige bedrag as jy na die groter prentjie en oor ’n lang tydperk daarna kyk. As jy wel daarvan gebruik maak, is dit natuurlik ’n ander saak.

As jy dit nie gebruik nie, kanselleer dit eenvoudig. Kies dan iets anders in die plek daarvan:
Begin stap, trap fiets of oefen met gewigte by die huis. Daar is baie maniere om fiks te bly wat boonop heeltemal gratis is.

Hersien gereeld jou versekering

Raak vandag nog ontslae van die begeerte-uitgawes in jou begroting. Te veel van ons raak gewoond aan die aftrekking elke maand en besef nie dat ons op daardie gebied kan spaar nie. Dis ’n uitdaging, maar gaan sit en bestudeer weer ’n slag jou begroting. Identifiseer al die plekke waar jy moontlik kan besnoei.

Ek beveel ook altyd aan dat kliënte gereeld hulle versekering hersien. Dit sluit jou korttermynen langtermynversekering in. Pas jou premie elke jaar aan volgens die waarde van jou motor. En kry ’n paar kwotasies om te vergelyk. Dis ’n baie kompeterende bedryf, skenk daarom aandag aan jou maandelikse betalings en jy sal vir seker ’n paar rand kan spaar.

Dis belangrik dat jy die koste van jou skuld sal verstaan. Gaan kyk na die aardige bedrae wat jy aan rente op jou skuld betaal. Draai jou sente om, want as jy na die groter prentjie kyk, tel elke sent.